Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Joggie Jansen se laaste, vreemde drie voor sy ‘comeback’

Will Mostert, wat onderwys gee in Taipei, Taiwan, het hierdie storie oor ’n rugbywedstryd tussen Thaba Nchu en Tweespruit in 1975 geskryf. Hy het as ’n skoolseun skielik langs die Springbok-reus Joggie Jansen beland. Joggie Jansen sê hy onthou dit goed. Hy het toe skoolgehou by die Hoër Landbouskool Tweespruit en dit was sy eerste wedstryd nadat hy reeds amptelik uitgetree het uit rugby. Sy laaste van tien toetse in die Groen-en-goud was op 3 Junie 1972 teen Engeland.

Maar Nelie Smith, Vrystaat se afrigter, het gehoor hy speel weer en het hom opgekommandeer vir oefeninge. Ná baie oefen, was hy terug in die Vrystaatspan en het nog lank gespeel. Hy was ’n lid van die Vrystaatspan wat in 1976 die Curriebeker die eerste keer én die All Blacks gewen het.

Die sinkpaviljoen van Excelsior se sportstadion vandag. Die paviljoen het reeds in 1975 hier gestaan toe die tuisspan teen Thaba Nchu in ’n rugbywedstryd kragte gemeet het. Vandag is die paviljoen en ander geboue verwaarloos en word hier slegs sokker op die veld gespeel. Foto: Sonja van Wyk

Ek was in matriek in 1975. Gedurende die Julie-vakansie het ek vir my broer op Thaba Nchu gaan kuier. Hy was ’n polisieman daar. Die Saterdag sou die rugbyspan van Thaba Nchu teen Excelsior speel. Ek was deel van die konvooi na Excelsior as een van die sewe toeskouers wat saamgery het.

Daar aangekom, het ek in my broer se klein Datsuntjie gesit en wag terwyl die span bymekaargekom het. Toe sien ek hom naderstap – en ek kry daardie aaklige gevoel op my maag.

“Ons kort ’n flank, kom speel saam.”

Ek het nie ’n keuse nie; die volgende keuse was een van die twee susters wat as toeskouers saam is. Ek stem maar in, so half teen my sin. Ek probeer daar uitkom en sê ek het nie tôks nie, maar wegkomkans is min.

Nou vir dié wat die skougrond by Excelsior ken, sal weet waar ons is. ’n Klein hoofpaviljoentjie met ’n ingang na twee klein kleedkamers onder die paviljoen. Ek stap in en die eerste ding wat my tref, is die reuk van urine. Daar is nie ’n toilet binne die kleedkamers nie, maar êrens buite, so van die manne staan sommer daar agter teen die muur.

Ek word aan die span voorgestel, al agt polisiemanne van Thaba Nchu is in die span, van die stasiebevelvoerder tot die jongste konstabel. Selfs die oorlogsheld Addie is in die span. Hy was in ’n landmynontploffing in die destydse Rhodesië gewond. Ek kyk na sy ore en kan sien dat hy gebrand het. Die blokman van die slaghuis is die een stut. ’n Moerse groot man, dun beentjies, maar ’n groot maag en agterstewe. Die NG-dominee is die losskakel – die storie loop dat hy vir Tukkies gespeel het. Die een senter is die rugbyheld Joggie Jansen, wat op Tweespruit met perde boer. Hy is al besig om sy knieë Deap Heat te smeer. Dan sien ek hoe die groot hande die verbande om die knieë draai.

Joggie Jansen het die Springbokke se vuur aangesteek in die beroemde toets teen die All Blacks in 1970. Hy het in tien toetse in die Groen-en-goud uitgedraf voordat hy uitgetree het. Nelie Smith, afrigter van die Vrystaat, het gehoor hy het in 1975 vir Thaba Nchu se dorpspan gespeel en hom weer vir Vrystaat opgeroep. Hy was ’n lid van die beroemde Vrystaatspan in 1976 wat die Curriebeker gewen en die All Blacks geklop het. Foto: pressreader.com

“Sal die knieë maar styf vasdraai, dan is die pyn minder vanaand,” sê hy.

My rugbyheld lyk nou meer soos ’n oorlogsheld. Hy sê hy sal nommer 15 vat – dan kan hy op enige plek in die agterlyn inkom. Nie ’n slegte plan nie. Ons beste aanvalswapen is op die regte plek.

