Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kby-skoolhoof betaal fotograaf miljoene vir foto
Die foto van Leon Victor en sy vrou, Paula Vermeer, waarvoor Victor met graagte $2 miljoen in ou Zimbabwiese geldnote betaal het. Foto: Louis Botha

’n Skoolhoof van Kimberley het nie ’n oog geknip toe ’n fotograaf hom miljoene vir ’n foto vra nie, en het sommer die volgende dag die bedrag in kontant betaal.

Trouens, Leon Victor, skoolhoof van die Hoërskool Diamantveld, het vir Louis Botha, die fotograaf, meer as die vereiste $2 miljoen in die verlangde Zimbabwiese geldeenheid betaal, en $2,450 miljoen uit sy agtersak geruk.

En dit alles met ’n glimlag en ’n blyk van waardering. Dit is immers skaars R100.

Victor sê Botha het foto’s by die skool se onlangse matriekafskeid en drie dae lank foto’s van klasse, sportspanne en onderwysers vir die skool se jaarboek geneem.

“Hy het ’n foto van my en my vrou, Paula, by die matriekafskeid geneem, wat ek graag wou koop. Ek het hom in ’n SMS gevra hoeveel dit my sou kos. Hy het geantwoord dit sal twee miljoen Zimbabwiese dollar kos. By sy boodskap het hy ook die volgende gesê:

“Hi Meneer. Ek kan nie vir jou sê hoe lekker dit was om by julle foto’s te neem nie. Niemand skree op niemand nie. Die kinders is ordentlik en die organisering (van die geleentheid) was puik.

“Ek kan foto’s neem omdat Jaco Powell (’n ander fotograaf wat ook jaarboekfoto’s neem) my geleer het. Maar alles kom van Meneer af. As dit nie vir jou en jou onderwysers was nie, sou hierdie drie dae waarin ek foto’s vir die jaarblad geneem het, nie so perfek gewees het nie.

Die ou Zimbabwiese geldnote wat Leon Victor glimlaggend vir ’n foto betaal het. Foto: Louis Botha

“Dis hoe die lewe moet wees. As jy die regte mense aan die stuur het, loop alles so glad soos ’n haai op ’n houtkatrol. Julle beïnvloed die kinders ten goede. Die leerlinge is my hart se punt. Ek is lief vir alles by Diamantveld.

“Dankie dat ek van 2005 af met ’n vriendelike gesig by die skool verwelkom is, en dit het tot vandag nie verander nie. Ek is baie bly dat my een kind, en een van die dae nog ’n kind, deel kan van julle skool kan wees. Ek is soooo lief vir julle. Vriendelike groete. Louis Botha.”

Victor sê wat Botha nie geweet het nie, is dat hy ou Zimbabwiese dollarnote by sy huis het.

“Ek gee ekonomie as vak en gebruik die ou note gereeld in die klas om leerlinge van inflasie en hiperinflasie te leer. Dit was weens inflasie dat Zimbabwe later na Amerikaanse dollar oorgeskakel het. Voor dit moes mense miljarde Zimbabwiese dollar vir ’n eier of ’n brood betaal.

“Nadat ek sy boodskap gekry het, het ek die geldnote in ’n koevert gesit en dit saam met sy seun huis toe gestuur, en ’n reaksie gekry. Louis het lekker gelag oor my betaling.”

Botha sê hy het al vele kere as ’n grap vir mense gesê sy foto’s kos miljoene Zimbabwiese dollars, maar dit is die eerste keer wat iemand dit werklik aan hom betaal.

Hy beplan om die foto en die dollars te laat raam en dit vir Victor as ’n geskenk te gee.

Meer oor:  Geld  |  Miljoene  |  Fotograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.