Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KFC-verlowing lei tot aanbiedinge vir spogtroue

’n Paartjie se verlowing by ’n KFC-kitskosrestaurant in Suid-Afrika maak selfs opslae in die buiteland.

Die BBC berig die video waar ’n man sy geliefde van etlike jare in ’n KFC-restaurant vra om te trou, is deur ene Kateka Malobola verfilm en op sosiale media gelaai.

Agterna het die hele wêreld, KFC inkluis, ingespring om dié paartjie op te spoor.

Die hutsteken #KFCProposal is tans een van Twitter Suid-Afrika se groot besprekingspunte en teen Saterdagmiddag was die video wat KFC op sy Twitter-rekening gelaai het, al meer as 21 000 keer gedeel.

Selfs groot handelsmerke soos Pick n Pay en Krieket Suid-Afrika was deel van die soektog.

Die spanpoging het vrugte afgewerp en die paartjie is as Hector Mkansi en Nonhlanhla Soldaat geïdentifiseer.

Volgens die Sowetan het die paartjie in 2010 verlief geraak en in 2011 met lobola-onderhandelinge begin.

Hulle het in 2012 ’n seremonie gehou en sedertdien saam gewoon totdat die kerk waaraan hulle behoort hulle laas jaar begin druk het om amptelik die knoop deur te hak.

Weens ’n geldtekort kon Soldaat egter nie haar droomtroue hou nie en ’n werklose Mkansi vertel hy kon nie eens ’n mooi ring bekostig nie. Maar hy besluit toe om haar met die ring en ’n spesiale maaltyd by KFC te verras.

Hy het vooraf met personeel gereël om die kos en die ring saam na die tafel te bring. Hy het nie eens vir sy familie gesê dat hy beplan om op sy een knie te gaan staan nie.

Toe Twitter-volgelinge hoor die finansies is maar skraps, het almal begin om die #KFCWedding te reël.

Sakeondernemings en individue het voor die voet voorgeneem om hul dienste en produkte gratis te verskaf.

Gerard Govender het The Zunguness Wedding & Conference Venue in KwaZulu-Natal gratis vir die troue aangebied. Dié plek sal ’n ander voornemende bruid R90 000 uit die sak jaag.

Die musikant Zakes Bantwini het aangebied om gratis by die troue op te tree en die befaamde  DJ Fresh sal by die onthaal kom uithelp as sy besige program dit toelaat.

Die Huawei-selfoonverskaffer het gesê hulle wil die paartjie met “twee toestelle” bederf waarmee hulle hul herinneringe kan vasvang, en Sun City het ’n naweek vir die pas verloofdes by hul vakansieoord aangebied.

Natuurlik is daar nog die wittebrood . . . Hier kan die paartjie kies en keur tussen moontlikhede in Kaapstad, Hoedspruit, die Waterberge en selfs ’n aanbod van Sanparke in Knysna.

Audi het gereken die wittebroodbestemmings wat so aangebied word, “lyk ver”. “Iemand moet hulle daarheen neem. Ons het julle,” het Audi getwiet.

Uber is bereid om in te gryp waar nodig en Kulula het vlugte beloof.

Die Total-vulstasies sal seker maak al die voertuie bly vol.

Hier en daar het ondernemings verder as die troue gedink. Standard Bank is bereid om alle persoonlike lenings tot en met R300 000 te betaal en Le Creuset gee vir hulle ’n hartvormige kasserol.

Die paartjie was oorstelp.

Volgens News24 het hulle in ’n verklaring gesê: “Dankie, Suid-Afrika. Jul goedheid het ons werklik geraak. Ons sou nooit kon dink dat ons liefdesverhaal so baie van julle sou raak nie.”

Hulle het gevra vir ’n oomblik van privaatheid om alles in te neem en toe voorgeneem om mense op Twitter op die hoogte te hou met die trouplanne.

Meer oor:  Hector Mkansi  |  Nonhlanhla Soldaat  |  Kfc-Troue  |  #Kfcproposa  |  Kfc  |  Verloofdes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.