Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Jeug woeker hier met praktiese eko-program

Net buite die Krugerwildtuin woeker Eco Children, ’n niewinsgewende organisasie, om minderbevoorregte kinders meer te leer van die omgewing – van tuinbou tot natuurbewaring. Marguerite van Wyk vertel meer.

Deur Eco Children se projekte word kinders geleer oor omgewingsbewaring. Foto: Sabrina Chielens

In die stofpad in Green Valley, buite Hoedspruit in Limpopo, loop beeste gedwee. Ons ry verby die Township Deli, ’n geel kafee waar mense doelloos in die straat sit en loer na die motor. By Kgwaditiba Primary School, een van sewe skole gesteun deur Eco Children, draai ons in.

’n Groentetuin sprei geil voor my oop, netjies afgebaken. Beet, uie, spinasie, blaarslaai en tamaties in aparte beddings gerang­skik, omring deur sirkelmuurtjies van baksteen, kleurvol geverf in blou, geel, groen en rooi. Daar’s water in ’n kuip en die gieters staan uitgepak. Die son bak lekker en die atmosfeer is vrolik.

Vandag is daar nie kinders nie, want dis nog grendeltyd, maar Tshegofatso Mkhonto, wat vir die gr. 6- en gr. 7-leerlinge klasgee, blom en borrel. Jy kan sommer sien sy wil gesels, want hierdie is Mkhonto se lieflingprojek.

“Die kinders is trots op hul tuin. Ons leer hulle plant, spit en natgooi. Ons leer hulle ook kook met dié groente,’’ vertel sy. Dikwels, as dit snikheet raak in die somer, tot in die 40 °C en die klaskamer voel soos ’n sauna, gee die onderwysers buite onderrig. Daar is ’n houtafdak met sitplekke daarvoor.

Mkhonto wys na die klein kombuisie, die komposhoop en ’n kamer met gereedskap. Als is netjies. Sy is ’n raakvatter.

Dan wys Sabrina Chielens, Eco Children se projekbestuurder, my rond. Sy sê dit is ongelooflik bevredigend om by dié projekte betrokke te wees. Sy is van België, waar sy ’n kleuterskoolonderwyseres was. Sy prys Mkhonto, waarop dié lag en hande saamslaan.

“Dit is so belangrik om goeie terugvoering te gee. Almal is trots op hul harde werk en ons is trots op hulle,’’ sê Chielens. Baie van die projekte is letterlik uit die township se stof opgebou, uit niks.

Kinders werk in die groentetuin. Foto: Sabrina Chielens

Tuine van hoop

By elke skool waar Eco Children betrokke is, is die tuine die sentrale punt van waar al die projekte plaasvind, verduidelik Chielens. Tydens grendeltyd het die kinders sappige bete, groot uie, lekker kropslaai en blinkrooi tamaties en spinasie huis toe geneem, sodat Ma of hulle daarmee kan kook. Maar in skooltyd gaan dit na die skoolkombuis vir middagete vir leerlinge, dikwels hul enigste behoorlike ete op ’n dag. Die produkte kan ook verkoop word – só moedig hulle entrepreneurskap aan. Want dan kan leerlinge weer hul eie saad koop en tuis hul eie lappie grond in ’n groentetuin omskep sodat húl gesin kan eet.

“Ons wil kleur in hul lewe bring. Hier leer hulle eienaarskap. Hulle moet leer hoe om die groente te groei, daarvoor te sorg, om só ook ’n bydrae tot hul toekoms te maak,’’ sê Chielens.

Mkhonto neem my na haar klaskamer. Kleurvol, met allerlei plakkate teen die mure. Sy wens sý het as kind die geleentheid gekry om meer van die natuur te leer. “Want as ons nie die aarde oppas nie, hoe gaan daar kos wees vir ons?’’ vra sy.

Sifiso Lukhele het as kind betrokke geraak by Eco Children en bestuur nou self van hul projekte. Foto: Sabrina Chielens

Renosterstropers

Daar is groot omgewingsprobleme in dié kontrei. Dis droog. Wanvoeding, gebrekkige infrastruktuur, swak opgeleide onderwysers en renosterstropery is die grootste kopsere.

