Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kamers/Makers: Kreatiwiteit gevier

Kamers/Makers, Suid-Afrika se gunstelingfees van kreatiwiteit, is terug in Irene aan die begin van Desember. Kom snuffel rond by Kamers/Makers en verkyk jou aan alles van handgemaakte juweliersware, klere, huisware, dekorartikels en meer. Vandag vertel drie van die uitstallers meer oor hulself en hul produkte.

Mooi en handgemaakte produkte kraai weer koning by Kamers/Makers in Desember. Foto: Charl duPreez en NickyMyburgh

Met meer as 200 uitstallers is daar baie om na uit te sien. Kom doen jou Kersinkopies en geniet die feestelike en ontspanne atmosfeer wat beslis gaan heers tydens die mark.

WEN!

Vyf gelukkige lesers kan elk ’n dubbelkaartjie na Kamers/Makers wen. Om in aanmerking te kom, SMS jou naam, van en e-posadres na 35986.

Begin jou SMS met “Kamers”. ’n SMS kos R1,50 en die kompetisie sluit Maandag om 10:00.

Consol-glas het hulself as die perfekte vennoot vir die mark bewys: hul nuwe opslaan-winkel was ’n reuse sukses tydens die mark wat vroeër vanjaar by St John’s in Johannesburg gehou is. Dié winkel gaan ook by die mark in Irene wees.

Saam het Kamers en Consol dit reggekry om geen plastiek in hul deli te hê nie! En die Consol-waterbottel wat aan elke besoeker gegee word, het tot dusver verhoed dat meer as 140 000 plastiekbottels in die asblik beland het. Dié uiters gewilde weggee van ’n gratis Consol-glaswaterbottel gaan voort.

Vul jou bottel soveel keer as wat jy wil van die houers met gesuiwerde water by die mark en dit is glad nie nodig om ’n plastiekbottel te koop nie. Kamers vind plaas van 3 tot 8 Desember, van 09:00 tot 17:00 daagliks by Cornwall Hill Col­lege, Irene. Vrydagaand 6 Desember is die mark oop tot 20:00, met gratis toegang vanaf 16:30.

Kaartjies is beskikbaar by plankton.mobi teen R70 en by die ingang teen R100. Om op meer as een dag in te loer betaal jy R130. Dit sluit ’n beperkte-uitgawe-Kamers/Makers-inkopiesak, ’n glaswaterbottel van Consol en ’n tydskrif in.

Studente en pensioentrekkers betaal R70. Toegang is gratis vir kinders onder 18. Groepafslag: Koop drie kaartjies, kry een verniet.

Vir meer inligting besoek kamers.co.za of gaan kyk op sosiale media by @kamersvol.


Ma Mère

Raak feestelik met Ma Mère.

Wie is julle en wat is jul produk?

My naam is Lexi Bird en ek is die eienaar van Ma Mère Confections. Ons maak ’n reeks handgemaakte, luukse lekkergoed (soos nougat en makrolletjies) verpak in pragtige, goed-ontwerpte verpakking. Ek het die onderneming begin omdat ek ’n gaping in die mark geïdentifiseer het vir produkte wat so goed proe soos wat hulle lyk. Dikwels is die verpakking mooi, maar die produk se standaard is laag – dit is presies waar Ma Mère Confections uitstaan en die mark domineer. Die onderneming het aanvanklik as ’n stokperdjie in my ma se kombuis begin en dit het van daar af gegroei.

Wat maak jul produk uniek?

Ek het nooit bedoel dat dié my werk sou word nie. Aan die begin toe dit nog net ’n stokperdjie was, het ek by ’n advertensieagentskap gewerk en my doel was om aan te hou werk in die veld van kreatiewe ontwerp. My stokperdjie het nou uitgebrei in ’n fabriek wat aan 18 vroue werk verskaf!

Waarna sien julle uit by Kamers/Makers in Irene?

Dit is vir my heerlik om by Kamers betrokke te wees. Dit gee vir my die geleentheid om met ons kliënte te gesels en ek kry die kans om te sien hoe hulle ons produkte geniet – dit sal altyd vir my spesiaal wees!

Ons het ook pas ’n nuwe reeks bekend gestel asook geskenke vir onderwysers en ons het ’n paar heerlike nuwe makrolletjie-geure wat besoekers aan Kamers moet kom probeer!

Vir meer inligting, besoek mamere.co.za.


Griekse Boertjie

Griekse lekkernye is op die spyskaart by Griekse Boertjie. Foto: Carey Slade

Wie is julle en wat is jul produk?

Ons onderneming se naam is Griekse Boertjie. Mike Kyriazis is die Griek en Madelé Kyriazis is die Boertjie!

Ons maak Griekse shawarmas (in Griekeland noem hulle dit ’n “yiro”) en ’n verskeidenheid Griekse meze-borde. Ons spesialiteit is Griekse kos – met ’n Suid-Afrikaanse kinkel. Griekse Boertjie het vier jaar gelede begin nadat ons by Mike se familie in Griekeland gekuier het. Ons het die smake van die Griekse eilande gemis en kon dit nêrens in Suid-Afrika vind nie. Toe besluit ons dan moet ons dit maar self maak.

Wat maak jul produk uniek?

Ons is mal oor ons naam – dit is die perfekte uitbeelding van wie ons is: helfte Grieks, helfte Afrikaans. Mike het in Suid-Afrika grootgeword en praat vlot Afrikaans – so hy is ook ’n regte Griekse Boertjie!

Waarna sien julle uit by Kamers/Makers in Irene?

Madelé het grootgeword in Pretoria en ons woon nog steeds vyf minute van Irene af. Dit gaan ’n plesier wees om ons egte Griekse geregte basies in ons agterplaas vir gaste te maak!

Daar is ook altyd iets nuuts op ons spyskaart – julle sal moet kom inloer by Kamers om te sien wat dit is . . .


Mirari Gin deur Time Anchor Distillery

Kom proe Mirari Gin by Kamers/Makers.

Wie is julle en wat is jul produk?

My naam is Shanna-Rae Wilby, ek is die eienaar van Time Anchor Distillery, en die distilleerder van die Mirari Gin-reeks.

Ons maak ’n reeks gedistilleerde spiritualieë, insluitende rum en whisky, maar ons bekendste produk is die Mirari Gin. Ek het Time Anchor in 2013 begin met ’n missie om my passie vir outentieke, natuurlik gedistilleerde produkte met Suid-Afrikaners te deel en om terselfdertyd terug te gee aan ons ekonomie en die gemeenskap.

Wat maak jul produk uniek?

Ons was die eerste “boetiek”-distilleerdery om in Gauteng oop te maak en ons is die enigste distilleerdery in die land wat ten volle deur vroue bestuur word. Ons is nie net ’n jenewer-handelsmerk nie, ons is distilleerders en jenewer-meesters. Ons produkte is 100% natuurlik met geen kunsmatige geur- of kleurmiddels nie en ook geen preserveermiddels nie.

Waarna sien julle uit by Kamers/Makers in Irene?

Dit is vir ons ’n plesier om wisselwerking te hê met ons gemeenskap. Kamers/Makers gee vir ons die wonderlike geleentheid om dit te kan doen, en dit gee ons ’n platform om ons storie te vertel.

Ons het net 100 bottels van ons Celebration Gin, met 23 karaat goud en suiwer silwer, wat net aan besoekers by die mark beskikbaar sal wees. Ons gaan ook ons 50 ml-miniatuur-jenewers te koop aanbied.

Vir meer inligting besoek timeanchor.co.za.

Meer oor:  Kamer/Makers  |  Dekor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.