Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Is jou reiniger doeltreffend?

Hou jy jou hande gedienstig uit om met handreiniger bespuit te word wanneer jy winkel toe gaan? Wees versigtig, nie alle handreiniger is ewe doeltreffend nie.

Sedert begin Maart het baie dinge in Suid-Afrikaners se lewens verander. Ons moes talle nuwe gewoontes aanleer te midde van die Covid-19-pandemie – soos om maskers te dra wanneer ons ons voete by ons voordeure uitsit, om ontsmettingslappies te gebruik om winkeltrollies of -mandjies mee af te vee en om ons hande gedienstig uit te hou sodat dit bespuit kan word met ’n waterlose handreiniger elke keer wat ons by ’n nuwe winkel of restaurant ingaan.

Grafika: iStock

Maar weet jy presies wat word op jou hande gespuit? Is dit ’n gehalte-reiniger wat die regte hoeveelhede alkohol bevat, of vat sommige winkel- en restaurant­eienaars kortpad na kostebesparing en gebruik ’n minder doeltreffende, verdunde konkoksie?

“Alle waterlose handreinigers is beslis nie ewe doeltreffend nie,” sê die bedryfs-apteker Simone Rudolph-Shortt.

Sy raai verbruikers aan om eerder die etiket van die handreiniger na te gaan vir ’n Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS)-stempel of een of ander tipe akkreditasie.

“Kyk ook na die bestanddele om te sien hoeveel alkohol ingesluit word, asook die vervaardiger se naam en ’n ‘batch’ of ‘lot’-nommer. Ek laat nie toe dat iemand my hande bespuit as die bottel nie ’n etiket op het nie.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se aanbevole formules vir ’n reiniger om Covid-19 te beveg sluit in rondom 70% etanol of isopropanol-alkohol. ’n Geakkrediteerde laboratorium in KwaZulu-Natal het onlangs bevind dat vyf uit 11 handreinigers wat tans óf in winkels te koop is óf op inkopiegangers se hande gespuit word, minder as die vereiste minimum 70% alkoholinhoud bevat.

Vervaardigers kan jou ook ’n rat voor die oë draai, twee van die getoetsde produkte het etikette opgehad wat aangedui het dat dit 70% alkohol bevat.

Kyk uit hiervoor

Wees ook versigtig vir helderkleurige reinigers, veral as die kleur meer gekonsentreerd is op die bodem van die houer, waarsku Bernard Reeksting, ’n toegepaste chemiese wetenskaplike in die chemiese sakesektor en voormalige direkteur van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR). Dit kan daarop dui dat die reiniger dalk ’n tuisgemaakte konkoksie is.

“Nie net kan gekleurde reinigers jou vel en klere vlek nie, dit kan ook velirritasies veroorsaak as die konsentrasie bestanddele nie reg geformuleer is nie,” voeg Rudolph-Shortt by.

Die SABS verskaf wel ’n stempel vir reinigers, maar maak ook seker dat die SABS-logo ’n nommer daaronder het.

SABS 490 is die spesifieke stempel vir alkohol-gebaseerde handreinigers.

SABS 1853 is die kode vir produkte wat goedgekeur is vir gebruik in die voedselbedryf.

Lees die etiket versigtig omdat daar al voorvalle was waar vervaardigers van verf en smeermiddels – baie wat wel Internasionale Standaarde-organisasie (ISO) akkreditasie en SABS-goedkeuring vir hul produkte het – nou handreinigers vervaardig, maar aanspraak maak op dieselfde ISO-akkreditasie en SABS-goedkeuring.

Daar is ’n klein aantal betroubare vervaardigers van reinigingsprodukte wat hoë standaarde handhaaf en nie kortpaaie vat wanneer dit kom by die tipe, graad of gehalte alkohol wat in hul produkte gebruik word nie.

“Ons gebruik nog altyd etanol in ons produkte omdat dit nie so skadelik is vir ’n mens se vel nie.

“Ons gebruik boonop ’n spesifieke gehalte en graad van etanol – daar is altyd meer as 70% alkohol in ons reinigers,” verduidelik Annette Devenish van die Sani-touch-produkreeks.  Aanvullende bron: prevention.com.

Die probleem met doen-dit-self-reinigers

Volgens Annette Devenish van Sani-touch het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vroeër vanjaar ’n resep uitgestuur vir ’n tuisgemaakte reiniger wat onder meer alkohol, gliserien, waterstofperoksied en water bevat het.

“Doeltreffende reinigers gebruik gewoonlik steriele water in hul samestelling. Die WGO het aanbeveel dat waterstofperoksied bygevoeg word omdat dit enige bakterieë in die water neutraliseer,” sê Devenish.

“Die Suid-Afrikaanse regering het die WGO-resep ondersteun, maar waterstofperoksied kan die vel beskadig en irriteer as dit vir lang tydperke gebruik word. En as die samestelling meer as 3% waterstofperoksied bevat, kan dit ’n branderige uitwerking op die vel hê,” waarsku sy.

Hiér krioel die goggas

Afdrooglappe in die kombuis

In ’n Amerikaanse studie is bevind dat ’n klein persentasie afdrooglappies gekontamineer is met MRSA, ’n stafilokokkus-bakterie wat lewensgevaarlike vel­infeksies kan veroorsaak. E. coli-bakterieë was ook teenwoordig op van die lappe. Dus, was en ruil jou afdrooglappe gereeld.

Rekenaarsleutelbord

Die meerderheid sleutelborde is besmet deur dieselfde bakterieë wat op jou vel en onder jou vingernaels lewe. Vee dus jou sleutelbord gereeld af met ’n reinigingslappie, veral as jy in ’n kantoor werk en ’n rekenaar met ander mense deel.

Seephouers in openbare badkamers

Volgens verskeie studies en akademiese artikels wemel dié houers van fekale bakterie. Wetenskaplikes en navorsers is bekommerd dat die houers meer kwaad as goed doen en ’n gesondheidsrisiko inhou omdat dit kan bydra tot die oordrag van patogene en bakterie in openbare plekke.

Winkeltrollie-handvatsels

’n Studie deur die Universiteit van Arizona het bevind dat dié handvatsels selfs meer bakterieë (soos E. coli en salmonella) huisves as wat jy in ’n openbare toilet sal vind. Maak seker jy het altyd ’n pakkie ontsmettinglappies by jou, sodat die kieme nie saam met jou brood, melk en eiers hul weg vind na jou huis en gesin nie.

Infection Protection Products se Sani-touch trollielappies is geweek in seep én alkohol en perfek om jou supermarktrollie of mandjie met een veeg deeglik te ontsmet.

Meer oor:  Ontsmet  |  Handreiniger  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.