Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kerk samel meer as R100 000 in met ‘WhatsApp-basaar’
Die pakkies is reg vir die kopers op die NG kerk Van Zylsrus se aanlyn WhatsApp-basaar. Foto: Verskaf

’n Kerk in die Kalahari het vanjaar sowat R100 000 ingesamel tydens ’n aanlyn WhatsApp-basaar.

Johani Rossouw, skriba en organiseerder van die NG kerk Van Zylsrus se aanlyn basaar, sê die kerk het vanjaar R116 000 ingesamel, terwyl hulle gewoonlik in ’n gewone jaar duskant R200 000 maak.

“As jy in ag neem dat ons gemeenskap grotendeels uit boere bestaan, wat al ses jaar ’n erge droogte beleef, is dit op sigself ’n groot genade om hierdie inkomste te kon genereer,” sê Rossouw.

Sy verduidelik dat die konsep van WhatsApp-verkope maklik gewerk het omdat almal lid was van een basaargroep.

“Die lede wat by die groep aangesluit het, het ’n katalogus gesien en daar bestellings ingedien.”

As al die artikels of produkte beskikbaar was, het Rossouw vir die klant ’n faktuur gestuur, waarna hulle ’n elektroniese betaling kon doen.

“ ’n Week ná die aankope kon elke koper sy pakkie kom afhaal. Daar is selfs ’n afleweringsdiens vir die omliggende dorpe aangebied.”

Rossouw sê dit was veral verwerkte vleis, soos lam wat opgesny en netjies verpak is, wat soos soetkoek verkoop het.

Van die koekies wat vanjaar op die NG kerk Van Zylsrus se aanlyn WhatsApp-basaar verkoop is. Foto: Verskaf

“Ons het gefokus op ons twee grootste ‘basaartafels’ en dit was hoofsaaklik vleis en gebak (koekies en koeke).

“Kopers kon hul gunstelinge tussen vleisprodukte soos sosaties en maalvleis, en klein en groot koeke, koeksisters en hertzoggies kies en koop.”

Met die Covid-19-pandemie wat die ekonomie landwyd tref, is dit veral plattelandse dorpe en kleiner gemeenskappe wat swaar gebuk gaan onder dié finansiële impak.

Ds. Kobus van Tonder, predikant by die gemeente, sê die pandemie het hul gemeente beslis geknou. “Maar op ’n manier, en ek noem dit sommer pleinweg genade, kon ons gemeente die jaar deurkom.

“Ons lidmate het ten spyte van moeilike tye steeds dankoffers gegee, ’n lewendehawe-veiling gehou en ook fondse deur die aanlyn basaar gegenereer. Elke klein aksie en insameling het gehelp en bygedra dat ons nie nodig gehad het om vaste beleggings te veel hoef te ontwrig nie.”

Die gemeente het nog baie planne en drome wat hulle wil verwesenlik.

Rossouw sê hulle beplan om sodra die inperkingsmaatreëls dit toelaat ’n samekoms en kuierdag te hou met ’n komediant en ’n kitaarman.

“Ons is ’n baie hegte familiegemeenskap wat dit geniet om saam te wees en te kuier,” sê sy.

“Met die pandemie moes baie byeenkomste gekanselleer word en selfs dié wat wel kon voortgaan, het ’n laer bywoning as gewoonlik gehad.”

Die NG kerk Van Zylsrus beoog ook om ’n aanlyn winkel op sy webtuiste te begin om in die toekoms op ’n volhoubare manier vars produkte te verkoop.

“Ons dink nie die pandemie gaan gou verby wees nie. Dit is ook ’n maklike en effektiewe manier om plaasvarsprodukte by kopers uit te kry,” voeg Rossouw by.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.