My broer is in ’n goeie toestand en is die een vleuel, en hy sal ook pale toe skop. Volgens hom wil hy maar vleuel speel, want die bal kom nooit daar uit nie. Hy sal veilig wees.

Dan die skok van my lewe. Hulle gee my die nommer 6 trui, maar dis groot. Dis ’n bloedrooi polonek-trui. Ek sal my gewig moet verdriedubbel om in te pas. Die tôkse is nog erger: Ek dra ’n 8½ en dié tôkse is minstens ’n nommer 14. Ek kan met my tekkies binne die tôkse klim en dit vasryg, maar ek wil nou nie snaaks wees nie en trek maar aan.

Ek luister na die taalgebruik en ek as ’n 17-jarige is geskok. Al wat die dominee se is: “Manne, jul taal asseblief!” Maar wie luister na die dominee.

Nou ek moet verduidelik, ek is nie juis ’n rugbyspeler nie. Ek speel vir die derde en vierde span van die Hoërskool Jim Fouché, en net omdat ek gedwing word. Rugby en skoolwerk kom maar tweede ná meisies en karate. Ek probeer om soos ’n rugbyspeler te dink. Ek weet ek is fiks en kan probeer om my pose te hou tussen die manne. Hulle is groot en onbeskof – ek voel klein tussen hulle. Ek probeer my selfvertroue opbou. Gelukkig speel ek in dieselfde span as die blokman, Joggie en ’n dominee. Wat kan verkeerd gaan?

Joggie Jansen (72), een van Springbokrugby se grootste helde, het verlede jaar 'n demonstrasie van Vrystaat Cheetahs-aanhangers in Bloemfontein bygewoon. Foto: Charles Smith

Nou praat hulle van opwarm. Daar word twee groot coolbags uitgehaal en elkeen kry ’n lang Black Label. Dis opwarming! Een lang bier beland in my hand en my broer sê ek moet dit drink. Ek is baie gehoorsaam. Dis bitter, erger as medisyne, maar word vinnig beter. Ek sluk dit weg so vinnig as moontlik.

Nou loop ons uit en saam met die ander span (hulle het Lion-biere in die hand) na die veld. Ek is geskok; daar is nie gras op die veld nie. Die wit lyne is nog effens sigbaar en net plek-plek daar van die vorige seisoen. Party ouens moet die beeste van die veld verwyder, ander moet die molshope plat maak. Ek probeer om in my tôkse te loop. Ek probeer ook memoriseer waar die koeik*k is. Daar is vars miskoeke en ’n paar is baie hard. Dit gaan ’n interessante wedstryd wees. Daar is nie gras nie, net onkruid. Die grond is hard en ek besluit om my bes te probeer om nie te val nie.

Dan gaan ons terug na die kleedkamer om van die bierblikke ontslae te raak.

Ek weet nog nie wie die kaptein is nie, maar is te skaam om te vra. Die dominee vra of hy ’n gebed kan doen, maar niemand luister na die dominee nie. Ek staan naby hom en hoor hoe hy saggies bid dat die Skepper se hand van bewaring oor hom moet wees. Ek wonder wat van ons ander? Geen beskerming nie? Dan bid hy vir sy vrou en kindertjies by die huis.

Die blokman staan nou voor in die ry en ek neem aan hy is die kaptein. Ons is nou gereed om uit te draf. Dan die spanpraatjie: “Manne ek gaan maar stadig uithardloop sodat ons nou nie te moeg is wanneer ons op die veld kom nie.” Selfs Joggie stem in – hy moet eers sy knieë aan die beweeg kry.

Ek weet nog nie wie die kaptein is nie, maar is te skaam om te vra.

Meeste van die besoekers sit in hul karre en dan is daar die twee susters en vier ander toeskouers van Thaba Nchu op die paviljoen. Ons is gereed vir die game. Ons het die loot gewen en skop af – ’n groot fout! Excelsior druk onmiddellik ’n drie. Die manne kom bymekaar agter die pale vir ’n spanpraatjie. Die kaptein is aan die woord. “Hel, ek’s bly hulle het gescore – nou kan ek rus.”

Die eerste lynstaan is ’n ernstige ding, die twee slotte praat diep sake met mekaar. “Los my balle uit en ek los jou balle uit. Dan hoef ons nie so te spring nie. Oukei?” Die ander slot stem heelhartig saam. Ten minste gaan ons ’n paar balle kry.