Eco Children het oorspronklik begin vanuit die Klaserie Private Natuurreservaat en dié reservaat is steeds betrokke. Hulle glo dit is noodsaaklik om gemeenskappe in die omgewing meer oor natuurbewaring te leer en só probleme soos renosterstropery hok te slaan.

Talitha Jansen, medebestuurder van Misava Safari-kamp in die Klaserie Private Natuurreservaat, sê weens die stroping van wit- en swartrenosters die afgelope dekade is dié diere se status nou “kritiek bedreig”.

“As dié ikoniese dier van Afrika uitgewis word, dink net hoe verwoestend sal dit vir die ekologie wees. Die renoster skep habitatte vir talle kleiner spesies. En hul uitwissing, nog in ons leeftyd, is nie uitgesluit nie,’’ sê Jansen.

In die Klaserie Private Natuurreservaat word renosters onthoring in die hoop om potensiële stropers weg te hou. Dit hou geen nadele vir die diere in nie en sedert hulle dié projek begin het, is nog geen diere gestroop nie, vertel Jansen.

Tshegofatso Mkhonto, ’n onderwyseres by die Kgwaditiba Primary School, se trots is hul groentetuin. Foto: Sabrina Chielens

Chielens erken jy kan nogal depressief raak as jy besef baie van die kinders woon langs die Krugerwildtuin, maar het nog nooit ’n bok, leeu of renoster gesien nie.

“Kan ’n mens hulle verkwalik as hulle dan, nes hul pa of oupa, geld wil verdien deur renosterstropery? Hulle voel dikwels hulle het geen ander opsie vir ’n inkomste nie en het geen empatie met diere nie, omdat niemand hulle geleer het van die waarde van die natuur nie. Ons wil hulle leer as jy nie omsien na die aarde nie, gaan dit ’n uitwerking op toerisme en uiteindelik op werkskepping hê.”

Die kinders van Eco Children se programme word ook op wildritte in die Klaserie geneem om na diere te kyk – ook renosters – om sodoende die tragedie van renosterstropery beter te verstaan, sê Chielens.

Maar, soos sy sê, durf Eco Children nie net op die negatiewe fokus nie. “Daar is soveel talent onder die toegewyde onderwysers. Baie van hulle hét nie die nodige vaardighede of kwalifikasies om byvoorbeeld wiskunde te gee nie, maar hulle is gewillig om te leer en ons gee aanvullende hulp om hulle toe te rus.’’

Belowende jong talent

Corné Havenga, uitvoerende hoof van Eco Children, sê sy wou nog altyd waarde toevoeg tot die plaaslike gemeenskap.

“Ek glo ’n mens moet by die jeug begin. Ons werk met die gr. 6’se en gr. 7’s en leer hulle van kleins af die waarde van die natuur en die waarde van eienaarskap vir projekte. Van dié kinders word later omgewingsbewaarders of word weer betrek in Eco Children se programme om onderrig by slypskole te gee.”

Die groentetuin by die Kgwaditiba Primary School. Foto: Sabrina Chielens

“Corné het ’n ongelooflike aanvoeling vir kinders wat eendag ’n verskil in die gemeenskap kan maak en sy maak seker dat dié met potensiaal met die hand uitgesoek word om as’t ware grootgemaak te word vir beurse wat beskikbaar is,’’ sê Chielens.

Sifiso Lukhele (25) is een van hulle. Hy is aan die stuur van die volhoubare tuin van die Mphaku Primary School by die Islington Trust in Acornhoek. Ook dié netjiese tuin getuig van goeie bestuur. ’n Senior burger van die gemeenskap sit daagliks vrywillig hand by en trek onkruid uit in die beddings, vertel hy.

Lukhele is al van gr. 6 af deel van Eco Children se programme en kan nie uitgepraat raak oor hoe dit hom gehelp het nie. Sy pa en ma is dood. “Ek is nou gekwalifiseer as omgewingsbewaarder en hoop om binnekort by ’n natuurreservaat te werk. Ek wil ook by Eco Children se slypskole leerlinge help oplei.”

Skenkings en inspirasie

“Die gaping tussen die rykes en die armes raak al hoe groter in Suid-Afrika en met ons programme probeer ons ’n bydrae lewer om leerlinge se lewens te verbeter,’’ sê Havenga. Maar geld bly ’n probleem. Die Klaserie Private Natuurreservaat maak die grootste geldelike bydrae aan Eco Children en verder is die projek afhanklik van skenkings en die ondersteuning van verskeie organisasies.

