Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Internet-polisie: ‘Jy’s gekanselleer!’

Bianca Schoombee is deur Twitter-speurders “aangekla” oor twiets van 2013, toe sy 14 jaar oud was.
Die kanselleerkultuur is mense se manier om openbare figure aanspreeklik te hou vir dit wat hulle sê. Kelly Minnie wonder of dit enigsins opbouend is.

Toe twee jong Suid-Afrikaanse vroue vroeër vanjaar besluit het om in te skryf vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, het hulle natuurlik gedroom van roem en geleenthede. Om in te skryf moes elkeen ’n video op sosiale media plaas waarin sy haar aansoek vir die kompetisie aankondig.

Bianca is deur Twitter-speurders “aangekla” weens twiets van 2013, toe sy 14 jaar oud was, waarin sy met swart vroue se liggaamsvorm spot.

Bianca Schoombee en Oneida Cooper se hoop is summier “gekanselleer”, met verwysing na die #CancelCulture-verskynsel, waarin ’n ieder en ’n elk op sosiale media verantwoordbaar gehou word.

Bianca is deur Twitter-speurders “aangekla” weens twiets van 2013, toe sy 14 jaar oud was, waarin sy met swart vroue se liggaamsvorm spot. Binne ’n dag het die hutsmerk #BiancaMustFall deur die plafon gebars. Sy het later verskoning gevra op dié platform, haar rekening gedeaktiveer en ook haar Mej. SA-aansoek teruggetrek.

Een van Bianca Schoombee se twiets.

Sy het steeds haatboodskappe ontvang van “duisende” mense.

Ook haar modelagentskap, Sync Models, het deurgeloop. Eers het hulle haar probeer verdedig, maar nadat ook húlle op sosiale media deurgeloop het, is Bianca se kontrak beëindig.

Oneida, ’n bruin vrou wat vir Mej. SA ingeskryf het, het deurgeloop weens haar voorliefde daarvoor om die woord “niggah” op Twitter te gebruik.

En hulle is maar van die meer onlangse slagoffers van die #CancelCulture-beweging.

Steve Hofmeyr. Foto: Deaan Vivier

Die sanger Steve Hofmeyr is reeds in 2014 gekanselleer, nog voordat hierdie “kultuur” ’n naam gehad het. Sy berugte twiet waarin hy swart mense die “argitekte van apartheid” noem en nog rassistiese uitlatings wat daarna gevolg het, het daartoe gelei dat talle ondernemings hul steun aan hom onttrek het.

Die sanger Steve Hofmeyr is reeds in 2014 gekanselleer, nog voordat hierdie “kultuur” ’n naam gehad het.

Maatskappye soos Land Rover en later ook MTN, Toyota en Media24 het hul borgskappe vir die Afrikaans is Groot-konserte onttrek waarin Steve sou optree. MultiChoice het al sy materiaal van dié platform verwyder en gedreig om die maatskappy se borgskap van die Ghoema-musiekpryse te onttrek indien Steve deel sou wees daarvan.

Wat is dit?

Die laaste paar jaar het internetgebruikers toenemend die “reg” in eie hande geneem om openbare figure aanspreeklik te hou vir dit wat hulle doen en sê.

Volgens dictionary.com is die kanselleerkultuur ’n nuwe tendens waarin mense ’n openbare figuur of organisasie/maatskappy ontbloot en hul steun aan daardie persoon of entiteit onttrek omdat hul menings of uitlatings nou of in die verlede rassisties, seksisties, homofobies, transfobies, xenofobies, diskriminerend of beledigend was. Hierdie persoon of organisasie word op sosiale media aangeval totdat hulle om verskoning vra of verdwyn.

Daar is diegene wat voel dit ruk handuit, terwyl ander meen die gevolge is allermins ernstig. Tog is talle mense se reputasie al verwoes en hul kanse op sakegeleenthede belemmer.

Daar is diegene wat voel dit ruk handuit, terwyl ander meen die gevolge is allermins ernstig. Tog is talle mense se reputasie al verwoes en hul kanse op sakegeleenthede belemmer.

Emma Sadleir, ’n mediaregkenner, sê in ’n era waarin daar nie veel sprake van geregtigheid is nie, is naming and shaming aanlyn doeltreffender.

“Digitale waaksaamheid is ’n baie belangrike deel van die moderne samelewing. Dit is ’n doeltreffende manier om mense ’n stem te gee wat nie ’n stem het nie.”

