Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Hou kontak met kleines

Duisende Suid-Afrikaners emigreer jaarliks en ál meer grootouers bly in die land agter. Só kan jy die band met jou kleinkinders behou, skryf Delia du Toit.

Dis nie altyd maklik nie, maar jy kan tegnologie slim inspan om ’n verhouding met jou kleinkinders oorsee te bou.

In 2017 het sowat 900 000 geleerde Suid-Afrikaners reeds, volgens die Verenigde Nasies, oorsee gewoon en gewerk.

Boonop emigreer nagenoeg 25 000 geleerde Suid-Afrikaners jaarliks, raam die immigrasie-konsultasiefirma Sable International.

Vir baie van dié Suid-Afrikaners was daar beter geleenthede oorsee, maar dis natuurlik nie ’n maklike besluit nie – veral wanneer dit beteken jy sien jou familie wat agterbly voorts baie min, en jou kinders word sonder hul ouma en oupa groot.

En vir grootouers wat agterbly, is hul kinders se besluit gewoonlik ’n groot en moeilike aanpassing.

“Dis eintlik ’n rouproses sonder end,” sê dr. Sulette Ferreira, ’n familieterapeut van Pretoria wat navorsing doen oor die uitwerking van emigrasie op ouers en grootouers wat agterbly.

“Vir sommige ouers verwek dit baie van dieselfde emosies as die dood van ’n kind, al is dit glad nie dieselfde nie. Sommige sukkel ná die tyd met depressie of hul fisieke gesondheid gaan agteruit. Vir dié mense verteenwoordig die emigrasie, en die verlies aan fisieke kontak met hul kinders en kleinkinders, ’n verlies aan betekenis in hul lewens.”

Anders vir almal

Daar is verskeie faktore wat ’n rol speel in hoe mense die verlies verwerk, sê Sulette. “Geld speel ’n baie groot rol. Vir die ouma wat twee keer per jaar vir haar kinders en kleinkinders oorsee kan gaan kuier, of wie se kinders nog gereeld hier kan kom kuier, lyk die verwerkingsproses baie anders as vir die ouma wat weet sy gaan haar kinders eers weer oor vyf jaar kan sien.”

Vir Rina Lottering van Johannesburg is dít die geval. Haar pensioen laat haar nie toe om gereeld vir haar dogter, skoonseun en kleindogter, wat in 2018 na Australië geëmigreer het, te gaan kuier nie.

“My dogter en haar man is albei ook baie besig, so hul skedules laat hulle ook nie toe om gereeld hier te kom kuier nie. Hulle was nog net een keer terug vandat hulle oorsee is. Ons praat gelukkig elke naweek, maar niks kom naby daaraan om jou kind en kleinkind ’n drukkie te kan gee nie.”

Die verwerkingsproses is anders vir iemand wat hul kleinkinders hier leer ken het voor die emigrasie as vir iemand wie se kleinkinders oorsee gebore is, sê Sulette. “Die wie se kleinkinders hier gebore is, sukkel meer met die verlies omdat hulle die kinders kon leer ken en lief geword het vir hulle.

“Maar die wie se kleinkinders oorsee gebore is, het weer ander uitdagings, want hoe bou jy ’n band met ’n kind wat jy nooit kan vashou nie?”

Jy kan dus nie sê een mens se verlies is erger as ’n ander nie, benadruk sy. “Dis verskillend vir almal. Elke verlies en verwerkingsproses word bepaal deur die familie se dinamika en omstandighede.”

Kuier speel-speel

Kaart- en bordspeletjies op die internet is ’n lekker manier om saam gehalte-tyd deur te bring as ouma en oupa en die kleinkinders op verskillende vastelande is.

Enige gesellige speletjie – veral spanspeletjies – sal deug. Onthou die hoofdoelwit is om ’n verskoning te kry om behoorlik te kuier.

’n Mens kan deesdae baie kaart- en bordspeletjies gratis aanlyn speel.

Gaan soos volg te werk om byvoorbeeld die kaartspel brug aanlyn te speel:

  • Skep vir elke lid van die gesin ’n gratis profiel op ’n webwerf soos BridgeBase.com en sorg dat elkeen ’n elektroniese toestel het om mee te speel. Dit kan ’n selfoon, tablet of ’n rekenaar wees.
  • Gebruik ’n ander toestel om die grootouers in Suid-Afrika in klank- en videoverbinding met die kleinkinders oorsee te plaas. Skype, WhatsApp of FaceTime sal werk.
  • Skep dan ’n virtuele brugtafel op BridgeBase en julle is reg om te begin speel. Oupa in Suid-Afrika en Jannie in Australië kan byvoorbeeld vir Ouma en sus Sannie die stryd aansê.

