Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Jonk tot oud hou rodeo-pret in Bapsfontein
Die rodeo-bul Graveyard van Beth Susan Stock Contractors het die laaste sê en gooi hier vir Charles Beeskraal van sy rug af. Foto: René Schoeman Photography

Rodeo is ’n familiesport wat die kultuur en die buitelewe vier soos die mense dit in die ou dae gedoen het.

Só sê Hekkie Beukes, president van SA Rodeo, oor die rodeo wat een van sy klubs, Rough Stock Rodeo, die afgelope naweek by die Que Sera-plaas naby Bapsfontein, Gauteng, gehou het.

“Die kinders sit deesdae te veel in die huis en speel rekenaarspeletjies. ’n Rodeo is vir ons baie meer opwindend en meer van ’n natuurlike sport,” sê Beukes.

Gabrie Breedt spook om op die bul JJ van Potgieter Stock Contractors te bly sit. In die agtergrond is Kaylon Liversedge, wat onder meer die ruiter moet veilig hou en die bul moet beheer. Foto: René Schoeman Photography

Honderde mense met cowboy-hoede op het die pret Vrydag en Saterdag bygewoon.

Oud en jonk het bul gery, aan die cowboy-perdry-kompetisie deelgeneem, op motorfietse meegeding en selfs aan die Mnr. en Mej. Rodeo-kompetisie deelgeneem.

Trouens, kinders so jonk as Beukes se 12-jarige dogter, Chani, het bul gery.

Hekkie Beukes, president van SA Rodeo, staan voor die rodeo-bulle. Foto: Jeanelle Greyling

Oral om jou was daar ook peuters wat probeer sweepslaan het en mekaar op die speelgoedbul gas gegee het.

“SA Rodeo hou gereeld rodeo’s regoor die land. Hulle is ook op feeste te sien,” sê Beukes.

Die eerste rodeo in Suid-Afrika is reeds in 1979 gehou.

SA Rodeo is in 2010 gestig sodat die deelnemers regoor die land ’n standaard kan handhaaf.

Handrie van Bergin ry op die rodeo-bul Bles van Robert Williams Stock Contractors. Foto: René Schoeman Photography
’n Ruiter en sy perd tydens die Cowboy-resies. Foto: Jeanelle Greyling
Adriaan Breed (5) stoot vir Phillip van der Linde (5) op die speelgoedbul terwyl Juan-Pierre Breed (6) staan en toekyk.Foto: Jeanelle Greyling
Twee seuntjies probeer hul slag met die sweep wys.Foto: Jeanelle Greyling
Twee van die gunsteling-rodeo-bulle, Zoeloe en Braveheart.Foto: Jeanelle Greyling

Die diere ondergaan ’n omvattende proses om rodeo-gereed te wees. Die bulle moet byvoorbeeld oefen om by die kraal in en uit te loop en hulle leer om die ruiters vir hoogstens agt sekondes op ’n slag te verdra.

“Jy kan nie die bul vir meer as agt sekondes ry nie, want anders put jy hom te veel uit. Hy gebruik baie energie in die agt sekondes wat jy op hom is,” sê Beukes.

Beukes sê SA Rodeo werk baie hard om ’n herlewing in die tradisie te bewerkstellig.

“Dis hartseer om te sien hoe min kinders al ooit ’n perd in hul lewe gesien het.”

Die datum van die eindronde is nog nie bevestig nie.

Elke deelnemer moet aan ten minste drie rodeo’s deelneem om vir die eindronde te kwalifiseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.