Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Akteur en sy kroos se proe-video's laat mense skater
Tim Theron en sy kinders, Migael en Sophia. Foto: Instagram/ @timtheron

Watter sjokolademelk, springmielies en vla laat jou smaakknoppies juig?

Hiervoor kry die akteur en regisseur Tim Theron antwoorde uit die mond van die suigeling in sy TOETS’IT-video’s op sosiale media.

Die Theron-gesin het onlangs met dié skreeusnaakse reeks video’s begin waarop die kinders, Sophia (5) en Migael (3), die proefkonyne vir allerlei eetgoed is.

Die eerste video van TOETS’IT waarin Sophia en Migael springmielies moes proe. Pa Tim Theron is die aanbieder aan die kombuistafel.Foto: Skermgreep/Instagram
In die derde en jongste video van TOETS’IT proe Sophia en Migael die vla van drie handelsmerke. Pa Tim Theron lei hulle in die proses.Foto: Skermgreep/Instagram

Juanli, Theron se vrou, is agter die selfoonkamera op die kombuistoonbank en hy tussen die tweetjies as aanbieder aan tafel in hul Stellenbosse huis.

Die video’s word onder meer op Theron se Facebook-blad en Instagram-rekening geplaas.

Hy was vroeër vanjaar as kapt. Deon Visagie in die kykNET-dramareeks Projek Dina op die kassie te sien en het ook die rol van die joernalis Jacques Steenkamp in die rolprent Griekwastad vertolk.

Juanli is die hoof van tolkdienste aan die Universiteit Stellenbosch.

Mense wat die jongste aflewering van TOETS’IT kyk, sal nooit weer dieselfde aan vla dink nadat hulle Migael se liefde daarvoor aanskou het nie.

Hierin toets die spruite verskillende handelsname se vla, ook ten aanskoue van Superman en Goldie, hul visse.

“Vanaand is vra nie vry nie, maar vla is vry,” skerts die akteur aan die begin van die video.

“Lag, Pappa het ’n snaakse grappie gemaak,” sê hy oor sy skouer en die kinders se gelag klink op, met Juanli wat ook agter die kamera van haar laat hoor.

In dié video is dit veral Migael wat kykers Sondag hardop sou laat lag.

Want vir Migael is al die vla lekker en hy wil al die vla in al sy bakkies opeet, pleks van om net eers te proe.

Die Theron-egpaar, Tim en Juanli. Foto: Instagram/ @timtheron

In ’n stadium neem Theron ’n bakkie weg om vir hom die volgende een te gee.

Die seuntjie druk voortdurend of sy gesig in ’n bakkie of die bakkie in sy gesig.

“Dis soos om ’n been by ’n hond af te vat,” sê Theron terwyl hy ’n bakkie wegneem.

Sophia gaan ongesteurd met die proses voort – proe die vla, lewer kommentaar en drink tussenin die Oros wat as paletskoonmaker vir hulle uitgesit is.

“Mmm yum, baie lekker,” sê sy met die eerste proe.

Migael was in die vorige video, waarin sjokolademelk geproe word, ook op sy eie stasie.

Hierin sê sy pa hy is “soos ’n student op ’n wynproe”, soos Migael die melk afslurp.

Hierop sê Migael: “Ek is ’n vraat.”

“Nee wat, dis oukei,” sê Theron in reaksie op dié stelling.

En solank dit iets lekkers is, gee hulle nie om wat hulle proe nie, sê Pa.

Theron sê hulle koop gewoonlik nog ’n handelsnaam of twee van produkte wat hulle gewoonlik in hul huis het en waaraan hulle smul.

’n Foto van Juanli Theron agter TOETS’IT se skerms.

As skepper en storieverteller het hy ’n behoefte gehad om te midde van die inperking iets kreatiefs aan te pak, sê hy.

Hy het dié behoefte gekombineer met die behoefte om die kinders besig te hou– om iets vir hulle te gee wat hulle uitdaag en stimuleer.

Migael het ook in dié tyd met mangelontsteking gesukkel.

Theron sê die video’s is net soveel afleiding in dié stresvolle tyd vir sy gesin as vir die kykers.

“Ons as volwassenes ervaar die druk en die stres van die ding wat aangaan. Maar as ons dit reg hanteer en ons absolute bes doen, gaan ons kinders dit heeltemal anders onthou. Hulle gaan hierdie great tyd onthou wat hulle drie of vier maande lank by die huis was en permanent ons aandag gehad het.

Die Theron-gesin. Van links is ma Juanli, Sophia, pa Tim en Migael.

"Dis vir my net so flippen lekker om dit ná die tyd te kyk, want dan sien ek al die gesigsuitdrukkings.”

Die video’s word in een skoot in hul kombuis verfilm met ’n kombers wat die kombuiskaste bedek as agtergrond.

Vir hom is die lekker van die video’s, vermoedelik ook vir sy kykers, dat dit opgeneem word soos dit gebeur.

Die kinders is in die stadium waar hulle leer deel en noudat Sophia ouer word, wil sy by tye haar eie ruimte hê, sê Theron.

“En Migael verstaan nog glad van persoonlike ruimte nie."

Meer oor:  Tim Theron  |  Toets  |  Program  |  Produkte  |  Kos  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.