Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Jong koninklikes verjaag die spoke van die verlede
William, Harry en Catherine het vandeesweek baanbrekerswerk vir die stryd teen geestesongesteldheid gedoen. Arlene Prinsloo berig.
Sewentig posbusse van die Royal Mail wat op die roete van die Londen-marathon is, gaan blou Heads Together-bande om kry. Catherine het Woensdag die eerste band om dié posbus by die Kensington-paleis gesit toe sy ’n groep atlete wat ten bate van Heads Together aan die marathon gaan deelneem, ontmoet het. Foto: Getty Images

Net soos Diana, prinses van Wallis, in haar leeftyd die stigma rakende MIV/vigs-lyers “verpletter” het, het haar seuns, William en Harry, vandeesweek dieselfde vir geestesongesteldheid gedoen. (Diana was die eerste koninklike wat aan ’n MIV-lyer geraak het – sonder handskoene.)

Die nieregeringsorganisasie Heads Together waarvan prins William, sy vrou, Catherine, en prins Harry die beskermhere en -vrou is, is in Mei 2016 gestig. Nadat die jong koninklikes hul steun vir dié organisasie en verskeie bewusmakingsveldtogte daarvoor gegee het, het die aantal mense wat hulp soek, dramaties gestyg, berig Sky News.

Heads Together

Prins Harry het Woensdag, as beskermheer van die Londen-marathon se welsynstrust, die Virgin Money-marathon se ekspo in Londen geopen. Heads Together is vanjaar die amptelike welsynsorganisasie-borg van dié marathon. Foto: Gety Images

Heads Together en agt ander welsynsvennote werk saam om die stigma rakende geestesgesondheidsprobleme af te breek, bewusmaking te bevorder en om mense te help wat sukkel met geestesgesondheidskwessies.

Die driemanskap, maar veral Harry, het vandeesweek hul grootste triomf nóg vir Heads Together bereik. Harry het Maandag in ’n roerende onderhoud in die The Telegraph vertel hoe hy sy gevoelens oor sy ma se dood vir jare onderdruk het en op aanbeveling van William professionele hulp opgesoek het.

Dinsdag het William in ’n Face Time-onderhoud met die Amerikaanse sangeres Lady Gaga oor sy gevoelens gepraat, en Woensdag het ook Catherine in die openbaar gepraat oor haar “gemengde gevoelens” ná prins George se geboorte.

Catherine het atlete toegespreek wat namens Heads Together aan die Londen-marathon gaan deelneem. Die driemanskap wou graag self aan die marathon deelneem, maar kan weens veiligheidsredes nie.

Catherine het Woensdag aan DJ Neev Spencer, ’n jong ma wat aan nageboortelike depressie gely het, vertel dat niemand jou op moederskap kan voorberei nie – veral nie die eerste keer nie – en aan die “gemengde gevoelens” waaraan ’n nuwe ma onderwerp word, berig Daily Mail. Sy het al voorheen vertel hoe oorweldig sy was deur moederskap.

Vir Catherine om só openlik oor haar gevoelens te praat, kan ander ma’s help wat oorweldig voel deur die emosies en vereistes van ma-wees.

En vir koninklikes is dit ongewoon om hul gevoelens só in die openbaar te deel.

Vir William en Harry is dit meer asof hulle die spoke van die verlede wil verjaag.

Diana

William was 15 en Harry 12 jaar oud toe hul ma oorlede is. Die dag voor haar begrafnis het prins Charles saam met sy seuns by die Kensington-paleis na die blommesee gaan kyk wat buite die paleis se hekke neergesit is. Harry het blomme van bewonderaars van sy ma ontvang en dit by die res gaan neersit terwyl William selfs met omstanders gepraat het. Foto: Getty Images
Diana het tydens haar en Charles se wittebrood glo tekens van emosionele onstabiliteit getoon. ’n Psigiater se hulp is ingeroep, maar Diana wou nie die voorgeskrewe medikasie neem nie. Foto: Getty Images

Diana, wat uit ’n gebroke huis gekom het en wie se ouers in ’n smerige egskeidingsaak betrokke was, het met sprokieskleurige getinte lense haar huwelik met prins Charles ingegaan.

Toe sy voor haar troudag verneem dat Charles tot kort voor haar verskyning op die toneel met die getroude Camilla Parker-Bowles ’n verhouding gehad het, was Diana emosioneel verslae. Die aand voor die troue wou sy die spreekwoordelike handdoek ingooi, maar sy het deurgedruk nadat haar susters grappenderwys gesê het haar gesig is reeds op die afdroogdoeke gedruk.

