Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Hoop. Liefde. Moed... in 'n tyd van Corona

Dr. Elma de Vries aan diens in die veldhospitaal.
Dr. Elma de Vries vertel aan Maryke Roberts wat dit verg om ’n veldhospitaal op te rig en te bedryf.

Ná ’n jaar wat sy nou al met die Covid-19-virus gekonfronteer word, en waar sy die afgelope maand by ’n veldhospitaal werk, bly dr. Elma De Vries moedig.

Dis uiteraard sleg wanneer mense sterf, maar daar is ook mense wat gesond daar uitstap, sê sy. “Ons is bly oor almal wat beter word en nie meer suurstof nodig het nie.”

Die lewe is kort, wees sag met mekaar. Verlies gebeur so gou.

Maar dié kliniese bestuurder van die Mitchells Plain-Hospitaal van Hoop, een van twee soortgelyke hospitale in die Kaapstad-metropool, vertel een van haar grootste frustrasies is dat tot soveel as 30% van Covid-19-toetse ’n vals negatief kan wees en dat mense dit moeilik verstaan. “Daar is pasiënte in ons hospitale wat na aanleiding van ’n kliniese evaluasie deur ’n internis beslis Covid-19 het en die X-strale wys Covid-19, maar die toets is negatief. Dis dan moeilik vir die familie om te aanvaar dat dit ’n Covid-19-sterfte is, met Covid-19-reëls vir die begrafnis, sonder ’n positiewe laboratorium-uitslag.”

En hoewel dit moeilik is om haar span gemotiveerd te hou te midde van al die sterftes, sê sy: “Min van die sterftes is onverwags, daar is dikwels tyd om emosioneel voor te berei. Wanneer ons merk dat iemand agteruitgaan en ons kan dit nie keer nie, word die familie gekontak en palliatiewe behandeling toegepas. Palliatiewe sorg is ’n noodsaaklike aspek in ’n Covid-19-hospitaal. (Dis) om mense te help om met waardigheid te sterf.”

Elma op die toneel toe die suurstoftenks opgerig en geïnstalleer is.
’n Hospitaal wat verrys

Die veldhospitaal ter sprake is binne nege dae by die Lentegeur- psigiatriese hospitaal ingerig in die Aquarius-sale wat voorheen vir rehabilitasie gebruik is.

Daar’s 200 beddens en die eerste pasiënt is op 1 Januarie ingewag.

Hier was alreeds 180 beddens in die vier sale. Die grootste aanpassings aan die bestaande infrastruktuur was die suurstofpunte by elke bed, twee groot suurstoftenks van onderskeidelik 6,3 ton en 2,4 ton buite, asook ruimtes vir die personeel om beskermende klere aan en uit te trek.

Die hospitaal se fasiliteitbestuurder is Fatima Peters. Sy is oorkoepelend verantwoordelik vir alles.

Elma, ’n dosent aan die Universiteit van Kaapstad en ’n senior gesinsdokter by die Heideveld-gemeenskapsentrum, rapporteer as kliniese bestuurder aan haar.

Dis nie ’n pos waarvoor sy aansoek gedoen het nie. “Ek het dit nie gekies nie, dit het my gekies. Me. Peters het my op 17 Desember gekontak met die versoek . . . ek het vrede gehad daaroor dat dit is wat in hierdie oomblik van my vereis word . . .”

Vir die volgende drie maande is dit haar voltydse werk, terwyl ’n ander dokter vir haar instaan by die gemeenskapsentrum. “Gelukkig begin die mediese studente eers later, so my universiteitsverpligtinge is nie nou so baie nie.”

Dit was ook geen maklike taak om die sowat 170 ander personeel aan te stel nie. Dit sluit verpleegsters, dokters, fisioterapeute, maatskaplike werkers, ’n dieetkundige, skoonmakers, portiere en versorgers in. Die meeste personeel is kontrak-aanstellings, sê Elma.

’n Paar permanente aanstellings in die gesondheidsdepartement is gesekondeer daarheen. Daar’s ’n vrywillige dokter wat voorheen by die Thusong-veldhospitaal in Khayelitsha gehelp het, wat sy dienste gratis aanbied. Van die ander is dokters wat einde Desember hul gemeenskapsdiensjaar voltooi het.

