SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Leef
Kinders by dosyne

’n Mens sien nie meer gereeld groot gesinne nie. Terésa Coetzee het met ’n paar ouers van vier kinders gesels om te hoor wat dit verg om so ’n groot huishouding te bestuur.

Melt en Merlé Rautenbach met hul spruite Isabella (13), Petrus (12), Melt (9) en Phillip (11).

Waar groot gesinne – met vier en selfs meer kinders – ’n dekade of wat terug algemeen was, bestaan die gemiddelde Suid-Afrikaanse gesin deesdae uit ’n ma, ’n pa en 1,3 kinders. Tog is daar nog hier en daar ’n dappere ma en pa . . .

Nelia Smit van die Paarl erken dis die finansies wat die taaiste toffie bly wanneer ’n mens baie kinders het. Sy en Hanno is die ouers van Johan (15) die tweeling, Anriette en Chris (13), en Pieter (7).

Hulle het hul kinders vroeg begin leer dat geld beperk is en dat hulle almal as ’n span moet saamwerk om uit te kom met wat beskikbaar is.

“Ons speel oop kaarte met die kinders oor ons geldsake. Hulle weet die lewe is duur en dat ons finansieel baie insit om vir hulle geleenthede te gee en dat dit spanwerk verg om die boeke te laat klop. As Sussie ’n sporttoer het, dan offer ons ander so ’n bietjie op en volgende keer is dit weer jou beurt om te ontvang,” sê Nelia.

“Die groot kinders kry sakgeld waarmee hulle hul eie bederfies moet koop, en hulle het baie gou geleer om na hul geld te kyk,” voeg sy by.

“Dit het vir seker baie (finansiële) uitdagings,” beaam Merlé Rautenbach van Pretoria. Haar en Melt se orrelpypies is Isabella (13), Petrus (12), Phillip (11) en Melt (9). “Skoolgeld, mediese fonds en buitemuurse aktiwiteite is ons grootste uitgawes,” sê sy.

Nelia se raad aan ouers wat groot gesinne oorweeg, is om te prioritiseer en te besluit wat vir jou belangrik is. “Ons glo goeie lewensversekering en ’n mediese fonds is ’n moet – so ’n klomp kinders bymekaar steek mekaar die heeltyd aan. Ons glo ook aan veilige voertuie. Ons ry nie ’n tree as die kinders nie vasgemaak is nie en daarom is ’n sewe-sitplekvoertuig ’n moet.”

Vir die res moet ’n mens dan opoffer. Maar dis alles die moeite werd, want dis heerlik om ’n groot gesin te hê, beaam almal.

Ruben en Elsabé Truter van Kempton Park is die ouers van Ruhan (13), Luandie (13), Ryno (11) en Rainhard (9). Rainhard is verstandelik gestrem as gevolg van breinvliesontsteking toe hy twee weke oud was.

“Ruhan was beplan, maar toe ons weer sien, was daar nog drie ander,” lag Elisabeth. “Vier kinders in die huis beteken groot finansiële druk en daar is altyd nog ’n gat wat toegestop moet word,” sê Elsabé.

“Ons ry nie dubbel nie en almal word op dieselfde tyd gehaal – as iemand ’n buitemuurse aktiwiteit het, moet die ander een maar bietjie wag.

“Ons moes ’n nuwe voertuig aanskaf waarin almal pas, maar dit bly steeds die wonderlikste voorreg om so ’n groot gesin te wees,” sê sy.

Hanno en Nelia Smit met hul kinders, Johan (15) die tweeling, Anriette en Chris (13) en Pieter (7).

Jou kinders moet gou leer deel

In die Truter-huishouding slaap die oudste twee seuns in dieselfde kamer.

Nelia en Hanno het in ’n kleiner huis in die Paarl ingetrek, omdat hulle graag die kinders daar wou laat skoolgaan, en koshuisgeld te duur sou wees.

“Ons het ’n spanbesluit geneem en die twee groot seuns moet nou ’n kamer deel, en Pieter en Hanno deel ’n kamer en kantoor. Ons het glad nie ’n huiswerker nie en die kinders het hul werkies in die huis,” sê Nelia.

