Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Hougaard ‘boks teen depressie, PTSV’
Francois van Coke by ’n voertuig wat die boksgeveg adverteer. Foto: Facebook
Derick Hougaard wys sy spiere. Foto: Facebook

In aanloop tot sy boksgeveg met die rocker Francois van Coke (40) het die oud-Springbok Derick Hougaard (38) gesê “depressie en posttraumatiese stresversteuring (PTSV) sal hom nie definieer nie” en hy wil mense inspireer.

Hougaard het Sondag gesê hy gaan opstaan en Van Coke in die kryt aanvat ten spyte van sy “grootste kritici, wat in hul hart wil hê hy moet faal”.

Die twee pak mekaar op 29 Mei by Sun International se Time Square-casino-kompleks in Pretoria nadat hulle mekaar op sosiale media uitgedaag het.

Albei is sedertdien straf aan die oefen en berei voor vir die groot dag, wat aanlyn uitgesaai gaan word en ook te sien sal wees by sekere Nu Metro-rolprentteaters landwyd.

Hougaard sê dat boks nie deel van sy plan was nie. “Was dit deel van my planne? Nee,” sê Hougaard.

“Maar wil ek in berou en smart lewe? Glad nie. As dit beteken ek moet boks om myself daaruit te kry, is dit my pad en sal ek dit doen. Want deur jou vrese in die gesig te staar sal dit jou vrymaak,” skryf hy op Facebook.

“Daar is een ding van ’n man wat jy nie kan meet nie, en dit is die grootte van sy hart. Wees die een wat met sy kop omhoog staan terwyl die ander staan en skinder. Ek weet wie ek eerder sou wou wees.”

Hougaard het te kenne gegee dat hy die boksgeveg as ’n terugkoms sien. “Jy kan ’n persoon breek, maar jy sal nooit verander wie hy is nie. Hy moet homself net weer vind. Terugkoms is nie net vir sekere mense nie, dit is in ons almal.”

Derick Hougaard met sy bokshandskoene. Foto: Facebook

Hy het in Maart by ’n mediageleentheid gesê hy het die afgelope twee jaar niks geoefen nie. Hy volg nou ’n spesiale dieet om gewig te verloor voor die geveg en hy het op sosiale media gesê hy kry bokslesse.

“Ek sal in die kryt inklim en boks, want dit maak my bang. Dis buite my gemaksone. Hierdie gat wat hulle depressie en PTSV noem, sal my nie definieer nie.

“Ek wil hoop bring in hierdie moeilike tye. Mense verloor hul geloof, hul huis, hul werk. Gesinne breek uitmekaar. Hoop is ’n wonderlike ding. Ek wil inspireer.”

Die twee pak mekaar op 29 Mei om 17:00 in die Sun Arena by die Time Square Casino in Menlyn, Pretoria.

Ondersteuners sal hul gunsteling kan ondersteun in uitgesoekte Nu Metro-rolprentteaters, waar die boksgeveg uitgesaai sal word, of hulle sal dit tuis kan kyk as hulle kaartjies aanlyn teen R150 koop.

Daar is ook kaartjies beskikbaar om die geveg in die Sun Arena te kyk, en dit beloop R2 000.

Hougaard kon Sondag nie vir verdere kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Francois Van Coke  |  Derick Hougaard  |  Ptsd  |  Depressie  |  Boks  |  Bokswedstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.