“Dit is ’n uitdaging om genoeg verpleegpersoneel te vind. Gelukkig is daar gesondheidswerkers wat vryskut werk en op kort kennisgewing beskikbaar is.”

Dit is ook gelukkig dat die “Hospitaal van Hoop” in Brackengate, Kuilsrivier, reeds ingerig was en Elma hul inventaris-lyste kon gebruik om die bestellings te vergemaklik.

Elma vertel dis steeds ’n uitdaging om al die stelsels agtermekaar te kry en daarom is eers net 100 beddens in gebruik geneem. Op 18 Januarie sal die volgende 50 beddens beskikbaar gestel word. Op 6 Januarie het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, in ’n verklaring gesê omdat geen besoekers by die hospitaal toegelaat word nie is Wi-Fi geïnstalleer sodat pasiënte met geliefdes kan kommunikeer.

Saam met haar kollegas, vir wie Elma net lofwoorde het.
In die sale

Al het sy nog net vier weke in die hospitaal deurgebring, het Elma reeds baie ervarings om te deel.

Oomblikke wat uitstaan is dag een “toe die eerste pasiënt deur die ambulans afgelaai word en ons besef dat met al die beplanning en harde werk het ons dit wel reggekry (om ’n veldhospitaal te vestig).”

Elma erken ook sy het aanvanklik gewonder hoe Covid-19 dan nou soveel anders as griep kan wees. Dis eenvoudig omdat dit aansteekliker is en meer mense hospitalisasie nodig het, verstaan sy nou.

Sy sê dit is steeds meestal ouer mense wat in hul sorg beland. “Ons sien wel jonger pasiënte in hulle 40’s, maar hulle is gewoonlik erg oorgewig.”

Oor pasiënte se laaste ure sê sy: “Elke persoon se reis teen die einde lyk anders. Dikwels is daar erge kortasemheid en verwardheid. Ons gebruik morfien om te help om die persoon te kalmeer as deel van die palliatiewe sorg. Dit vorm deel van die omvattende sorgplan (holistiese sorg wat persoon-gesentreerd is) wat deur die multidissiplinêre span verskaf word. Die pasiënt se familie word deurgaans op hoogte gehou van die kliniese verloop van die pasiënt se toestand.”

Elma vertel sommige pasiënte is so goed ingelig dat hulle in die oggend self kan rapporteer wat die vlakke van hul bloedsuiker en suurstofkonsentrasie is.

Sy verduidelik dat die behandeling vir Covid-19 hoofsaaklik ondersteunend is. Iemand wat sukkel om genoeg suurstof in die bloed te handhaaf as gevolg van Covid-19-verwante longontsteking, ten spyte van behandeling met ’n suurstofmasker, het soms meganiese ventilasie nodig. Dit gebeur in ’n hoësorgeenheid. In gewone sale word suurstof met ’n pypie in die neus of met ’n masker toegedien.

Die mens

Elma was nog altyd ’n dokter wat ’n rol wou speel in die kwesbaarste gemeenskappe. Sy was voorheen by Dokters Sonder Grense en die Rural Doctors Association of Southern Africa (RuDASA) betrokke.

Hier het sy haar onder meer beywer vir die beskikbaarstelling van antiretrovirale behandeling vir MIV/vigs.

Dis juis dié ander gebeurtenis wat net so ’n indruk as Covid-19 op haar gemaak het. “Die jare van MIV/vigs voor antiretrovirale middels was bitter swaar. Om jong mense in die fleur van hul lewens te sien wegkwyn en magteloos te wees teen die verwoesting van ’n virus . . .”

Wanneer sy ná haar skof huis toe gaan, is dit na haar man, die skrywer Izak de Vries, en twee kinders Jabu (18), matriek, en dogter Mashi (22), wat eersdaags haar eerste onderwyspos gaan opneem.

“Hulle is gelukkig geduldig met my. My man is ’n goeie kok, en dis so lekker om by die huis te kom en aan te sit vir ’n geurige maaltyd.”

Elma sê as sy een boodskap vir lesers het sal dit wees: “Die lewe is kort, wees sag met mekaar. Verlies gebeur so gou.”

Meer oor:  Veldhospitaal  |  Covid-19  |  Dokter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.