Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Rondrits:
In die kol(le)

Luiperdvelmotief het nie altyd ’n goeie reputasie nie. Maar as jy dit reg dra, kan dit oemf gee aan enige klerekas. Daniëlla van Heerden het ’n kenner se raad gevra.

Swart en luiperdvel kan effe vervelig wees, daarom dié dramatiese breërandhoed.

Talle mense beskou dit neusoptrekkerig as die voorkeurpatroon vir dié sonder smaak; ander reken weer slegs diegene wat haute couture dra, kan luiperdvelmotief met sukses dra.

Nie waar nie, sê die ontwerper Marianne Fassler van Leopard Frock. Haar modehuis-handelsnaam is selfs na die patroon vernoem, en hoewel sy bekend is vir haar eklektiese styl en sy self graag modekanse waag, reken sy élke vrou kan die patroon dra.

Dra luiperdvel met helder of edelsteenkleure. Dit lyk veral treffend in die herfs saam met maroen of wynrooi; en ’n steenkleur soldatejas.

“Ek het luiperdvel aan die begin van my loopbaan selfs meer gebruik as nou. Dit het my gelok vanweë die tydlose, eksotiese gevoel daarvan,” verduidelik sy. “Leopard print is net so tydloos soos swart, kolletjies, tartan, kant en bloedrooi. Dit gaan nooit uit die mode nie.

“Dolce & Gabbana gebruik dit permanent en daar is ook altyd ’n leopard print-handsak by Prada beskikbaar. Hulle verstaan hoe verleidelik dit is.”

En “goedkoop” of “kommin” is dit volgens haar allermins.

Die Dolce & Gabbana-rok met ’n luiperdvelmotief wat die Hollywoodster Helen Mirren in 2011 na ’n première gedra het, is vandag nog tydloos. Foto: GettyImages

“In die Petit Trianon by Versailles is daar luiperdvelmotief-volvloermatte. Leopard print is koninklik, eksoties en herinner ons aan verafgeleë eksotiese bestemmings en leefstyle. Kyk na Delacroix, Napoleon en selfs na Chanel se woonstel in Rue Cambon in Parys. Dis letterlik tydloos.”

As jy nog nooit ’n luiperdvel-artikel aangeskaf het nie, sal dit volgens haar wys wees om “klein” te begin.

“Dan kan jy dalk ’n leopard print-skoentjie koop, of ’n -cardigan – ek het altyd een,” sê Marianne. “Hierdie seisoen het ek ook ’n pragtige ligte sylap met die motief gekoop in Indië en ons gaan dit oral gebruik.”

Kikker ’n eenvoudige uitrusting op met enkelstewels oorgetrek met luiperdvelmateriaal. R 629 by H&M. Foto:
Leersandale met ’n tikkie goud. Gia deur Queue, R499 by Spree.co.za.
Hierdie sandale het ’n effense etniese gevoel. Gia deur Queue, R399 by Spree. co.za.
Wees wild en waag met hierdie foppelsjas, R1 199 by H&M.

En hoewel sy self deesdae die patroon nie meer so gereeld dra nie, is nog een artikel vir haar onontbeerlik.

“My aandsakkie is áltyd leopard print.”

Wanneer jy begin soek, hoef jy ook nie vas te kyk teen die “tradisionele” idee van luiperdvelmotief nie.

“Partykeer is dit ook baie lekker speels om ’n helderpienk of geel leopard print-serp te dra,” verduidelik Marianne. “Louis Vuitton en Kenzo doen dit baie goed. Dink aan artikels soos ’n serp, skoen, handsak, leggings, sokkies of selfs ’n syhemp.”

Balletskoene en ’n dun belt met ’n luiperdvelpatroon op, is stapelitems wat jy in jou kas moet hê.
’n Rok in ’n fyner luiperdvelmotief. Witchery, R999 by Woolworths.
Foto:

Sy maan dat jy nie luiperdvelmotief met nét swart moet dra nie, al voel dit dalk soos die ooglopend maklikste opsie.

“Ek dink die motief pas baie beter by kleur soos helderblou of diepgroen; en natuurlik pas dit ook baie goed met ander motiewe soos rose en blomme of tartan.”

Jou ouderdom hoef ook nie te bepaal of jy luiperdvel dra, en selfs hoe jy dit dra nie. Dít het die stylvolle aktrise Helen Mirren al in 2011 bewys toe sy (destyds 65 jaar oud) by ’n première opdaag in ’n D&G-luiperdvel-aandrok met ’n sjiek kort leerbaadjie.

Helen het ook al luiperdvelskoene saam met ’n vroulike blommerok en geel truitjie gedra en soos Marianne bewys jy kan maar patrone en kleure meng.

Marianne reken die grootste modeflater wat jy immers kan maak, is nie die artikel wat jy dra nie. “Nee, die grootste flater is as ’n mens dra wat jy dink jy moet dra, eerder as om jou eie styl te ontdek en dan te dra wat jy wil!”

  • Daniëlla wys jou hoe om die nuutse modes op ’n bekostigbare manier aan te trek op haar Facebook-modeblad Miss Bargainista.
Meer oor:  Seisoen  |  Mode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.