Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Jonges verwonderd toe hulle Monument besoek

Skoolgroepe is stadig maar seker besig om na die Voortrekkermonument in Pretoria terug te keer sedert die begin van die Covid-19-pandemie wat sulke besoeke erg ontwrig het.

Die skoolgroep is op ’n toer deur die Voortrekkermonument geneem en het onder meer oor die geskiedenis van die monument en die Groot Trek geleer. Foto: Deaan Vivier

Leerlinge van die Solid Foundations Primary School in Kempton Park was die eerste skoolgroep wat vandeesmaand die monument besoek het.

Verlede maand was daar ook ’n skool voordat strenger inperkings weer ingestel is weens die derde vlaag van infeksies.

Gewoonlik besoek heelwat meer skoolgroepe die monument, maar Covid-19 met sy inperkingsmaatreëls het sy tol geëis, sê Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die Voortrekkermonument.

Solid Foundations Primary School besoek die monument al tien jaar om ’n nuwe leerondervinding vir die leerlinge te bied. Donderdag het ’n groep opgewonde gr. 4-leerlinge uit die skoolbus by die monument geklim. Die verwondering op hul kindergesiggies oor dié reusegebou was ondanks hul maskers sigbaar.

Die leerlinge is op ’n toer deur die monument geneem en is oor onder meer die geskiedenis van dié kulturele baken en die Groot Trek ingelig.

Natalie de Waal, ’n onderwyseres, sê dié geskiedkundige gebeure is nie deel van die leerlinge se sillabus nie, maar dat dié toer deur die monument hulle ’n mate van blootstelling daaraan gee.

Die gr. 4-leerlinge kyk af na die senotaaf wat die sentrale fokuspunt van die Voortrekkermonument is. Foto: Deaan Vivier
Die skoolgroep is op ’n toer deur die Voortrekkermonument geneem en het onder meer oor die geskiedenis van die monument en die Groot Trek geleer. Foto: Deaan Vivier
Die leerlinge was in verwondering oor hoe groot die Voortrekkermonument is. Foto: Deaan Vivier

“ ’n Toer na die Voortrekkermonument is die moeite werd, want daar is soveel om te sien, leer en doen. Dan is daar ook die pragtige tuin en uitsig,” sê sy.

“Toe ek hul (die leerlinge se) ouderdom was, het ons na die monument toe gekom en ek kan dit nou nog onthou. So ek glo hulle sal dit ook onthou.”

Die leerlinge verkyk hulle aan die Vrouebeeld by die ingang van die Voortrekkermonument. Foto: Deaan Vivier

Nonjabulo Ntshembeni (9) was verras om te sien hoe groot die monument is.

“Dit het baie klein gelyk toe ek op die bus langs my maatjie gesit het, maar toe ek uitklim, het ek besef hoe groot dit werklik is,” sê die meisie.

“Ek is veral mal oor die kerfwerk van die kuns in die monument – dit is ’n simbool van Suid-Afrika se geskiedenis.”

Dit was nie Ezra Naidoo (10) se eerste besoek aan die monument nie, maar hy erken hy het dié keer aspekte van die geskiedenis geleer wat hy nie voorheen geweet het nie.

“Soos dat die Voortrekkervroue geskiet het in die oorlog (veldslae) en ek het nie besef hoe ver die Voortrekkerleiers oor die land getrek het nie,” verduidelik hy.

Behalwe dat sy met haar eerste besoek aan die Voortrekkermonument baie nuwe dinge oor die land se geskiedenis geleer het, was Privan Perasoroman (10) veral beïndruk deur al die bome en die groot natuurreservaat op die terrein.

Nhlamulo Maluleke (10) raai haar vriende aan om die monument te besoek omdat sy dié deel van Suid-Afrika se geskiedenis baie interessant vind.

Leerlinge van die Solid Foundations Primary School in Kempton Park loop op by die trappe na die Voortrekkermonument. Hulle is Donderdag op ’n toer deur die monument geneem. Foto: Deaan Vivier
Meer oor:  Pretoria  |  Voortrekkermonument  |  Besoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.