Tydens hul wittebrood was Diana melankolies en is Valium vir haar voorgeskryf, skryf Sally Bedell Smith, ’n gerekende koninklike skrywer, in haar jongste boek Prince Charles: The Passions and Paradoxes of an Improbable Life.

Charles kon nie sy jong bruid se skielike gemoedskommelings verstaan nie, en het hulp ingeroep.

Diana wou nie die medikasie neem nie en die Suid-Afrikaans gebore sir Laurens van der Post is laat kom om met Diana te praat. Van der Post, een van Charles se peetpa’s, kon nie deurdring tot Diana nie het aanbeveel dat psigiatriese hulp ingeroep word.

Hoewel Diana die psigiater net ’n paar keer gespreek het, het Charles die psigiater 14 jaar lank gesien om hom te help om Diana se emosionele onstabiliteit te hanteer, skryf Bedell Smith in haar boek.

Diana en haar seuns in die Thorpe-pretpark nadat hulle op ’n waterglybaan afgery het onder groot gelag. Diana het haar seuns op sulke uitstappies geneem en gesorg dat hulle nie voorkeurbehandeling kry nie. Hulle moes byvoorbeeld in die ry staan vir kaartjies. Foto: Getty Images

Diana was buierig, onseker van haarself, het bulimie gehad en het toe sy saam met Andrew Morton in die geheim aan ’n outobiografie gewerk het, erken dat sy aan depressie ly. Haar buie was onvoorspelbaar, sy kon vinnig woedend word en kon vir lang tye met ’n dikbek rondloop.

Ondanks al dié probleme was Diana ongelooflik lief vir haar seuns. Hulle was haar alles. Dit is sy wat die saadjie by hulle geplant het om liefdadigheidswerk te doen in gebiede wat voorheen nie aandag gekry het nie.

Om aan gewone mense te raak, om op oogvlak af te sak wanneer jy met kinders praat, en om aan haweloses en skatryk skenkers dieselfde aandag te gee. Sy het hulle probeer bekend stel aan die gewone lewe en het daardeur ook ’n blik gegee op ’n ongelukkig getroude vrou met emosionele probleme wat vasgevang was in die goue hok van ’n koninklike huwelik. En Diana het haar ongelukkigheid met haar seuns, veral William, gedeel. Hulle het gehoor hoe hul ouers baklei en het hul ma se trane aanskou.

Vir albei seuns moes dié wonde en herinneringe aan hul kinderdae tesame met die ongelooflike verlies van hul ma op slegs 15 en 12 jaar verpletterend gewees het. Hulle was skaars weke voor haar dood nog saam met haar met vakansie.

Harry sê hy het haar dood geïgnoreer en bloot sy kop in die sand gedruk. “Ek het myself selfs verbied om aan my ma te dink.” Vir William was sy ma se dood die inspirasie om by Heads Together betrokke te raak.

Die driemanskap

’n Skermgreep van prins William wat aanlyn met die popster Lady Gaga gesels oor die Heads Together-veldtog. Hy het Lady Gaga ook aan boord gekry om mense te oortuig om oor hul probleme te praat en hulp te soek. Foto: AP

Só het die driemanskap dus in Mei 2016 hul gewig agter Heads Together ingegooi. Die feit dat die jong koninklikes gewone mense aangemoedig het om eerlik oor hul gevoelens te wees en hulp te soek indien nodig, het gewerk. Daarby ook het al drie as deel van hul betrokkenheid by Heads Together al hoe meer persoonlike besonderhede verklap oor hul eie probleme. Veral die broers het dikwels opmerkings oor hul eie gevoelens ná hul ma se dood gemaak.

Tog, nie een van hul bewusmakingsveldtogte het die impak gehad van eers Harry en toe William se onderhoude vandeesweek nie.

Die 32-jarige Harry was in sy eie woorde vir amper twee jaar onbeheerbaar. Nagklubs waaruit hy vroegoggend gestrompel het, was die paparazzi se kos, en sy onoordeelkundige manewales in Los Angeles toe hy poker gespeel en kaalbas met net ’n hoed en sy hande voor sy “kroonjuwele” op kamera betrap is, is seker van die laagtepunte van dié tyd.

Die woede oor sy ma se dood het só aan hom gevreet dat hy begin boks het om van sy aggressie ontslae te raak. Dit het nie gewerk nie en ouboet William het hom aangemoedig om professionele hulp te kry.

Harry het sy broer se raad gevolg. Die rooikop is, naas sy ouma, die gewildste koninklike.

