Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kanadese egpaar gee hul trougeld vir vleis vir SA kinders
Die Lovegrove-egpaar, Ben en Anneke, het die kontant wat hulle as geskenk op hul troue ontvang het, gebruik om vleis vir twee kinderhuise in Suid-Afrika te koop. Op dié manier het hulle ook plaaslike slaghuise ondersteun. Foto: Verskaf

’n Kanadese egpaar van Bradford in Ontario het die kontant wat hulle as trougeskenk ontvang het, gebruik om vleis vir twee kinderhuise in Suid-Afrika aan te koop as ’n manier om terug te gee.

Sodoende het Ben (44) en Anneke (41) Lovegrove ook twee plaaslike slaghuise ondersteun.

Die skenking van 300 kg se voorraad verpakte vleis word later vandeesweek by die Jakaranda- en die Louis Botha-kinderhuis in Pretoria afgelewer.

Anneke het in 1994 as 13-jarige meisie saam met haar gesin van Ficksburg in die Vrystaat na Kanada geëmigreer, maar het steeds ’n groot liefde vir haar geboorteland.

“Dit is baie hartseer om te sien hoe Suid-Afrika oor die jare heen agteruitgegaan het wanneer ons kom kuier,” sê Anneke.

“Maar ek mis my land. Daar is niks beter as ’n Suid-Afrikaanse reënstorm op ’n sinkdak nie.”

Sy het in Junie met Ben, ’n Kanadees, getrou.

Dit is albei se tweede huwelik, daarom het hulle hul trougaste gevra om kontantbydraes te gee eerder as geskenke.

“Ons is gevestig in ons lewe en nou in daardie stadium waar ons net wil teruggee. Suid-Afrika sal altyd ’n plek in my hart hê – dit sal altyd my huis wees,” sê Anneke oor die besluit om in Suid-Afrika terug te ploeg.

Anneke is die eienaar van ’n Suid-Afrikaanse winkel Bokkies Biltong in Barrie, Ontario. Sy sê sy weet hoe swaar kleinsakeondernemings te midde van die koronaviruspandemie kry.

“In plaas daarvan om net kinderhuise te help, help ons ook twee slaghuise.”

Sy het vir Marlene Ehmke, ’n familievriendin in Suid-Afrika, gevra om die projek namens haar te behartig.

Ben en Anneke Lovegrove op hul troudag in Junie. Foto: Verskaf

Ehmke het ’n aantal slaghuise in Pretoria genader om aan boord te kom.

Die eienaars van Jandre’s Vleismark in Valhalla en die Waverley Slagtery in Villieria het ingestem om aan die projek deel te neem.

Hulle het maalvleis, wors en kookvleis in 2 kg-verpakkings verpak wat Donderdag aan die kinderhuise oorhandig sal word.

Ehmke sê daar is voldoende kontroles geskep om te verseker dat elke kinderhuis sy regmatige deel van die skenking ontvang.

Charlene Grobler, uitvoerende hoof van die Jakaranda- en die Louis Botha-kinderhuis, sê die skenking van vleis is vir hulle waardevol en dat hulle groot waardering het vir die Kanadese se groothartigheid.

“Dit help verskriklik baie, veral nou, want Covid-19 het ons hard geslaan. Dit maak regtig ’n reuseverskil in ons begroting, want vleis is duur.”

In die Jakaranda- en die Louis Botha-kinderhuis is daar onderskeidelik 233 en 104 kinders wat gaan baat vind by die skenking.

Anneke sê dat sy en haar man in die toekoms graag meer in Suid-Afrika sal wil help.

Meer oor:  Kinderhuise  |  Ben Lovegrove  |  Anneke Lovegrove
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.