Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Huwelik kán owerspel oorleef as albei wil

Kenners is dit eens dat ’n huwelik wél owerspel kan oorleef en dat opregte berou een van die sleutels is om dit te maak werk.

Gretha en Francois Wiid by hul gastehuis La’WiiDa Lodge. Foto: Deaan Vivier/argief

Netwerk24 het twee kundiges gevra of ’n paartjie ná ’n buite-egtelike verhouding kan deurdruk en watter wenke hulle vir sulke mense het.

Anri van den Berg, verhoudings- en huweliksberader by die Vita Nova Beradingsentrum in Pretoria, en Leandie Buys, kliniese seksuoloog en huweliksberader van Port Elizabeth, sê albei ’n huwelik kan “vir seker” bly staan al het een van die partye oor die tou getrap.

Maar Van den Berg meen minder huwelike oorleef só ’n terugslag as dié wat dit wel doen.

“Dit is vir die meeste paartjies ’n uiters moeilike pad na herstel. Vertroue is soos die suurstof wat ons inasem; jy besef nie hoe belangrik dit is tot dit nie meer daar is nie,” sê sy.

Van den Berg sê die enigste manier hoe ’n huwelik ná owerspel kan werk, is as albei partye bereid is om alles in te sit.

“Albei partye in die huwelik het ’n groot verantwoordelikheid om die herstelproses te laat slaag. Vergifnis is nodig, ja, maar absolute, opregte berou ook.

“Een mens alleen gaan na my mening nie daarin slaag om dinge om te keer nie.”

Nog ’n wenk om dié moeilike tydperk in jou huwelik te oorkom, sê sy, is eerlike en openhartige kommunikasie.

Volgens Buys moet albei partye weet dat dit harde werk gaan kos om deur die pyn te kom van verraad.

“Elkeen moet die besluit neem om te werk om die verhouding gesond te kry, want elkeen het gekies om te bly of om te gaan.

“Die kern van die herstelproses is dat die party wat ontrou was, opregte berou moet hê,” sê sy.

“Dié persoon moet verantwoordelikheid neem vir die verraad en nie net se ‘ek is jammer dat ek jou seergemaak het, maar dit sou nie gebeur het as jy dit en dat gedoen het nie’ ”.

En om eerlik te wees beteken om alles te vertel, nie net wat jy dink jou maat wil hoor nie.

Buys sê ook die skuldige party moet absoluut eerlik wees oor die ontrouheid, want anders hou een party ’n geheim in die verhouding wat beteken die verhouding sal nooit gesond word nie.

“Om die nuus oor te dra is moeilik, maar gewoonlik weet ’n lewensmaat dat iets verkeerd is. En om eerlik te wees beteken om alles te vertel, nie net wat jy dink jou maat wil hoor nie. Dit beteken die ander een kry die kans om met al die inligting ’n ingeligte besluit te neem om te bly of om die verhouding te verlaat,” sê hy.

Bekendes wie se huwelik owerspel oorleef het, is Bill en Hilary Clinton, Zola Budd en Mike Pieterse en David en Victoria Beckham.

Net so is daar berig oor ander bekendes wie se huwelike verbrokkel het weens egbreuk. Dink aan Joost van der Westhuizen en Amor Vittone, Tiger Woods en Elin Nordegren en Brad Pitt en Jennifer Aniston.

In die jongste voorval het Rapport Sondag berig Gretha Wiid, skrywer, motiveringspreker en huweliksberader, en haar man, Francois, se paadjies gaan skei nadat hy glo ’n buite-egtelike verhouding gehad het.

Nie Gretha of Francois kon Dinsdag vir kommentaar bereik word nie.

Gretha se skoonsuster, ds. Liesel Krause-Wiid, het Dinsdag per WhatsApp-boodskap laat hoor dat Gretha gevra het dat sy nie met die media praat nie en dat sy haar versoek respekteer.

Volgens Gretha se webtuiste is die beweerde owerspel nie ’n eerste in hul huwelik nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.