“Ons is baie dankbaar dat die Klaserie Private Natuurreservaat ’n stuk grond beskikbaar gestel het waarop ons ’n opleidingsentrum kan bou om slypskole aan te bied, onderwysers op te lei en vrywilligers te huisves wat gereeld aan ons projekte deelneem. Ons sal ook by dié sentrum opvoedkundige programme vir leerlinge en studente van oor die wêreld heen kan aanbied en só ’n inkomste kan genereer vir Eco Children.’’

Corné Havenga, uitvoerende hoof van Eco Children, saam met kinders wat by die projek betrokke is. Foto: Sabrina Chielens

Havenga is baie opgewonde oor wat hulle reeds bereik het. “Daar was al soveel hoogtepunte. Vroue in die gemeenskap word ingespan om daagliks kos aan leerlinge te verskaf. Die infrastruktuur in die townships is verbeter – alles van ablusiegeriewe tot kombuise, klaskamers en nuwe biblioteke wat by skole aangebou is.”

By die Mphaku Primary School besoek ek Rhulani Mathonsi, bibliotekaresse, waar sy besig is om sowat 8 000 boeke op die rekenaarstelsel te liasseer. Sy is stralend oor al die boeke, skud hand en raak dan weer doenig op die rekenaar.

Jong mense uit Australië, Amerika en ander lande werk jaarliks tussen ’n maand en ’n jaar as vrywilligers by Eco Children. Een van die 18-jarige ouens was so beïndruk, dat hy ná afloop van sy besoek aan Hoedspruit 8 000 jeugboeke – van Roald Dahl, Grimm se sprokies, tot boeke oor omgewingsbewaring en troeteldiere, alles in Engels – vir die biblioteek ingesamel en uit Amerika versend het na dié biblioteek. “Dit is ongelooflik hoe mense hul harte oopmaak,’’ sê Chielens.

“Wanneer jy sien hoe kinders in afgesonderde gebiede se gesigte verhelder as hulle beurse ontvang om verder te studeer herinner dit my altyd aan hoe bevoorreg ek was om goeie onderrig en geleenthede te kry,” sê Havenga. “Hulle inspireer my om dankbaar te wees en om daagliks ’n verskil te probeer maak. Hulle leer my om moeite te doen om die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing te verstaan. Ek het soveel meer empatie vir die mensdom ontwikkel.’’

Die toekoms

“Ons wil al hoe meer skole by ons programme betrek. Ons wil Eco Children-gemeenskappe rondom die skole oprig, waar ons die breër gemeenskap kan betrek. Wanneer die opleidingsentrum by die Klaserie Private Natuurreservaat opgerig is, hoop ons om meer skenkings van plaaslike ondernemings, trusts en individue te kry en wil die inkomste van die sentrum gebruik om selfonderhoudend te word,” sê Havenga.

“Eco Children se oorkoepelende strewe is om volronde mense die wêreld in te stuur wat hulself kan ophef en ’n verskil kan maak. Hiervoor is gehalte-opvoeding noodsaaklik. Só kan jy help om respek vir die omgewing te kweek en mense leer om entrepreneursvaardighede uit te bou.’’

Marguerite van Wyk

Sy dink nie Suid-Afrika se skoolleerplan lê genoeg klem op omgewingsbewaring en die volhoubaarheid van natuurlike hulpbronne nie. “Praktiese elemente soos die verbouing van ’n groentetuin kan kinders help om volhoubare kos te kweek, te verstaan waar kos vandaan kom en om regtig vir die aarde te sorg.’’

Havenga reken ook kinders moet geleer word dat jy, wanneer jy die aarde liefhet, ook ’n verbintenis met jouself vorm.

“Saai sade van verandering” is Eco Children se leuse.

En as mens so kyk na wat in Hoedspruit en omgewing gebeur, lyk dit of daar allerlei nuwe dinge aan die ontkiem is.

  • Van Wyk is ’n vryskutjoernalis van Kaapstad.
Meer oor:  Marguerite Van Wyk  |  Krugerwildtuin  |  Eko-Program  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.