Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kenners gee raad: 'Kinders kry swaar in pandemie'
Simone le Roux (16) Foto: Facebook

Die tragiese dood van Simoné le Roux (16), ’n tienermeisie van Kimberley, laat Noord-Kaapse ouers wonder of hulle werklik verstaan waardeur kinders gaan te midde van die koronaviruspandemie.

Simoné het verlede Maandag verdwyn en haar lyk is Sondag gevind in ’n pakkamer naby die huis van haar ouma, by wie sy gewoon het.

Die nuus van haar dood het ’n warboel van emosies onder ouers en inwoners van Kimberley veroorsaak.

Elmanda Fourie en Ria-Lize Conradie, arbeidsterapeute van Upington, en Narika Lategan, ’n maatskaplike werker wat in spelterapie spesialiseer, sê die emosionele impak van die pandemie en die inperking op kinders is enorm.

“Bang; hartseer; ’n gevoel van teleurstelling; ’n gevoel van verwerping; kwaad; gestres; ongelukkig; depressief; angstig – dit is net ’n paar van die emosies wat kinders die afgelope jaar ervaar het en bereid was om met my te deel,” sê Fourie.

Dit maak haar bekommerd wanneer kinders sê: “My hartjie klop baie vinnig. Ek voel ek gaan ontplof. Dit voel ek wil weghardloop.”

Sy sê kinders kry werklik swaar.

Sy meen volwassenes gee nie naastenby genoeg erkenning aan die emosies wat kinders en tieners gedurende die pandemie beleef nie.

“Wanneer volwassenes in omstandighede is waar ons dieselfde emosies ervaar, het ons meestal die vaardigheid om te besef dis ’n emosie, tweedens kan ons dit hanteer en laastens is ons in staat om dit te verwerk.”

Kinders en tieners beskik egter nog nie oor dié vaardighede nie en is afhanklik van konstante liefde, aanvaarding, sosialisering, kommunikasie met hul portuurgroep, gebondenheid, roetine en struktuur.

“Covid-19 het geweldige veranderinge op alle terreine van ons daaglike lewe teweeg gebring en hierdie veranderinge het ’n regstreekse invloed op kinders,” sê Lategan.

Sy sê kinders het, soos volwassenes, drome en ideale en die feit dat dié ideale meestal nie die afgelope jaar verwesenlik kon word nie, het ’n ontsettende uitwerking op kinders se psige gehad.

Ouers is onseker en weet nie noodwendig hoe om kinders se teleurstellings te hanteer nie.

“Hoe gemaak as jou kind so uitgesien het na die gr. 8-kamp en dit word weens Covid-19 afgestel? Wat doen jy as jou kind ’n toppresteerder is en ’n doelwit gestel het, maar vir vyf maande nie kon skoolgaan nie? Of as ’n kind ’n leerprobleem het en van ’n skoolroetine, struktuur en ’n spesifieke opvoeder afhanklik is?”

Elmanda Fourie, arbeidsterapeut van Upington, het die werkkaart met Netwerk24 se lesers gedeel om ouers te help sodat kinders erkenning aan hul emosies kan gee. Foto: Elmanda Fourie

Kinders met optimistiese temperamente ly veral omdat hulle nodig het om tussen ander kinders te herlaai, sê Fourie.

“Kinders moet sosialiseer en dit is grootliks van hulle weggeneem. Kan jy jou indink waardeur kinders gaan en dat hulle meestal nie oor die vaardigheid beskik om dit wat hulle ervaar in woorde uit te druk nie?”

Conradie sê kinders krop emosies op en dit kom dikwels op ander maniere na vore.

“Sommige kinders kwyn, raak teruggetrokke en bring al hoe meer tyd in hul kamer deur, terwyl ander kinders teenoorgesteld reageer en tot boelie-gedrag kan neig en ander weer gedragsprobleme ontwikkel.

“Elke kind se situasie is uniek en elkeen gaan verskillend daaraan uiting gee wanneer hulle emosionele trauma beleef.”

Sy sê wanneer ’n kind se gedrag vir ’n tydperk verander, moet ouers optree.

“Skole beleef geweldige trauma as gevolg van daaglikse veranderinge. Kinderlewens word deur dié veranderinge geraak. Kinders in leiersposisies het ’n taak wat enorme emosionele volwassenheid behels – ’n eienskap waaroor min op dié ouderdom beskik.”

Die gevolge van tuis onderrig kry, dra by tot die stres.

Ouers moes die rol van onderwyser, waarvoor baie van hulle nie opgelei is nie, by hul lewenstake voeg.

Lategan sê dié onbekende veld kan tot irritasie, frustrasie en verdere opgekropte emosies lei.

“Ons mis hierdie emosies in ons kinders omdat ons self probeer oorleef in die ‘nuwe normaal’.”

Die terapeute beveel aan dat kinders geleer word om erkenning aan hul emosies te gee.

“Dit is die grootste geskenk wat ons aan kinders kan gee – erkenning. Wie hulle is, wat hulle voel en hoe hulle hierdie tye waarin ons leef, moet hanteer. Ons kan luister en as ons moeg geluister is, kan ons nóg ’n bietjie luister en op ’n daaglikse basis kommunikeer sonder om net te vra hoe hul dag was.”

Meer oor:  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.