Merlé sê om meer as twee kinders te hê, het darem ook sy voordele. “Ek het vinnig geleer om alle sporttoerusting, soos hokkiestokke, in neutrale kleure te koop – Isabella het nie soos haar maats ’n pienk hokkiestok gehad nie, want haar boetas moet dit nog almal kan gebruik.

“Klere, skoolkere, krieketkolwe, opsommings en selfs redenaarspraatjies word alles gehou vir die volgende een,” sê Merlé.

“Ons kinders is so gewoond om nie te vra vir nuwe klere of goed nie, want hulle weet hulle moet deel. Hulle is ook bewus daarvan dat ons ’n groot gesin is – en almal probeer saam om te spaar waar ons kan.”

Ma moet meestal ook werk

Nelia was aanvanklik ’n tuisbly-ma, maar hulle het gou besef ’n ekstra salaris gaan baie gaatjies toestop en sy het begin skoolhou toe die kinders skool toe gaan. Ook Elisabeth en Ruben werk albei. Sy’s ’n finansiële kredietkontroleerder van beroep en hy ’n gekwalifiseerde ketelmaker. Melt en Merle is albei finansiële direkteure van hul eie maatskappy.

Hanno en Nelia Smit met hul kinders, Pieter (7), Johan (15) en die tweeling, Anriette en Chris (13).

inders moet gou selfstandig raak

Hanno en Nelia erken hulle is nie een super-georganiseerd nie en lewe gemaklik in georganiseerde chaos.

“Ons het vrede gemaak met speelgoed en skoene wat rondlê en skottelgoed wat rondstaan.

“Mens moet aanvaar dinge loop selde soos jy dit beplan. Daar val gereeld iets voor, ’n boek of tas word vergeet, ’n speelafspraak word gereël . . .

“Ons kinders weet hulle moet verantwoordelikheid aanvaar en selfstandig raak. Hulle doen self hul huiswerk en take en ek ry sover moontlik nie agter hulle aan as hulle iets vergeet het nie. As ons met vakansie gaan, pak elkeen sy eie tas. Wat jy vergeet, kom jy sonder klaar. Hulle pak ook hul eie kosblikke. Ek sorg net dat daar iets is om in te sit. Hulle leer baie gou en dit maak mens se lewe baie makliker,” sê Nelia.

Skoolgeld vat ’n reuse hap

Skoolgeld is duur en al die ouers het vertel dat dit ’n groot hap uit hul maandelikse begroting vat. Die oplossing is om aansoek te doen vir beurse en waar dit kan kinders eerder in dieselfde skole te sit as in verskillende skole.

In Merlé en Melt se huishouding beloop net Isabella se koshuis- en skoolgeld by Afrikaans Hoër Meisieskool reeds in die omgewing van R13 000 per maand.

Elsabé sê gelukkig het drie van hul kinders beurse by hul skole en dit help ongelooflik baie. Rainhard is in ’n spesiale skooltjie en sy skoolgeld alleen is R2 400 per maand.

Nelia en Hanno het spesiaal Paarl toe getrek sodat hul kinders daar in goeie skole kon wees.

Almal moet help skoonmaak

Nelia en Hanno het glad nie ’n huiswerker nie. Die kinders het elkeen hul werkies in die huis, en elkeen moet maar sy deel doen. “Een groot uitdaging is die wasgoed. Dit hou nooit op nie!” sê Nelia.

In die Truter-huishouding is daar ook geen huiswerker nie. Elkeen kry ’n beurt om kombuis skoon te maak en die lekkerste is as dit jou afdag is, want dan kan jy ontspan.

Hanno en Nelia Smit het toe hul kinders nog klein was, besluit die kinders moet by hul lewe inval en nie andersom nie.

“Mens moet weet alleentyd bestaan nie,” sê Nelia. “Ek vlug soms bad toe met ’n boek as die klomp te luidrugtig raak vir my. ’n Vol huis is nooit stil nie. Ek en Hanno het ook baie minder tyd saam. Ons glip wel soms weg met die leuentjie dat ons gou bank toe gaan, en dan gaan drink ons koffie.”

Meer oor:  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.