Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kaapse gesin braai al vir 200 dae in ’n ry
Die Kift-gesin om hul tafel op dag 100. Links is Nicole (8), Grace (5), Elsimé en Martin.Foto: Verskaf

Suid-Afrikaners is ongetwyfeld lief vir braai en verskeie gesinne het tydens die inperking aand ná aand ’n vuur aangesteek – maar een Kaapse gesin het nog verder gegaan as ander.

Die Kift-gesin van Durbanville gooi nou al vir 200 dae elke aand iets oor die kole – en hulle beplan om dit dalk vol te hou tot Kersfees.

“Ek beplan elke aand die aandete rondom wat ek op die vuur gaan maak,” sê Martin Kift, ’n finansiële beplanner.

“Soms is dit biefstuk, soms skaapvleis, stokbrood of potjiekos. Ek besluit wat ons gaan eet, en my vrou en dogters help met die bykosse.”

Kift se vrou, Elsimé, en dogters Nicole (8) en Grace (5), braai al te lekker saam.

“Ons het elke dag ’n vuur aangesteek, en soms twee keer ’n dag op ’n naweek vir middag- en aandete,” sê Martin. “Ek hou baie van kosmaak en probeer gereeld nuwe goed.”

As die gesin genooi is vir ’n kuier of ’n verjaardagpartytjie (op vlak 1) het Martin gesê hy kan kom, maar hy moet braai.

“Dan het ek my rooster en braaivleis saamgevat en sommer vir al die gaste ’n vleisie gebraai.” So het hy sy rekord van 200 aande in ’n ry opgestel.

Elke aand as die gesin aansit, neem Martin ’n foto van hulle om die tafel. “Dit is ’n lekker herinnering en ek wil dit graag laat raam en in die huis ophang.”

So lyk Martin Kift se braaiplek.Foto: Verskaf

Sy vrou het Maandagoggend gevra of hy nie dink 200 aande in ’n ry is genoeg nie. “Maar as ek besluit om op te hou braai, sal ons ander planne vir aandete moet begin uitdink,” skerts Martin.

Om braaivleisvuur nommer 200 Maandagaand te vier het Martin ’n paar vriende en sy ma genooi om saam met hulle om die vuur te sit met ’n glasie wyn.

“Die lekker ding van elke dag braai, is dat jy elke dag kan drink,” spot Martin.

Hy sal dit nog oorweeg of hy langer gaan voortgaan met die braaiery. “Ons het nog gespot dat ons dalk moet aangaan tot Kersfees. Dan eet ’n mens ’n lekker skaaprib in plaas van die gewone gamon en tong. Ons kyk maar,” sê hy.

Martin koop 30 sakke kameeldoringhout op ’n slag by ’n vriend, Bertus Smit, wat dit invoer uit Namibië. Hy koop sy vleis plaaslik by sy gunstelingslaghuis, The Boer & Butcher.

Adolf (51) en Elza Botes (50), ’n egpaar van Stilbaai wat dieselfde gedoen het sedert die begin van die inperking, sê hulle het opgehou braai toe hulle dag 110 bereik. Nou braai hulle net vyf van die sewe aande ’n week.

Meer oor:  Braai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.