Die eerste skrum is woes. Die slotte sit hul hande tussen die stutte se bene in. “Nee man, is jy ’n f***** m*****? Dis my bôls! Vat hier.” Ek is dronk. Daardie lang Black Label het my niks goed gedoen nie. Ek sukkel om te dink. My oë probeer om elkeen in sy eie rigting te kyk. Gelukkig hang ek aan die kant van die skrum – maklik genoeg om te onthou. En ek is bly my neus is aan die buitekant. Verskeie reuke tref my: Klipdrift, Black Label en Lion, sweet en poepreuke. As Heinz G. Konsalik daar was, sou hy gesê het: “Dis om van te kots, kameraad.” Ek sukkel al klaar om nie te kots nie.

Ons loop agter – ver agter. Die telling is nie belangrik nie – dis net jy loop voor of jy loop agter. Niemand hou score nie.

Die rêf is van Bloemfontein, ’n baie ernstige ou. In sy regterhand hou hy die fluitjie vas en met die linkerhand probeer hy sy ou rêf-trui oor sy maag hou. Hy het sulke dun, wit beentjies. Hy is gou uitasem en hyg asof hy na sy asmapompie verlang. Die rêf gaan nie die einde van die game sien nie. Die fluitjie blaas ná ’n leeftyd vir halftyd. Ek kan nie wag om te sit nie. Ek is siek na die Black Label.

Ons is almal in die kleedkamer. Joggie is ernstig. “Ons sal ’n plan moet maak, ons is so ’n paar scores agter.” Dis ’n mooi spanpraatjie.

Ons word elkeen uitgereik met twee lang Black Labels. Die blokman kyk ernstig in my oë en sê: “Drink die medisyne. Jy is die fiksste op die veld. Ek wil jou nou sien speel, oukei? Hou op om net saam te draf. Wees soos ’n gatvlieg, jaag die donnerse bal, pla die manne, têkkel ’n bietjie man.”

Skielik word ek dapper. Die manne maak staat op my. Ek word as een van hulle gesien. Ek slaan my biere sommer weg.

Die wedstryd begin weer. Ek is nou ’n gatvlieg. Skielik is daar ’n enorme ou voor my met die bal. Ek kyk rond om te sien wie gaan die têkkelwerk doen. Ek seil onder die man in, gelukkig is die beentjies maar aan die dun kant en hy gaan af grond toe. Die volgende oomblik is ek onder 15 manne en almal is so drie keer my gewig. Toe ek opstaan, sê die groot kêrel: “As jy my weer duik, bliksem ek jou.” My blokman sê vir my: “As jy hom nie duik nie, bliksem ék jou!”

Ek sien die dominee en Joggie is in ’n ernstige gesprek. Miskien bid die dominee vir Joggie se knieë.

Die skrum verloop goed vir ons en die bal kom uit, skielik is Joggie tussen die losskakel en die binnesenter, maar die spoed is nie meer daar nie, hy gee so ’n goeie grondskoppie in die rigting van my broer, wat staan en koud kry op vleuel.

Miskien sy laaste drie in sy lewe? Joggie breek deur Excelsior se lyn, ek hoor hoe die knieë kraak en hoe die patella sukkel om op die regte plek te kom.

My broer is op volspoed – nou hy is vinnig, die bal hop reg vir hom en hy is weg. Ons almal gaan staan en kyk, ons hoef nie te hardloop nie. Daar trek hy – ek wonder waarom hy so vinnig hardloop. Daar is niemand by hom nie. Hy moet nou afslack, daar is karre voor hom, hy maak ’n mooi draai – ek dink hy het oor die doodlyn gehardloop, maar hy is nou agter die pale en duik! Dis mooi, so met ’n boog! Ons eerste drie! Hy skop die bal oor en ons loop minder agter.

Met die afskop sê Joggie vir my ek moet nie in die losskrum ingaan nie, maar agter rondhang. Die bal kom uit na ons kant toe na die losskakel en Joggie breek die lyn, net om die bal vir my te gee. Ek kyk wie is daar naby my om my te ondersteun, maar soos die gewoonte is, staan almal behalwe omtrent ses manne van Excelsior wat op my afstorm. Ek probeer hardloop. Onthou julle vir Kosie en Kwak? Ek lyk soos Kosie met die groot tôkse aan, dis soos sneeuskoene. Stadig maar seker kom ek op spoed. Ek hoor die manne reg agter my – ek kyk om – dit lyk soos ses renosters wat op my afstorm. Dis ek, dan die renosters dan ’n stofwolk en dan die dun, wit beentjies van die skeidsregter.