Selfs William, wat nie so met sy hart op sy mou loop soos Harry nie, het in sy onderhoud gesê die tipiese Engelse stiff upper lip moet verslap word en mense moet meer openlik praat oor hul geestesprobleme.

Dit is duidelik dat Diana se seuns nie hul ma se foute gaan herhaal nie. Dit is asof hulle die spoke van die verlede trompop loop en een vir een laat gaan.

Spoke van die verlede

Diana het dikwels gesê dat haar en Charles se huwelik finaal ná Harry se geboorte verbrokkel het. Foto: Reuters
Vir William en Harry was Diana eerstens net hul mamma. Hier hardloop hulle mekaar tegemoet ná ’n reis van Charles en Diana. Daar is ook ’n foto van Charles wat die kinders ná Diana op presies dieselfde wyse omhels. Foto: Getty Images

Buite die paleis se mure was Diana die glansprinses met die gulste glimlag, ondeunde kyk in haar oë en grootste hart, agter die hekke van die paleis was sy alleen, onseker, ongelukkig in haar huwelik en het sy haar lot bekla by waarsegsters, tarrotkaartlesers en alternatiewe genesers.

As ’n vriend of vriendin iets gedoen het wat nie na haar sin was nie, het sy hulle bloot uit haar lewe gesny. Tog, vir die publiek was sy die spreekwoordelike sprokiesprinses. Haar pleidooi, om die koningin van mense se harte te wees, is volbring met haar dood.

Vir William sal die herinneringe van die dae toe hy as jong seun snesies onder die badkamerdeur moes deurstoot vir sy huilende ma, hom seker altyd bybly. Hy was sy ma se vertroueling, al was hy bloot ’n jong seun. Dit is dalk ook dié herinneringe wat die rede was dat hy en Catherine so lank uitgegaan het (en sy die lelike bynaam “Waity Kaity” moes verduur). William moes seker maak sy huwelik is ’n sukses. Sy bruid moes saam met hom die juk van die koninklike lewe dra.

Harry se openheid oor die woede wat hy ná Diana se dood ervaar het en dat hy amper ’n ineenstorting gehad het, is tekenend dat hy sy ma se kind is. Hy deel sy ervarings om ander mense te help.

En William, wat soms so behoudend voorkom, sê reguit sy ma se dood het hom geïnspireer om betrokke te raak by Heads Together. Ook hy het al aan ’n kind tydens ’n Heads Together-byeenkoms gesê hoe kwaad hy ná sy ma se dood was en hy het die kind aangemoedig om oor sy gevoelens te praat.

Met veral Harry wat geloof is vir sy uitgesprokenheid om die stigma rakende geestesgesondheidsprobleme te help afbreek, William se hulp en nou ook Catherine s’n, is dit duidelik dat dié driemanskap enige spoke uit die verlede gaan verjaag.

Gelukkige eindes?

Prins William en Catherine, hertogin van Cambridge, het Donderdagoggend die amptelike opening van The Global Academy bygewoon. Dié akademie is ’n staatskool wat leerlinge sal help om hulle vir werk in die uitsaai- en digitale mediawêreld te bekwaam. Die akademie ondersteun ook die Heads Together-veldtog. Harry was saam met William en Catherine by die opening. Foto: Getty Images

William en Catherine werk hard daaraan om hul gesin ’n normale lewe te gee. Die koningin gun hom en sy jong gesin ook die tyd en privaatheid om dit te doen.

Só wil hy en Catherine graag self vir George by die kleuterskool gaan aflaai wanneer hy in September begin skoolgaan. Hulle het ook gevra dat ’n ry bome langs een van die heinings om Kensington-paleis geplant word om hul kinders meer privaatheid te gee wanneer hulle in die paleistuine speel.

Harry se gelukkige einde is dalk ook op hande. Die aktrise Meghan Markle se ma is benewens ’n joga-instrukteur ook ’n professionele berader. Dalk is dit ook die standvastigheid van sy nuwe verhouding met Meghan wat Harry die moed gegee het om sy hart oop te maak.

Vir William en Harry sal hul ma se voorbeeld – haar openbare beeld en private stryd om geluk te vind – altyd in hul hart afgeëts wees. Die 20ste herdenking van Diana se dood in Augustus lê ook nog voor. Die broers het nog vele planne om haar lewe te herdenk.

En moenie vir prins Charles uit die prentjie laat nie. Hoewel die seuns relatief jonk was toe hul pa professionele hulp sou gesoek het, is dit duidelik dat William en Harry se pogings om ’n verskil te maak, van albei hul ouers af kom.

Meer oor:  Prins William  |  Prins Harry  |  Catherine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.