Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kapel, pastorie, woonhuis en museum

Somerset-Oos se huismuseum het inderdaad as tuiste gedien, onder meer as statige pastorie vir vier predikate.Foto: verskaf
Van ’n klein kapel aan die buitewyke van die dorp, tot ’n statige pastorie – die geskiedenis van die gebou waarin Somerset-Oos se museum gehuisves word, is net so interessant as die uitstallings daarin, skryf Deonette Haggard.

Soggens roep die Piet-my-vrou gaste in die oornaghuisie agter die Somerset-Oos Museum om wakker te word. Saam met die ander voëls in die lowerryke bome op die groot erf aan die voet van die Bosberg moedig hulle ’n mens aan om nader te staan na die groot huis se kant toe.

Van die gastehuisie af stap ’n mens verby ’n ou perdekar, ’n ou lykswa en ander buitegeboue –en om die hoek tot jy by die kombuis kom, waar die geur van varsgeplukte rose jou verwelkom. Wanneer jy die groen onderdeur oopstoot, bevind jy jouself in die kombuis, met sy groot vuurherd, blink potte en outydse kombuisware. Stap deur en jy kry vir Keridwyn Frieslaar voor die stoof in die klein spens met die honderde koekblikke van toeka tot nou. Dis ook hier waar die roosgeur sy oorsprong het.

Keridwyn werk al 16 jaar by hierdie huismuseum. Sy is die een wat die museum eiehandig blinkskoon hou en tradisie voortsit deur ’n alombekende robynrooi rooskonfyt en smaraggroen smeerwortel (comfrey) te maak wat so gewild en in aanvraag is onder besoekers. Veral die smeerwortel is gesog, weens die medisinale gebruike daarvan. Sy bak ook en verkoop ook outydse soetkoekies. Sy bly bedrywig, want dit is ’n groot werk om te pluk, snipper, kook, bottel, meng, bak en verpak. Sy droog ook roos- en smeerwortelblare om sodoende altyd ’n voorraad op hande te hê.

Die eerste sendelinge

Wesleyaanse sendelinge het reeds sedert 1821, toe dié dorp nog ’n proefplaas was, genaamd Somerset Farm, die mense op Christelike gebied bearbei. Sewe jaar later het die Wesleyane ’n stuk grond aan die voet van die Bosberg bekom en ’n klein eenvertrekkapel gebou. Om geld te spaar het eerw. Stephen Kay ’n gedeelte van die kapelletjie as woonplek gebruik. Dieselfde jaar nog het Kay se 12 maande oue seuntjie gesterf. Die kindergraf waar Kay en sy vrou hulle seuntjie ter ruste gelê het, is onder ’n valdeur in die vloerplanke van die voorste vertrek in die huis.

Dit het egter so goed gegaan met Kay se sendingwerk en sy gemeente dat hulle die klein kapel later moes vergroot.

Vandag is dié ou Georgiaanse herehuis ’n huismuseum.
Deonette haggard
Buite die museum is hierdie klein outydse rooi posbus waar besoekers vroeër jare briewe kon pos wat dan ’n spesiale seël van die museum op gekry het. Foto's: Deonette Haggard
’n Ou plakkaat adverteer die museum se rare versameling Flora-poppe in die speelkamer.

In 1833 het die Hollands Gereformeerde Kerk van Somerset die kapel “voor de somma van £120 sterling” by die Wesleyane gekoop en op die voorstel van ds. George Morgan, leraar van die gereformeerde kerk, die volgende jaar verbou sodat dit as ’n pastorie kon dien ten einde “het geld thans voor huishuur betaald te besparen”.

In 1835, tydens ds. Morgan se verblyf in die pastorie, is die kapel weer vergroot en ’n boonste verdieping voltooi. Met die koms van ds. J.H. Hofmeyr in 1866 het dit duidelik geword “dat het wenschelyk, ja noodzakelyk” is om herstelwerk te doen en veranderinge aan te bring. Deur die jare is daar dus met horte en stote stuk vir stuk aanbouings en ook buitegeboue aangebring en mettertyd ook elektriese ligte en ’n telefoonlyn.

Ná ds. Hofmeyr se dood in 1908 het sy seun, ds. John Hofmeyr, hom opgevolg en ná sy dood is die “Ou Pastorie” (soos dit toe bekend was) aan sy seun, dr. Jan Hofmeyr, verkoop (ds. J.H. Hofmeyr se kleinseun dus). Vir 105 jaar is die pastorie deur 4 predikante bewoon: ds. George Morgan van 1834 tot 1841, ds. John Pears van 1851 tot 1866, ds. Jan Hendrik Hofmeyr van tot 1866 tot 1908 en ds. John Murray Hofmeyr van 1908 tot 1943.

Verskeie versamelings gebruiksartikels, soos dié versameling kameras (bo) en die teetafel (regs), laat ’n besoeker stilstaan en wonder oor die huisbewoners se lewens donkiejare gelede.
museum
Suid-Afrikaanse oorlogstydse Florapoppe is alombekend, en ook ’n gesogte versamelstuk.
museum
Koffie, tee of melk – jy kan jou voorstel hoe alles in hierdie eertydse en statige Georgiaanse herehuis waardig en stylvol bedien is.
museum
Van herehuis tot museum

Nadat verskeie mense die ou pastorie gekoop of gehuur het, het mnr. Kenneth S. Birch, ’n bekende afgetrede argitek, dit in 1970 aangekoop. Hy was versot op dié pragvoorbeeld van ’n Georgiaanse herehuis en het die versiende besluit geneem om dié gebou as museum beskikbaar te stel. Ná onderhandelinge met die Kaaplandse Departement van Natuurbewaring het die Provinsiale Administrasie R9 000 van die koopsom van R18 000 betaal terwyl mnr. Birch die res geskenk het. Die woning is in 1971 as museum beskikbaar gestel en in 1972 tot ’n museum en nasionale gedenkwaardigheid verklaar wat deur die provinsie ondersteun word.