Sy waarsku terselfdertyd dié kultuur is gevaarlik omdat internetgebruikers nie werk met die uitgangspunt dat iemand onskuldig is totdat hul skuld bewys is nie.

“Iemand kan iets kwytraak op sosiale media oor iemand anders en oornag is hulle gekanselleer, nog voordat dit regtig bewys is,” sê Emma.

Hoekom skiet die kultuur tekort?

Die sportjoernalis en -aanbieder Elma Smit sê die gebruik bied aan mense geen ruimte vir groei nie.

“Om mense net te kanselleer is skadelik en gee hulle nie kans om te leer uit hul foute nie. As ons kyk na Bianca Schoombee se geval, sy is gekanselleer vir wat sy getwiet het toe sy 14 jaar oud was. Ek is nou 2020-Elma en sal nie graag wil hê 2005-Elma se woorde moet teen my gehou word nie.

“Hierdie mense, soos Bianca, het mense wat sy kan bereik en mense wat haar volg of wat hulle met haar vereenselwig.

“In plaas van om haar te kanselleer, kon sy deur haar ervaring ander mense opvoed of help om nie dieselfde foute te maak nie en deur dit kon die wêreld dalk sien sy het werklik verander, maar nou weet ons nie.”

Die Amerikaanse komediant Sarah Silverman stem saam.

Sy was ’n fliekrol kwyt toe ’n foto van haar met ’n swartgeverfde gesig (blackface) uit haar jongdae opduik. Sy het verskoning gevra, maar steeds gesukkel om weer werk te kry.

“Ek het ’n fout gemaak, ek het daaruit geleer en ek gaan die res van my lewe iets doen om daarvoor te vergoed,” het Sarah gesê en bygevoeg sy meen die kanselleerkultuur is net ’n nuwe manier om mense verder af te kraak.

Wees versigtig wat jy sê én deel

Sosiale media is ’n seepkis waarop enigeen enigiets kan sê.

Selfs as jy iets wat iemand anders getwiet het deel, kan jy aangekla word vir laster.

“Selfs as jy iets wat iemand anders getwiet het deel, kan jy aangekla word vir laster,” sê Emma. Volgens haar moet mense mooi dink voordat hulle iets skryf of deel, veral wanneer bepalings van die Grondwet ter sprake kom.

Vra jouself af watter resultaat jy verwag wanneer jy iets sê of deel.

“Is daar meer konstruktiewe geregtigheid op sosiale media en kan jy daartoe bydra?” sê Elma.

Leon Schuster in ’n toneel uit een van sy flieks. Foto: Huisgenoot

Leon Schuster: Showmax het vanjaar midde-in die Black Lives Matter-storm besluit om ses van dié komediant se flieks van sy platform te verwyder. Die flieks waarin Leon in blackface die spot met Suid-Afrikaners dryf, is as onsensitief en rassisties beskryf.

Chane Grobler: Dié TikTok-ster het die plaaslike kanselleerlys gehaal nadat stemgrepe van haar persoonlike gesprekke op sosiale media geplaas is waarin sy transfobiese en rassistiese kommentaar lewer. Chane het gesê die boodskappe is gedokter en buite konteks gebruik, maar het verskoning gevra. Sy neem ’n “sosialemedia-vakansie” om haarself op te voed en na te dink.

J.K. Rowling

J.K. Rowling: Die Harry Potter-skrywer het die LGBTQIA+-gemeenskap woedend gehad toe sy gereageer het op ’n artikel waarin gepraat is van “mense wat menstrueer” in plaas van “vroue”. Rowling het onder meer op Twitter gesê sy stem nie daarmee saam dat geslag “uitgewis” word nie.

Kevin Hart. Foto: Vera Anderson/WireImage

Kevin Hart: In 2009 het dié Amerikaanse komediant op Twitter gespot met hoe hy sou reageer as sy seun sou sê hy is gay. Hy’t die grappies verder gevoer in sy konsert Seriously Funny in 2010. Toe hy in 2018 die geleentheid gebied is om die Oscars aan te bied, het hierdie twiets by hom kom spook. Hy het die aanbod van die hand gewys en op verskeie platforms verskoning gevra vir sy onsensitiwiteit teenoor die gay gemeenskap.

Meer oor:  Sosiale Media  |  Haatspraak  |  Kanselleerkultuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.