Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Karavaan-uitspan bind hul saam
Anton Pretorius. Foto: Jeanelle Greyling

Die lede van die Karavaanklub van Suid-Afrika (KSA) se Suid-Rand-streek is soos hul familie en hul gedeelde liefde vir kamp vorm ’n spesiale band tussen dié egpaar.

“Ons het in 2014 by die KSA aangesluit en sedertien het ons nog nie een byeenkoms gemis nie,” sê Anton.

“Ons kry elke jaar volle bywoning by die Suid-Rand-streek.”

Anton is so kampmal dat hy as voorsitter van dié streek dien en boonop ’n provinsiale raadslid van die KSA is. Dít tussendeur sy werk as ’n operasionale bestuurder by Stewarts & Lloyds in Wadeville, waarvandaan hy pas terug gekeer het.

“Ek is besig, hoor!” sê Anton laggend. “Maar dit hou my jonk.”

Ons sit in die sitkamer van sy ruim huis in Alberton aan die Oos-Rand. Cheeky die Yorkshire-terriër spring kort-kort op Anton se skoot terwyl hy praat. Jy hoor ook deurgaans hoe Benji die African Grey-papegaai land en sand in die kombuis gesels terwyl Riana die aandete voorberei.

“Ek is ook ’n kranige hengelaar. Ons behoort aan die Afrikaanse Hengelvereniging en ek het die Suid-Rand-hengel vir jare bestuur.

“Ek het proewe en ligas gehengel en baie pryse gewen. Maar ek wou dit nie meer doen nie. Nou hengel ek net op sosiale vlak, soos by die karavaanklub se hengelkompetisies.”

Die Suid-Rand-streek lê hom om verskeie redes na aan die hart.

Anton Pretorius by sy karavaan. Foto: Jeanelle Greyling

“Kyk, hulle is klaar deel van jou familie. So as jy (by die kampeerterrein) stilhou en hulle het klaar opgeslaan, help hulle jou om tent op te slaan,” sê Anton.

“Jou kinders kan ook doen wat hulle wil. Jy kan in die aande gaan slaap en weet jou kind is veilig, want die een hou sy oë oop vir die ander se kind.

“Die kinders is net in die aand weer terug om te eet, te bad en in die bed te klim. Môreoggend is hulle weer weg. Later kom hulle met ’n helse lot maatjies om ietsie te kou.”

Dit was juis Anton se kinders wat hom aangespoor het om ’n karavaan te koop.

Anton het vier dogters uit twee vorige huwelike: Lorraine (40) en Heidi (38) Edmonds, Josi Symes (34) en Antoinette Pretorius (17). Riana se twee seuns, Steven (29) en Andrew (28) Baird is soos sy eie. Almal woon in die Alberton-omgewing.

Lorraine, Heidi en Steven was lief vir kamp en het lank voor Anton karavane besit.

“Maar soos die dinge aangaan, begin jou belangstellinge verander. Lorraine-hulle is besig om hul karavaan te verkoop, want hulle het ’n stuk grond by die Vaaldam gekoop. Steven het sy karavaan verkoop. Sy belangstelling is nou bote en jetski’s en so aan. Heidi-hulle kom kamp wel so af en toe saam met ons.”

Riana en Anton Pretorius by die Suid-Rand-streek se laaste byeenkoms vir die jaar. Hulle het by Bloekompoort-karavaanpark, naby Vaal Marina, uitgespan. Die tema was “Cavemen Christmas”.

Hulle moes opnuut daaraan gewoond raak om sonder die kinders te kamp, “maar die lewe gaan aan”.

“Jy kan nie die kinders dwing om te doen wat jy as ouer wil doen nie. Hulle het hul lewens en ons moet dit respekteer,”

sê Anton.

Dié egpaar se liefde vir kamp is allermins geblus en hulle span steeds minstens eenmaal ’n maand saam met die streek by die een of ander karavaanpark uit.

“Dit was een van my voorwaardes: As jy ’n karavaan koop, gebruik jy hom. Jy kan nie dat hoeveel honderdduisend rand daar staan en jy gebruik dit eenmaal ’n jaar nie.

Riana, ’n voldoeningsbeampte by Absa, ondersteun hom daarin, omdat sy net so lief vir kamp is.

Die gedeelde liefde is wat hulle sane hou, sê Anton.

“Dit is wat die huwelik gered het,” beaam Riana.

Dié twee het mekaar tien jaar gelede op flirt.com ontmoet.

“Ek het maar met baie dames gepraat en ’n paar van hulle ontmoet. Toe lê ek een aand in die bed en besluit dit is die laaste keer wat ek die webtuiste gebruik. Ek dog ek los dit vir die kinders. Toe verskyn haar profiel.

“Kyk waar sit ons vandag.”

Riana was toevallig ook dié aand gereed om moed op te gee met die soektog.

  • Indien jy die KSA wil aansluit, kan jy vir Anton ’n e-pos stuur na sgapret@gmail.com.
Meer oor:  Beeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.