Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kaapse Mej. SA-finalis wys ander die Moederstad

Jordan van der Vyver, die enigste Wes-Kaapse Mej. Suid-Afrika-finalis, is ekstaties om Kaapstad vir haar mededeelnemers te wys, en ook omdat die kroningsgeleentheid vanjaar die eerste keer in die Moederstad gehou word.

Die finaliste is die afgelope weke in die Kaap waar hulle op uitstappies gaan, bekendes ontmoet en materiaal verfilm wat op die kroningsaand vertoon gaan word.

“Ek het die afgelope tyd baie goed vir die eerste keer saam met my medefinaliste in Kaapstad gedoen,” sê Van der Vyver, ’n internasionale model van Groenpunt.

“Ek was verheug om tyd saam met hulle in my tuisstad deur te bring. Ons het Dan Plato, die burgemeester, ontmoet, was op ’n rooibustoer deur die stad en ons het ’n aand saam met Amy Kleinhans deurgebring.”

Kleinhans was die wenner van die Mej. Suid-Afrika-titel in 1992. Elke finalis kon by ’n geleentheid Dinsdagaand na haar raad luister en ’n foto saam met haar neem.

Jordan van der Vyver (26), die enigste Wes-Kaapse Mej. Suid-Afrika-finalis. Foto: Jaco Marais

“Amy is een van die mees onvergeetlike mense wat ek al ontmoet het,” skryf Van der Vyver op Instagram. “Sy is snaaks en grasieus. Sy is plat op die aarde. Ek kon nie anders as om in verwondering te luister terwyl sy haar stories vertel of haar wysheid oordra nie.”

Die finaliste het ook ander bekendes soos Rolene Strauss, ’n voormalige Mej. Wêreld, ontmoet.

Van der Vyver sê in Kaapstad het sy haar medefinaliste voorgestel aan ’n lekker dag van wynproe en vir hulle Kampsbaai gewys.

“Een van my gunstelingdae was op my 25ste verjaardag Sondag toe ons saam met Brand SA Khayelitsha toe is om die wonderlike prestasies te sien van individue wat ’n groot verskil in hul gemeenskap maak.”

Mej. Suid-Afrika 2020 word gekroon by ’n glansgeleentheid op 24 Oktober om 17:00 in Kaapstad. Die organisasie het nog nie bekend gemaak by watter lokaal dit gehou gaan word nie, maar het gesê dat ’n beperkte getal toeskouers dit sal kan bywoon.

Die geleentheid word regstreeks op M-Net en Mzansi Magic uitgesaai.

Die finaliste Vrydag voor die ingang van die Robbeneiland-gevangenis. Van links is Lebogang Mahlangu, Shudufhadzo Musida, Natasha Joubert, Melissa Nayimuli, Karishma Ramdev, Busisiwe Mmotla, Jordan van der Vyver, Chantelle Pretorius, Thato Mosehle en Aphelele Mbiyo. Foto: Jaco Marais

Die toptien-finaliste is: Shudufhadzo Musida (Limpopo), Jordan van der Vyver (Wes-Kaap), Aphelele Mbiyo (Oos-Kaap), Lebogang Mahlangu (Gauteng), Busisiwe Mmotla (Gauteng), Chantelle Pretorius (Gauteng), Natasha Joubert (Gauteng), Thato Mosehle (Noordwes), Melissa Nayimuli (Oos-Kaap) en Karishma Ramdev (KwaZulu-Natal).

Die topdrie-deelnemers sal die land by die wêreld se drie gesogste skoonheidskompetisies – Mej. Wêreld, Mej. Heelal en Mej. Supranasionaal – verteenwoordig. Dit is die eerste jaar dat die Mej. Suid-Afrika-organisasie ’n verteenwoordiger na Mej. Supranasionaal stuur.

Meer oor:  Jordan Van Der Vyver  |  Kaapstad  |  Mej. Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.