Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kankerlyers se verhale bied hoop en hulp

Liz Pegram, Heinrich Lintnaar en Priscilla Jacobs vertel almal hul verhale van hul reis met kanker. Foto: Edrea du Toit
In ’n nuwe boek vertel kankerlyers van hul reise met uitdagings, praktiese ervarings en bowenal moed. Julian Jansen gesels met ’n paar van die skrywers.

Wat begin het as ’n ondersteuningsgroep vir kankerpasiënte het ’n saadjie vir ’n boek geplant en die idee ook laat ontkiem totdat Fighters, Survivors, Supporters: Our Cancer Journeys onlangs gepubliseer is.

Die boek is geskryf deur lede van die ondersteuningsgroep van die Paarl en is pas in die Thusong-sentrum in Paarl-Oos bekend gestel.

Dit vertel die onderskeie verhale van die lede se reise met kanker en hul hoop om daardeur vir ander by wie die siekte gediagnoseer word, hoop te gee.

Volgens die samesteller, Liz Pegram, moet die inkomste van die boek ook nuwe kankerpasiënte, wat geldelik swaar trek, finansieel help om vir behandeling by hospitale uit te kom.

Liz is ’n arbeidsterapeut en kom uit ’n familie met ’n geskiedenis van kanker. Haar pa is aan kanker oorlede. Haar broer en skoonsuster het onderskeidelik limfoom en lewerkanker. Liz se eie kanker is tans in remissie.

Kanker is nie ’n doodsvonnis nie, daar ís hoop, sê sy.

Kanker is nie ’n doodsvonnis nie, daar ís hoop, sê sy.

Liz is ’n stigterslid van die ondersteuningsgroep wat vyf jaar terug begin is. Sedertdien het die ses lede tot die huidige 43 lede en 12 ondersteuners gegroei. Die netwerk sluit ook gemeenskapsgebaseerde organisasies, sowel as plaaslike- en distrikskantore van gesondheid in.

Rapport het met twee lede, wat soos Liz, ook kanker geklop het, gesels:

Die boek moet inligting en die stories gee hoop vir mense by wie kanker pas gediag­noseer is. Om die boek te bestel, stuur ’n e-pos aan liz.pegram@gmail.com. Dit kos R200, posgeld uitgesluit.

Heinrich Lintnaar (49) is ’n korrektiewe beampte (tronkbewaarder) by die Drakenstein-gevangenis tussen die Paarl en Franschhoek. Hy was ’n ywerige atleet en hyself was sy grootste kompetisie, sê hy.

Op ’n dag het hy speels na ’n gevangene geskop, toe hy sy groottoon beseer. Hy is dokter toe en het sommer gekla oor hardlywigheid. Bloedtoetse is geneem en die uitslag het die aanwesigheid van kankerselle bevestig. ’n Biopsie van ’n gewas in die kolon het kwaadaardigheid uitgewys. Heinrich het ’n kolostomie ondergaan en moes vir ’n lang tydperk ’n kolostomie-sakkie dra.

“Ek was in skok, want ek het dan ’n gesonde leefstyl gehandhaaf: nie gerook of gedrink nie, baie padwerk (draf) gedoen,” sê die lenige man.

“Ek het mettertyd besef ek is baie siek. Ek het my egter nie opgeruk nie en van meet af aan net my volle samewerking aan die dokters gegee.”

Heinrich het vir ses weke chemoterapie, asook bestraling teen die kanker ontvang “dwarsdeur die Krismis van 2017”. In Februarie 2018 het die dokters hom die goeie nuus vertel: “Jy is skoon van kanker!”

Sedertdien volg hy ’n goeie dieet en eet baie “snackers (ryskoekies), al smaak dit soos papier”.

Danksy ’n goeie mediese fonds kon hy alle mediese uitgawes dek.

Heinrich beskryf homself as ’n introvert, maar sê die siekte het hom vrymoedigheid gegee.

“Vasbyt was die wagwoord. My storie moet wys dat gevreesde siektes nie noodwendig ’n doodsvonnis is nie. Ek wil nog 75 km oor twee dae stap, om geld in te samel vir kankerbehandeling, maar ook om my dankbaarheid teenoor my Skepper, die mediese dokters en personeel te betuig – dat ek deur die krisis gedra is.”

Priscilla Jacobs (43) werk by kliëntediens in ’n bekende handelsbank in Kaapstad. In 2005 het sy die knoppie in haar linkerbors gevoel. Die dokter het haar ’n salf daarvoor gegee, maar toe word die knoppie seerder en is sy hospitaal toe vir ’n sonar. ’n Suster het haar die volgende dag by die werk gebel en gesê sy moet onmiddellik inkom. Die knoppie was kwaadaardig.

“Ek het net blank geraak. My dood gehuil,” sê sy.

“Die dokter het my hand gevat en gesê: ‘Ons sal alles in ons vermoë doen’. ”

’n Biopsie het finaal bevestig dat sy kanker het.

Deur al die trauma het haar tannie Carol Andrews haar elke dag ondersteun, moed ingepraat. Sy is intussen oorlede.

In Junie dieselfde jaar moes sy ’n mastektomie ondergaan. “Die verlies van my bors het my amper geknak, want ek wou nog eendag trou. Hoe met een bors? Ek het half gevoel, nie soos ’n vrou nie.

“Ek sien toe my kaal koppie. Ek wou nie met die Here praat nie, het in opstand gekom.”

Priscilla het chemoterapie gekry en bestraling.

In 2006 was die behandeling klaar, maar op die trein het die mense haar soms snaaks aangekyk oor haar pruik.

“Toe ek genees is, het ek gevoel soos daardie vrou in die Bybel wat krag ontvang het toe sy aan die soom van Jesus gevat het. Ek het geleer om met Jesus te praat, selfs vergifnis vir Hom te vra.

“Toe ek my storie neerskryf, het ek so gehuil.

“Van ’n introvert tot iemand wat net haar storie wil vertel, dít is ek.”

Praktiese wenke vir kankerpasiënte

  • Kry soveel moontlik inligting oor die siekte sodat jy goeie besluite oor sorg en behandeling kan neem.
  • Reël jou vervoer na die hospitaal vroegtydig, want ná chemosessies en bestraling kan jy baie siek voel.
  • Aanvaar hulp van vriende en familie soos hulle aanbied.
  • Maak ’n lysie van name en ook watter hulp hulle aanbied, want sodoende is dit makliker wanneer jy op iemand se nommer moet druk.
  • Hou ’n notaboekie by met vrae wat jy met jou dokter wil bespreek.
  • Maak ’n lysie van goed wat jy wil onthou, want chemoterapie kan ’n mens soms vergeetagtig maak.
  • Kweek ’n positiewe ingesteldheid.
  • Eet ’n verskeidenheid kossoorte sodat jou liggaam genoegsame voedingstowwe kan inneem.
  • Goeie voeding lei tot meer energie en verminder die risiko van infeksie. Berei jou eie smoothies en groen sap voor.
  • Bespreek dit met jou dokter voordat jy enige aanvullings of kruie drink.
  • Handhaaf ’n goeie oefenprogram.
  • Eet gesond, hou jou cholesterol op ’n gesonde vlak en jou bloeddruk laag.
  • Maak seker jou bloedsuiker is nie hoog nie.
Meer oor:  Oorleef  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.