Uitkyk is alles

Tog, sê Sulette, is daar een enkele ding wat bepaal hoe goed jy dit verwerk, ongeag die omstandighede: Jou uitkyk.

“Sommige mense verwerk dit beter omdat hulle fokus op die positiewe. Oupas kry dit in die algemeen makliker reg omdat hulle meer prakties as emosioneel daarna kyk. Hulle sal sê dit was die regte besluit en hulle is bly hul kinders het beter geleenthede. Maar oumas is gewoonlik meer betrokke by die kinders en kleinkinders se lewens, so dis vir hulle ’n meer emosionele proses.”

Jou uitkyk bepaal hoe goed jy dit verwerk.

Onthou, sê sy, jou rol as oupa of ouma kan nooit weggeneem word nie, al is die kleinkinders nie naby nie. “Vind berusting daarin. Jy is nog steeds ouma of oupa en sal altyd wees. Daardie betekeniswaarde verdwyn nie; dit lyk net prakties anders. Jou lewe stop ook nie. Jy kan daardie gaping met soveel nuwe dinge vol maak, en deel bly van jou kinders en kleinkinders se lewens. As jy kan gaan kuier, doen dit, maar dis ook nie al wat ’n verhouding maak nie. Positiwiteit is so belangrik. Aanvaar dat die situasie. Jy kan dit nie verander nie; al wat jy kan verander, is jou gesindheid.”

Onthou, sê sy verder, die rol van ’n ouma of oupa is anders as die van ’n ma of pa. Grootouers gee emosionele ondersteuning en aanmoediging; hulle is meer ’n vriend as ’n gesagsfiguur. Jy het nie nodig om die kind te versorg nie. “Grootouers het, in die meeste gevalle, minder tot niks van die verantwoordelikheid en al die lekkerte. En dis iets wat jy steeds kan kry as jou kleinkind ver is. Julle kan teepartytjies oor Skype hou en jy kan saans oor die foon vir hulle stories lees of vertel, julle kan geskenkies in die pos stuur.”

Marina du Toit van Kaapstad sê dis presies wat sy doen, en dit help om die band tussen haar en haar kleinkinders in Kanada lewend te hou – al sien sy hulle net elke tweede jaar.

“Ek sal byvoorbeeld elke jaar nog steeds Kerskoekies bak vir my kleinkinders, nou stuur ek dit vir hulle en hul ma neem ’n video wanneer hulle dit oopmaak. Ek het selfs emoji-taal geleer om met hulle op Whats­App te gesels, want hulle is 11 en 13 en dis mos hoe die kinders praat. Ek stuur ’n hartjie-emoji, en hulle stuur ’n soentjie-gesiggie terug. Dis ons weergawe van drukkies.”

Maak dit werk

Sulette sê Marina se benadering tot tegnologie is baie belangrik om die band oor ’n afstand te behou.

“Leer hoe werk FaceTime, WhatsApp en Skype, en skep vir jouself ’n rekening op Facebook of Instagram sodat jy jou kinders se lewens daar kan volg. Tegnologie is so ’n wonderlike hulpmiddel. Doen van jou kant af moeite en moenie net terugsit en wag dat jou kinders jou bel nie – dis duur om te bel en tydsones verskil. Aanlyn platforms is gratis en jy kan enige tyd ’n boodskap los wat jou kind die volgende oggend kan kry as dit laatnag by hulle is – dan hoef jy nie te wag vir ’n tyd wat vir almal geleë is nie.”

Jy moet kreatief begin raak om maniere te vind om betrokke te bly. “Kry ’n spesiale liedjie wat net jy vir jou kleinkinders sing en bel soms op FaceTime saans as hulle bed toe gaan sodat jy dit vir hulle kan sing. Dit sal vir hulle iets word om na uit te sien.

“Jy kan jou kleindogter leer hoe om koekies te bak nes jy haar ma geleer het. Vra vir ma om die bestanddele te koop, en kry vir jou ook, en maak dan ’n afspraak om oor Skype of FaceTime koekies te bak.”

As die verlange swaar raak, onthou jy’s nie alleen nie, voeg sy by. “Reik uit na ander mense wie se kinders en kleinkinders oorsee is. Nooi die ouma wat alleen is vir Kersfees oor vir ete. Gesels oor jul verlange na die kinders en deel ook slim maniere om kontak te behou. En onthou, jou kinders en kleinkinders mis jou ook net soveel!”

Maak seker jy het belangstellings buite jou kinders om aktief en besig te bly, sê sy. “Dit geld natuurlik vir almal, selfs al woon jou kinders in Suid-Afrika!”


    Meer oor:  Kleinkinders  |  Grootouers  |  Emigreer  |  Familie Bande  |  Kinders
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.