Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Honde-troos in grendeltyd
Die mak dassie ry nou al taxi op die worshond Dumbo se rug in die erf van Frik en Issie Roelofse in Aliwal-Noord.Foto: Issie Roelofse

’n Troosbrakkie so groot soos ’n vet sprinkaan wat ’n familie bystaan nadat hulle van die Kaap na Pretoria moes reis vir die oupa se begrafnis in grendeltyd.

’n Dassie wat op ’n worshond taxi ry. En ’n steekbaard wat tot groot vermaak van haar mense televisie kyk totdat sy omkap.

Dit is van die viervoetiges wat troos, vermaak en op ’n manier sommer sielkundige speel in die staat van inperking en so help dat die mense nie kop verloor nie.

Roxy pas in ’n melkbeker, maar is die Lourens-gesin van die Strand se troosbrakkie. Hulle het haar gekry ná ma Engela se pa, Joos Venter, se begrafnis in Pretoria. Hier wys Dwayne Lourens hoe groot Roxy is waar sy ’n bietjie bene gerek het by ’n vulstasie in Bloemfontein op pad terug na die Kaap. Foto: Charles Smith

Roxy, die chihuahua-bokkiebrakkie-kruising, sal maklik in ’n melkbeker pas, maar op ’n manier is dié hondjie van vyf weke die simbool van honde se rol in grendeltyd.

Die Lourens-gesin van die Strand moes ’n spesiale permit kry om die week die begrafnis van ma Engela se pa, Joos Venter, in Pretoria by te woon.

“Sy is ons trooshondjie, ja. Ons het haar Donderdag gekry en sy vergesel ons van Pretoria na die Kaap. Ons vorige hond is vergiftig en sy help ons ook om die verlies te oorkom,” het Dwayne Lourens gesê waar die gesin Roxy haar beentjies in Bloemfontein laat rek het.

Bubbles en Sheba, twee Bloemfonteinse weggooibrakke wat nou in Kaapstad woon, geniet hul daaglikse stappie in die mooie Kaap.Foto: Verskaf

’n Mak dassie het weer ’n regte hondelewe saam met die brakke in Aliwal-Noord. As hy nie saam met Tessa, die rottweiler, pille vreet en in sy hok teen haar slaap nie, gebruik hy die worshond Dumbo as taxi.

“Dis ’n onhebbelike klein diertjie. Eers maak Dassie tjommies met Tessa en toe ek gister die agterdeur oopmaak, sit hy lekker op Dumbo se rug. Hy speel en byt die worshond aan die ore. Die dassie is vir jou oorlams hoor!” sê Issie Roelofse.

Toffie, ’n steekbaard-terriër van Bloemfontein, is ’n optelhond wat haar tweede kans in die lewe gebruik om haar mense te vermaak en groot plesier te verskaf. Sy kyk televisie soos ’n mens.

Toffie stap soggens totdat hy flou is en kyk saans televisie totdat hy omkap. Foto: Elsabe de Jager
Toffie kyk nie net televisie nie, maar is mal daaroor om na foto's op ’n skootrekenaar te kyk. Foto: Elsabe de Jager
Toffie, ’n eertydse weggooibrak, sit lekker agteroor ná sy stappie in Bloemfontein. Saans kyk hy televisie totdat hy omkap. Foto: Elsabe de Jager

“Ek noem Toffie ons pad-prinses. Sy is twee jaar gelede in ’n erg verwaarloosde toestand letterlik langs die pad opgetel. Brandmaer, en kon dit glad nie regkry om op gras te loop nie,” vertel Elsabe de Jager.

“Sy was bedoel om ons s’n te wees, en ons kon haar aanneem by die dierewelsynsgroep Paws. En wat ’n persoonlikheid! Haar gunsteling-tydverdryf is om televisie te kyk. Sy sit letterlik saans om 18:00 en wag dat ek die televisie moet aanskakel.”

Petro Maartens van Bloemfontein vertel hoe die weggooihonde Bubbles en Sheba, wat nou by haar dogter Laureen in Kaapstad woon, hul lewe daar geniet en die mense s’n verryk.

Bubbles, ’n eertydse weggooibrak van Bloemfontein, het nou ’n koninklike lewe in die Kaap. Hier tuur sy oor die see saam met haar eienaar, Laureen Maartens.Foto: Verskaf

Sy sê Bubbles is in Bloemfontein agtergelaat toe sy eienaars verhuis het. Sheba is uit baie slegte omstandighede verwyder en is aangeneem. “Bubbles is vinnig, bedrywig en ’n jagter by uitstek. Sheba het skaaphond-instink, probeer diere aankeer en is vreeslik lief vir katte. Sy groet jou met ’n groot glimlag.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Troeteldiere  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.