Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kinderhuis verruil maskers vir blikkieskos om ander te help

’n Blikkie vir ’n masker.

Dit is die plan wat die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom beraam het om hulself en plaaslike inwoners teen Covid-19 te pantser.

Kinders by die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom het tydens die inperking sommer fluks in die tuine begin werk.

Terselfdertyd word daar ook in die gemeenskap teruggeploeg deur blikkieskos aan behoeftiges in en rondom die stad te skenk, sê Zeldri Nel, die kinderhuis se bemarker.

Die projek het sowat twee weke gelede begin toe die regering aangekondig het die dra van gesigmaskers in die openbaar sal verpligtend wees tydens vlak 4 van die nasionale inperking, wat Vrydag begin.

“Ons het eers begin deur net maskers vir ons kinders en personeel te maak,” sê Nel.

“Inskrywings hieroor op die kinderhuis se Facebook-blad het oorweldigende reaksie uit die gemeenskap ontlok. Mense wou ook weet of hulle van die maskers kan koop.”

Die kinderhuisbestuur het dit as ’n geleentheid gesien om by te dra tot ’n hulpprojek van die J.B. Marks-munisipaliteit, die Potchefstroomse Sakekamer en ander rolspelers.

Dié projek is daarop gemik om tydens die inperking kos aan behoeftige mense in die omgewing te skenk. “Ons het besluit mense kan een blikkie kos ruil vir ’n masker,” sê Nel. So het ons nou al meer as 2 000 blikkies kos ingesamel en 2 500 maskers uitgedeel. Mense kan ook meer blikkies per masker gee.”

Nel sê die maak van die maskers skep ook ’n geleentheid om die kinderhuiskinders besig te hou en nuwe vaardighede te leer terwyl hulle nie nou kan skoolgaan nie.

Van die maskers wat by die kinderhuis gemaak word.

“Party kinders help die materiaal sny, ander het al agter ’n naaimasjien ingeskuif.”

Volgens Nel probeer die kinderhuis sover moontlik sosiale distansiëring tussen kinders en personeel handhaaf. Aktiwiteite vir die kinders word in huisverband aangebied. Sowat 25 kinders woon in een huis saam met ’n versorger.

“Ons het sedert die inperking so min moontlik personeel op die perseel en diegene wat van die huis af kan werk, doen dit. Werknemers keer ook in kleiner groepe terug na die werk.”

Die maskers wat by die kinderhuis gemaak word.
Charlize de Villiers en Amelia Schoeman, personeellede by die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom, en een van die kinderhuiskinders aan die werk om maskers te maak.

Die kinders help intussen fluks met tuinwerk.

“Van hulle leer ook bak,” sê sy.

Christie Saayman, hoof van die kinderhuis, sê die kinderhuis sal voortgaan met die maskerprojek solank daar ’n behoefte is. Mense wat maskers vir blikkieskos wil ruil, kan elke dag tussen 08:00 en 17:00 by die kinderhuis se hoofhek aanmeld. ’n Wag sal hulle daar ontvang en die maskers vir blikkies ruil.

Besoek ook die kinderhuis se Facebook-blad Abraham Kriel Childrens’s Home – Potchefstroom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.