Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Hulle jaag net stof, dis al

Die Royal Randfontein Stofskop, ’n motorfietsren wat gaan oor die pret van rooi stof om jou kop eerder as wen, het verlede naweek plaasgevind. Jaco Nel was ’n toeskouer.

So lyk die dinge as Stofskop se mense wegspring.
Hy het miskien vlerke op sy rug, maar dit beteken nie die jaer gaan oor die wenstreep vlieg nie. Foto: Elizabeth Sejake
Die ren is nie net vir vinnige motorfietse nie. Foto: Elizabeth Sejake
Die ren is nie net vir vinnige motorfietse nie. Foto: Elizabeth Sejake

Party mense speel gholf, ander ry bergfiets, daar is selfs dié wat teen mure of berge uitklim.

Dan kry jy die spesie wat die Paashaas se spierwit oortjies op hul koppe staanmaak of Captain America se onderbroek aantrek of dalk swart vlerke op hul rug vasmaak, hul motorfiets start en hom dan trap totdat hulle hoes van die stof.

Dis die manne en vroue wat deelneem aan Gauteng se Royal Randfontein Stofskop, ’n motorfietsrit op Randfontein se Oval Raceway.

Jy betaal R350 om in te skryf, maar daar is geen kompetisie nie en daar is geen wenners nie, dis alles net vir die pret. Al wat daar staan is: In dust we trust. Dis al.

Party motorfietsryers daag op met ’n splinternuwe grênd Suzuki Bandit S1200, ’n Kawasaki ZX-10R (genaamd ’n Ninja) of ’n klassieke Harley-Davidson.

Dan kom daar ’n vierde oom met ’n bromponie uit die 1980’s. Hy is duidelik nie daar om te wen nie, maar hy is gereed om die stof te trap soos die logo by die ingang sê.

Ons ontmoet vir Alex Noel (47), ’n vrou met ’n pers rok, ’n blommetjie op haar helm en ’n silwer mantel om haar skouers. Sy kom jaag met ’n bromponie, ’n Lambretta uit die 1990’s. “Hy is glad nie vinnig nie,” sê sy. “Ek is ook glad nie hier om te wen nie, soos daai oom wat ook met ’n scooter jaag, ons twee is hier vir die stof. Ek weet nie eens of hierdie ding gaan start nie, maar ek gaan try . . .

Langsaan staan Dewald Venter (30). Hy ry ’n RV90 en ’n Suzuki FA. “Albei is scooters uit die 1980’s,” sê hy. “Baie mense kom hiernatoe om net met hul goed te kan ronddonner. En as ek klaar is, dan drink ek ’n bier.”

Mercia Jansen sê sy is ’n Black Angel met hierdie vlerke op haar rug. Foto: Elizabeth Sejake
Alex Noel sê sy is nie daar om te wen nie. Sy was aanvanklik selfs bekommerd dat haar bromponie nie eens sal aansluit nie. Foto: Elizabeth Sejake
So lyk die dinge as Stofskop se mense begin om op Randfontein se stof te begin jaag. Foto: Elizabeth Sejake
Dit lyk soos ’n kompetisie, maar niemand jaag in mekaar vas om te wen nie. Foto: Elizabeth Sejake

Adilia Joubert, woordvoerder van die Stofskop, sê dit is al die vierde jaar wat hulle dié rit in Randfontein hou.

“Dit is letterlik net vir lekker ry en vir pret,” sê sy. “Niemand wen ’n prys nie, maar wat die mense hier kom doen is skreeusnaaks. Party mense moet eintlik iets wen, want ek kan nie ophou lag nie. Ek kan nie glo wat mense aantrek voordat hulle op ’n motorfiets klim nie.”

Malcolm Joubert, ’n motorfietsryer van Gauteng, sê die Oval Raceway van Randfontein is een van die bitter min renbane wat nog vir motorfietse in Suid-Afrika bestaan. “Dit is ’n kwartmyl,” sê hy. “Gewoonlik soek Suid-Afrikaners ’n groter ovaal vir so iets. ’n Kwartmyl is baie gewild in Amerika, maar dit is iets wat nie eintlik meer in Suid-Afrika gebruik word nie, want dis te klein vir die kompetisies waaraan ons deelneem. Daarom gebruik ons dit nou net vir pret.”

So lyk die dinge as Stofskop se mense begin om op Randfontein se stof te begin jaag. Foto: Elizabeth Sejake
Hierdie oom het sy bromponie kom jaag net om bietjie die stof te proe.
Skinny van Schalkwyk en Jolandi Mentz sê vroue kan net so goed stof opskop as die mans.
Mercia Jansen en Michele de Kreek noem hulself die Black Angels.
Die stof kleef aan Mercia Jansen nadat sy om die baan gejaag het. Foto: Elizabeth Sejake
Die stof kleef aan Mercia Jansen nadat sy om die baan gejaag het.

Aanvanklik word daar gesê: The first rule of Stofskop is there are no rules!

Dit is maar net ’n grappie wat gaan oor die tipe motorfietse waarmee die mense wil rondry. Die reëls vir veiligheid is eintlik baie streng. Elke motorfiets word deur kenners ondersoek en geïnspekteer. Jy kan nie met jou motorfiets ry as hy nie goedgekeur word nie.

Geen glase en spieëls mag saamgevat word op die pad nie. Jy moet ’n helm, stewels, handskoene, ’n bril vir beskerming, lang moue en lang broekspype dra.

Adilia sê niemand het nog op Stofskop seergekry nie. Daar het al ’n paar ouens gegly en geval, maar niemand het nog in die hospitaal beland nie.

“Niemand kry seer nie, want niemand jaag om te wen nie,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.