Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kalkbaai se hoofstraat ‘een van bestes ter wêreld’

Die hoofstraat in Kalkbaai, Kaapstad, is onlangs aangewys as een van die beste strate in die wêreld.

Die hoofstraat in Kalkbaai. Foto: Shutterstock/A.Mertens

TimeOut, ’n wêreldwye media- en gasvryheidsonderneming, het op 9 Junie ’n lys van die wêreld se 30 beste strate bekend gestel – met Kalkbaai se hoofstraat op nommer 22.

Om die lys saam te stel, het TimeOut 27 000 stedelinge en plaaslike kundiges ondervra om sodoende die beste strate ter wêreld wat betref kos, pret, kultuur en gemeenskaplikheid vas te stel.

TimeOut het die Kalkbaai-hoofstraat as “betowerend” beskryf.

Van die huise wat op die see uitkyk tot die Dalebrook-getypoel waar inwoners en gaste op ’n warm dag swem en op hul handdoeke op die rotse lê en bak, het die straat iets van alles.

Die Brass Bell-restaurant met sy eie getypoel. Foto: Facebook

Kenneth McClarty, eienaar van die Olympia Cafe in die hoofstraat wat al sedert 1919 bestaan, sê wat die pad help uitstaan, is sy unieke restaurante.

“Hier is nie regtig franchise-restaurante nie,” sê hy. “Elke restaurant is amper uniek en eg aan Kalkbaai en dan kry jy nog die hawe net oorkant die straat.”

Bobby MacGregor, ’n kelner by die Olympia Cafe, sê die hawe en die branders wat so teen die hawemuur klots, is “skouspelagtig”.

“In die straat het ons ’n gemengde kultuur van dinge,” sê hy. “Dit is ook rustig hier. Mense kan hier kom om ’n bietjie asem te skep. Naweke en vakansies is hier nie plek vir ’n mier nie!”

Jean-Pierre Nortier, hoofsjef by die Brass Bell-restaurant wat aan ’n getypoel grens, sê die feit dat die hoofstraat drie getypoele het, dra tot sy uniekheid by.

“Mense kan ’n hele dag hier deurbring, want hier is baie om te sien en te doen,” sê hy. “Die visbedryf by die hawe is net so interessant om te aanskou.”

7de Laan in Melville, Johannesburg, is 12de op die lys. Die eerste plek word deur Smithstraat in Melbourne, Australië beklee.

Die res van die lys kan hier gesien word.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Time Out
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.