Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kaapse oorlogsveteraan vier 100ste verjaardag

’n Oorlogsveteraan van Kaapstad word Dinsdag 100 jaar oud en sy verstand is nog so helder soos toe hy hom op 18 by die weermag aangesluit het.

Sydney Thomas Ireland is op 9 Maart 1921 op ’n melkplaas in die Parow-distrik gebore en hy vier sy geboortedag die komende naweek saam met vriende en familie aan sy sy.

Volgens Barbara Rous, sy dogter, was verlede jaar ’n moeilike jaar vir haar pa nadat hy in Junie longontsteking opgedoen het en tien dae lank in die hospitaal was.

Sydney Thomas Ireland by die Artillerie-monument in die Kompanjiestuin in Kaapstad. Die monument is opgerig ter nagedagtenis aan die kanonniers wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog vir Suid-Afrika geveg het.

“Hy moes suurstofbehandeling kry, en hoewel hy herstel het, het hy die gebruik van sy bene verloor,” sê sy.

Ireland is dus nou rolstoelgebonde, maar dit keer hom nie om op ’n selfoon te werk en te bel wanneer hy iets nodig het nie.

“Die inperking was vir hom baie moeilik, net soos dit vir baie ou mense in ouetehuise moeilik was. Maar hy het met ongelooflike deursettingsvermoë daardeur gekom. Hoewel sy liggaam hom in die steek laat, is sy verstand nog glashelder.”

Ireland sukkel wel met sy gehoor en dra in albei ore ’n gehoorstuk.

Hy woon in Rosebank in Huis Luckoff en word weens sy rolstoelgebondenheid in die eenheid vir verswakte bejaardes behandel. Hy kan Rous op afspraak buite in die tuin besoek.

“Hy sien baie daarna uit om 100 te word, want ons neem hom Sondag ’n bietjie uit na Kelvin Grove-klub in Kaapstad, waar ons vir hom gaan sing en waar ’n boek aan hom oorhandig gaan word.”

Ireland het in die seinkorps gedien en verteenwoordigers van die korps sal op sy verjaarsdag ’n eksemplaar van ’n boek aan hom oorhandig waarvan 25 bladsye aan hom gewy is. Dit bevat sy lewensverhaal en foto’s van hom en sy familie.

Sydney Ireland se verhaal

Ireland kom uit ’n gesin van agt. Hy is na sy pa genoem en het ’n tweelingbroer, Lionel, gehad, asook nog twee broers en twee susters.

Op sesjarige ouderdom verhuis sy gesin na Groenpunt, waar hy by die Laerskool Seepunt skoolgaan. Daarna is hy na Cape Town High School, ’n seunskool in Buitenkantstraat.

Sydney Thomas Ireland vier Dinsdag sy 100ste verjaardag.

Op skool het Sydney aan sport deelgeneem, hoofsaaklik sokker en krieket. Toe hy skool verlaat, het hy hom by die Poskantoor aangesluit en sy tweelingbroer het hom by die spoorweë aangesluit.

Op die ouderdom van 18 het hy hom by die weermag aangesluit en hy is as ’n seinoperateur in die seinkorps aangestel. Sy eerste kamp was in 1939 in Klaasjagusfontein naby Kaappunt en sy tweede oefenkamp by Voortrekkerhoogte in Pretoria.

Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, word hy op 27 Mei 1940 opgeroep en vertrek hy per trein na Potchefstroom. Daar het hy vier maande lank opleiding ontvang.

In Oktober 1940 word sy regiment ontplooi na Durban, waar hy aan boord gaan van die Durban Castle Liner, wat hom na Mombasa in Kenia neem. Die skip is deur twee oorlogskepe begelei.

Ná hul aankoms in Mombasa klim hulle op ’n trein na Nairobi en van daar na ’n kamp met die naam Gilgil. By Gilgil oefen sy regiment met die infanterie. Hy was aan die Natal Mounted Rifles (NMR) as hul seiner verbonde.

Hy bly by die NMR dwarsdeur die Oos-Afrikaanse en Egiptiese veldtogte en doen diens in Kenia, Abessinië en die Italiaanse Somaliland. Van daar is hy na die Westelike Woestyn van Egipte.

Sydney Thomas Ireland in sy jong dae.

Toe die hawestad Tobruk in Libië deur Duitse magte oorgeneem is, het Ireland ontsnap en weer sy regiment by El-Alamein in Egipte ontmoet.

Hy is in 1943 huis toe gestuur, drie en ’n half jaar nadat hy Kaapstad verlaat het. Hy het siek geword aan longontsteking en borsvliesontsteking en is na die Wynberg-hospitaal in Kaapstad gestuur om te herstel.

Nadat hy herstel het, is hy na Saldanhabaai gestuur vir herstelwerk aan ’n radiostasie. Daarna is hy terug na Potchefstroom, waar hy as radio-operateur by die lugmag aangestel is. Dit het behels dat Ireland ’n omskakelingskursus van die weermag- na lugmagprosedures moet volg.

Vir sy eerste lugmagdiens is hy na Bulawayo, Rhodesië (nou Zimbabwe), gestuur, gevolg deur Ndola in Noord-Rhodesië (nou Zambië) en daarna na Nchanga in die Kopergordel-provinsie in die noorde van Zambië.

Hy was aan die Suid-Afrikaanse Lugmag as radio-operateur verbonde en was lid van die pendeldiens wat soldate per vliegtuig van Kaïro na Pretoria teruggebring het.

Ireland is in Desember 1945 ontslaan in Potchefstroom en het hom weer by die Algemene Poskantoor in Kaapstad gaan aansluit.

Hy is op 8 Maart 1947 met Olga getroud. Hulle het drie kinders gehad, Jennifer, Barbara en Geoffrey. In 1975 het Ireland en Olga op die Reina Del Mar na Suid-Amerika gereis en Brasilië, Argentinië en Uruguay besoek.

Ireland het ná 43 jaar in 1981 by die Poskantoor afgetree. Hy het in 1982 ’n woonwa gekoop en vir 13 jaar so gereeld as moontlik deur Suid-Afrika getoer. In die jaar 2000 besoek hy en Olga drie maande lank hul seun, Geoffrey, en sy gesin in Toronto, Kanada.

Olga is in Junie 2001 oorlede.

Ireland het in 2001 sy huis in Duiwelspiek, Kaapstad, verkoop en by sy dogter Barbara en skoonseun Korky Rous en hul twee kinders, Nicholas en Adam, ingetrek totdat hy in 2015 na Huis Luckoff in Rosebank verhuis het.

Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.