Volgens aantekeninge van mej. Sannie Erasmus (die eerste kuratrise) was die oorspronklike doel van die museum om die geskiedenis van dié gebied vanaf 1770 – 1825 uit te beeld. Aangesien dit ’n huis was, is besluit om dit as ’n huismuseum in te rig. Die museum is in 1975 tydens die 150-jarige gedenkfees van die dorp amptelik geopen.

Deesdae begelei Keridwyn besoekers deur die museum wat soos ’n woonhuis rondom die draai van die vorige eeu ingerig is met slaapkamers en ’n eet- en studeerkamer. Dit is toegerus met die allermooiste ou meubels en gebruiksartikels van die koloniale tyd wat alles goedgunstiglik geskenk is deur vriende van die museum.

Daar is meubels wat deur die Hofmeyrs sowel as die bekende dr. Craib se vrou, ’n Hofmeyrdogter, geskenk is, asook die beroemde oorlogstydse Florapoppe. Keridwyn se kop is vol stories oor baie van die items wat hier uitgestal is en sy deel graag haar kennis. Hier is besonderse artefakte te sien en ’n oggend se besoek kan nie werklik reg laat geskied aan dié pragtige historiese gedenkwaardigheid nie.

’n Outydse stootwaentjie voor die kaggel en ’n kindergraf in die kombuis laat menige besoekers ’n traan afvee.
In die studeerkamer pryk onder meer dié rare ou Huisgenoot-tydskrifte.
museum
museum
Wie loop daar bo en trap af?

As jy glo in dwaalgeeste, sal jy hulle ook hier vind. Verskeie besoekers het reeds oor die jare heen ’n lang man in ’n swart pak agter die lessenaar in die studeerkamer opgemerk. Party het ook gesien hoe die gloeilamp by die lessenaar aan- en afgaan.

Keridwyn het self by geleentheid swaar voetstappe teen die trappe hoor afkom terwyl sy alleen in die huis doenig was. Soms hoor besoekers ook voetstappe op die boonste verdieping. Ander het al ’n klein seuntjie sien hardloop, of sien staan met ’n hartseer uitdrukking in die vertrek met die kindergraf.

Agter die museum is daar ook twee grafte: die oudste is dié van eerw. George Morgan se vrou, Elizabeth, en dan ook die graf van Dorothy Evans, weduwee van Cradock se eerste NG-predikant, ds. John Evans.

Regs van die huis, onder reuse-bome, is die graf van ouma Dora Dotyi Jacobs.

Ouma Dora is in Mei 1880 op die plaas Paddafontein in hierdie kontrei gebore en sy is in Januarie 2003 in die rype ouderdom van 122 jaar oorlede. In daardie stadium was sy die oudste persoon in Suid-Afrika en ’n nie-amptelik aanspraakmaker as die oudste persoon in die wêreld. Sy kon egter nie die oorspronklike dokumente voorsien om haar geboortedatum te bevestig nie en is daarom nie in Guinness se rekordboeke aangeteken nie.

Die ander, groter begraafplaas is verder van die gebou af en hier is baie Britse setlaars sowel as “Dutch colonists” begrawe.

Wanneer ’n mens in die museum se lang toegangspad afry en by die voorhek uit, neem Beaufortstraat jou pylreguit die dorp in tot voor die N.G. Kerkgebou. Hier staan ’n standbeeld van ds. J.H. Hofmeyr wat voor hom uit staar na sy aardse woning – asof dié geliefde predikant altyd sal waghou oor sy eertydse tuiste.

Uitstallings:

Slagtersnek-uitstalling

In hierdie uitstalling, wat gebou is om die oorspronklike galgbalk waaraan die vyf rebelle in 1815 gehang is, word die Slagtersnekgebeure weer in die geheue geroep. Die uitstalling poog om ’n blik te gee in die lewe van gewone mense van daardie tyd – die grensboere, Kaapse regimentsoldate, hoofman Ngqika en Lord Charles Somerset. Dit onderstreep ook hoe mense soos Paul Kruger, dr. D.F. Malan, C.J. Langenhoven en Andre P. Brink aangespoor is om bydraes te lewer oor die debat rondom die gebeure om sodoende die herinneringe van almal wat betrokke was lewendig te hou.

Plaaslike helde vereer

In ’n slaapkamer op die boonste verdieping word gekonsentreer op vier van die plaaslike struggle-helde wat in Somerset-Oos gebore is: prof. Gert Johannes “Jakes” Gerwel, dr. Walter Benson Rubusana, dr. Norman Bantwinie “Totose” Ngcipe en eerw. Frederick Emmanual “Fred” Hufkie.

Kos in die Xhosa-kultuur

’n Uitstalling van tradisionele gebruiksartikels vir die voorbereiding van kos in die Xhosa-kultuur.

Imithi Yesixhosa (inheemse plante)

Een van die museum se buitegeboue huisves ’n uitstalling oor die gebruik van inheemse Oos-Kaapse plante vir kulturele, medisinale, asook spirituele gebruike.

Moet weet:
Waar? Aan die noordelike kant van die dorp, aan die bopunt van Beaufortstraat.
Wanneer? Van 08:00 tot 13:00 en van 14:00 tot 16:00 op weeksdae. Tref tydens kantoorure reëlings om die museum op Saterdae en openbare vakansiedae te besoek.
Kontak: 042 243 2079 of somerseteastmuseum @gmail.com

Meer oor:  Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.