Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Hoofmeisie se boodskap tref diep

Lig jou ken en ken jou Lig.

Magé Troskie, hoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje (OMS) in Bloemfontein, se boodskap aan die skool se gr. 8's is 'n internetsensasie.

Magé was verlede Vrydag aan die woord op die skool se nuwelingsgeleentheid om die gr. 8-leerlinge te verwelkom.

Sy het verder gesê: “Lig jou oë van die grond af op en wees hier. Die Here sê stop, vat ’n oomblik en haal asem, Ek is met jou. Ek gaan nêrens heen nie. Ek het jou lief.

“Waardeer die sterre en die wolke wat al jou drome dra. Lig jou ken en sien die mense rondom jou. Sien die nuwe dag en as jy gister geval het, staan jy vandag op met nuwe moed en nuwe krag, en daai pragtige blinkbek glimlag.”

Haar gevleuelde woorde is in ’n video op Facebook gedeel en het soos ’n veldbrand versprei.

Sowat 6 000 mense het die “like”-knoppie by die oorspronklike video geklik en meer as 8 000 het die video ook op hul Facebook-profiele gedeel.

Magé Troskie (regs), hoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje, by Ami Ackerman, haar gr. 8-plankie.

Die boodskap het selfs die landsgrense oorgesteek en mense so ver as Australië bereik.

Om die toespraak te skryf was vir Magé nie ’n eenvoudige taak nie en die regte woorde het haar selfs die aand voor die tyd nog ontgaan.

“Ek het later met my hande in my hare gesit en gedink wat gaan ek sê, en toe ek opkyk en my ken lig, toe kom die boodskap.”

Sy is uit die veld geslaan oor die reaksie op sosiale media. “Ek het gedink ek lewer net ’n toespraak vir die skool en toe was dit vir soveel meer bedoel.

“Toe ek dit sien, toe weet ek hoekom ek daardie spesifieke boodskap gekry het om oor te dra. Dis crazy, maar ek is baie, baie dankbaar,” sê sy effe verleë.

Ruan Bruwer, bemarkingsbestuurder van die skool, het Magé­ se video aanvanklik op Facebook geplaas.

Hy sê dit is vir Magé belangrik om ’n impak op die leerlinge te maak en dat sy reeds baie geliefd in die skool is. “Sy maak ons almal baie trots.”

Magé kom oorspronklik van Somerset-Oos in die Oos-Kaap en is sedert gr. 8 in die OMS.

Van die Facebook-kommentaar op Troskie se toespraak:

Bettie Potgieter

Hierdie ou eend wat al in 1956 gematrikuleer het, voel weer die eende bloed in my are bruis toe ek na jou toespraak geluister het. Bravo!! Doen so voort.

Anita Conradie

Lig jou ken en ken jou lig!

Wow, hierdie is een toespraak wat so baie betekenis het. Ek glo dat elke gr. 8-leerder in hierdie skool ongelooflik geseënd is om so ’n boodskap te ontvang van hierdie hoofmeisie. Ek is geraak deur hierdie boodskap. Ek glo nog meer as dit gekyk.

Van nou af sal ek ook hierdie boodskap in my hart dra. Dis besonders.

Henning Gericke

Lig jou ken . . . ken jou Lig. Sal dit onthou om ook ander te inspireer. Dankie daarvoor Magè.

Elrico Kotze

Wow! Terwyl ek nou na die video gekyk het, het ek hoendervleis gekry, elke haar op my liggaam het regop gestaan! Geen wonder jy is hoofdogter nie. Baie dankie vir daardie boodskap. Ek sal verseker dit vir my twee seuns wat nou in graad 1 en 3 is, oor-en-oor speel. Ek weet hulle sal deur dit inspirasie ontvang. Voorspoed vir jou jong dame!

Grace Dippenaar

Wow! Lanklaas so ’n ongelooflike positiewe en inspirerende toespraak gehoor! Maak my as opvoeder weer opnuut trots op die jeug van Suid-Afrika! Mag ons lig vir ewig skyn!

Louiza Coetzee

Ons hoor jou selfs hier in Australië. Ongelooflik. Besonders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.