Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kinderboekskrywer ewe tuis in korporatiewe wêreld

’n Bekroonde Potchefstroomse skrywer kombineer haar kreatiewe talente só goed met haar korporatiewe verpligtinge dat sy pas bekroon is met ’n gesogte nasionale prys.

Die Suid-Afrikaanse Publikasieforum het Nelia Engelbrecht as redakteur van die jaar aangewys in ’n landwye kompetisie vir mense wat in die korporatiewe wêreld in ’n kommunikasieafdeling werk. Kommunikasiewerkers by groot maatskappye soos banke, myne en versekeringsinstellings ding in verskillende kategorieë mee. Engelbrecht is ook in 2013 met die redakteurseerbewys vereer.

“Dis lekker om erkenning vir my werk te kry,” het sy Donderdag gesê.

Nelia Engelbrecht Donderdag in Potchefstroom.Foto: Susan Cilliers

Engelbrecht is as redakteur van verskeie interne en buitepublikasies van die Noordwes-Universiteit (NWU) verantwoordelik vir onder meer die beplanning en versorging van die aanlyn en gedrukte publikasies. Sy skryf ook soms self, onder meer in redaksionele kommentaarkolomme.

Die beoordelaars skryf in hul verslag oor haar werk hulle is beïndruk met Engelbrecht se “gehalte en verskeidenheid” werk.

“Dis ’n spanpoging, want sonder my kollegas sou dit nie moontlik gewees het om al hierdie werk te doen nie,” sê Engelbrecht. “Ek is gek oor my werk en die universiteitsomgewing.”

Engelbrecht het haar loopbaan as joernalis by die Klerksdorp Record begin en is kort daarna in die diep kant ingegooi toe sy in die redakteurstoel daar moes waarneem. “Ek het baie geleer. Daarna het ek onder meer administratiewe, skryf- en skakelwerk vir die Suid-Afrikaanse Toerismeraad in die Laeveld gedoen en ook vir die Laevelder geskryf.”

Nelia EngelbrechtFoto: Susan Cilliers

Sy is in 2006 by die NWU aangestel, waar haar man, Attie, ’n dosent by die fakulteit opvoedkunde is.

Engelbrecht sê sy het nooit gedink sy kan fiksie skryf nie, maar jare gelede die water begin toets deur tydskrifverhale te begin skryf. Sy was nie dadelik suksesvol nie, maar het aanhou skryf. Later het talle kortverhale en verskeie kinder- en jeugboeke uit haar pen gekom.

Haar werk is al menigmaal bekroon. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het haar jeugboek, Pandora se boks, in 2009 met die Scheepersprys vir jeuglektuur bekroon. Engelbrecht het dieselfde jaar ’n kinderboekeerbewys daarvoor by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) gekry.

“ ’n Mens pas ook jou kreatiewe en taalvaardighede toe wanneer jy korporatief skryf. ’n Korporatiewe artikel wat kreatief saamgestel is, het baie meer trefkrag.”

Engelbrecht se skryftalent kry egter veral naweke en vakansies vlerke wanneer sy haar volle aandag op haar verhale kan toespits. “Ek put inspirasie uit dinge wat ek lees en sien. Partykeer meld ’n karakter hom of haar sommer net aan en dan ontvou die storie spontaan.”

Engelbrecht het twee volwasse seuns, JanDirk en Adriaan.

Meer oor:  Noordwes-Universiteit (Nwu)  |  Prys  |  Toekenning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.