Daar is nie ’n doellyn nie, maar ek besluit dis tyd om te druk. Ek maak die sierlike boog, hoog en pragtig – en druk die drie so 6 m kort van die doellyn. Ek spring op, gooi die bal weg en hardloop soos ’n Boeing met my arms oop. (Alan Donald het hier geleer hoe om te hardloop nadat hy ’n paaltjie gevat het.) Maar ek hardloop nie om te brêg nie, maar om weg te kom van die renosters. Die rêf is teen die tyd naby en ken die drie toe. My broer skop oor en die agterstand krimp weer.

Nou was dit tyd vir Joggie se drie. Miskien sy laaste drie in sy lewe? Joggie breek deur Excelsior se lyn, ek hoor hoe die knieë kraak en hoe die patella sukkel om op die regte plek te kom. Joggie met sy krom perdry-bene is op pad doellyn toe. Maar dan gebeur iets onvoorsiens. Sy linkervoet trap die een kant van ’n onkruid vas en die regtervoet gaan die booby trap in. Joggie slaan soos ’n os neer dat die stof staan.

Die fluitjie blaas skril. “Dis ’n drie!” beslis die rêf en begin stadig na die pale hardloop. Van agter af lyk hy met sy skewe koppie soos Mr Bean. Selfs Excelsior se kêrels stem saam as dit nie vir die onkruid was nie, sou dit ’n ware drie gewees het. Die agterstand krimp weer, maar ons is nog ver agter.

Die Vrystaatse dorp Excelsior. Dit is hier waar die Lion-drinkers van die tuisspan teen die Black Label-drinkers van Thaba Nchu in 1975 kragte gemeet het. Die Springbok-legende Joggie Jansen het vir Thaba Nchu uitgedraf, waarna hy weer vir die Vrystaat opgeroep is. Foto: Facebook

Ons skrum nou naby die vyand se doellyn, die skrum swaai en ek skuif my mou van die rooi trui op en hak die bal met die hand, maar in die rigting van die vyand. Die fluitjie blaas verskriklik en ons kry die strafskop. Die blokman vat die tikkie en niemand gaan hom keer nie. Hy is op volspoed doellyn toe. Ek stap saam om hom te ondersteun. Vir die volgende vyf minute word hy behoorlik gesoen. Nou begin die Black Label-drinkers van Thaba Nchu wonder hoe ver ons nog agter is.

Agter die pale is die Lion-manne van Excelsior briesend kwaad vir my. Ek hoor op ’n afstand: “Nommer ses. Nommer ses!” Ek weet nou kom daar groot moeilikheid, maar ek is vrot van die karate en voel al beter. Ek loop oor van selfvertroue.

’n Minuut of twee later is die moeilikheid daar. Groot manne storm op my af met vuiste gebal. Ek staan in my karate-stance. In karate weet jy egter waar die hou vandaan kom, in rugby is dit anders. Die hou kom êrens van agter. My ligte is uit.

Ek word wakker met ’n skok, die pynpolisie se tannie het vrugtesout onder my neus gehou en nou is sy besig om met ’n nat lappie die koeik*k uit my oë te vryf, my twee neusgate oop te maak en my mond af te vee. Ek proe bloed en ou hooi. Ek spoeg die koeistr*nt uit my mond. My oë sukkel om te fokus. Dit voel of ek dubbele harsingskudding het.

Die game is nog nie verby nie. Dit is een van die laaste skrums en ek is nou net ’n passasier. ’n Baie siek passasier. In die skrum hoor ek die mees verskriklikste geluid – dit klink soos ’n nat geroggel en dan die stank. Die slotte van die ander span ruk hul koppe uit die skrum.

Ons kry ’n strafskop. My broer stel die bal op een van die molshope, maar die rêf kom nader en skop die bal om.

“Nee man, jy kan nie vir ’n poep pale toe skop nie.” Ons verloor die drie maklike punte. Miskien sou ons dan voorgeloop het.

Ná die wedstryd kom my rugbyheld na my toe en sê: “Great game, ouboet.”

Die blokman lewer ’n spanpraatjie onder die paviljoen. “Ons gaan almal na die Excelsior-hotel vir ’n paar Black Labels.” In die hotel hoor ek dat een van my eie spanmaats my platgeslaan het. Nogal om my lewe te red. Dorpspan-rugby is nie vir sissies nie.

Meer oor:  Springbok  |  Nelie Smith  |  Onderwys  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.