Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kloppetieklop by Kaapsche Hoop
Die wildeperde span uit op hul eie dorpsplein in die hartjie van Kaapsche Hoop. Foto’s: Ilse Zietsman

Kaapsche Hoop is bekend om sy wildeperde. Waar kom hulle vandaan?

Met die aanry vanaf Nelspruit na Kaapsche Hoop (of Kaapsehoop) spring ek amper uit my vel van opgewondenheid toe ons nader aan ons bestemming kom. Ek sien die wildeperde, waarvan ek maar onlangs eers gehoor het, langs die pad staan!

Weliswaar baie verder as ’n klipgooi weg. Min het ek geweet wat wag.

Met die intrapslag kondig ’n naambord aan: “Kaapsche Hoop verwelkom u”. Met ’n romantiese beskrywing daarby: “Ons plek in die wolke, waar kinders, wildeperde en vriende in die natuur kom speel.”

Maar ook: “Die voer van die perde lei tot slegte gewoontes asook tot die risiko van ernstige beserings vir die perde en mense. Wees asseblief verantwoordelik.” En nog ’n hele kaboedel ander algemene reëls daarby.

Ek wou die perde so graag bederf en het gehoop agter die sitplek rol ’n verdwaalde appel rond. Ek gee egter bes – hierdie reël is nie gemaak om gebreek te word nie. Al wil ek hoe graag.

Die kapelletjie en huisies hou streng by die eertydse myntema.
Waar kom die wildeperde vandaan?

Daar is sowat 150 tot 180 wildeperde in die omgewing, word daar geskat, lees ek ná ons besoek. Troppe wissel tussen agt en 12 elk en hulle beweeg vrylik oor ’n area van 17 000 ha.

Ek kyk hoe staan hulle – allesbehalwe wild, so lyk dit – geduldig, gedienstig, gedwee in die skadu van ’n klompie koeltebome, skuins oorkant ’n handvol gastehuise.

Daar’s ’n paar teorieë oor die afkoms van Kaapsche Hoop se perde. Die perde kan afstammelinge wees van die perde wat die Britse troepe ná die Anglo-Boereoorlog losgelaat het; van polisieperde wat agtergebly het nadat die plaaslike polisiekantoor jare terug gesluit is; of laastens van die perde wat destyds deur transportryers tussen die Laeveld en die Witwatersrand gebruik is soos wat dit in mynjoernale van die laat 1800’s opgeteken is.

Kaapsche Hoop se perde kry soms perdesiekte. Elke somer sterf ’n paar perde, hoofsaaklik teen hoogtes bo seespieël laer as wat Kaapsche Hoop geleë is.

Goud is so teen 1882 by Kaapsche Hoop ontdek toe die plekkie nog as Duiwelskantoor bekend was. Die regeringsgeboue is in 1885 opgerig. Nie lank daarna nie het die dorpie – net groter as ’n gehuggie – as Kaapsche Hoop bekend geraak. In ’n stadium gedurende die goudstormloop was daar om en by 50 kroeë, word vertel.

Nader wil die troppie nie kom nie. Hier strek een, daar staan ’n ander luiweg op, maar die lus vir kom kennis maak, ontbreek.

‘n Ou perd kry ook lus vir groenvoer.
’n Kuierstoep by Koek ’n Pan Kothuis.
Bestuur versigtig binne en buite die dorp.
Die perd wat iets uit die voertuig gryp, spoeg dit vinnig weer uit.
Op die dorp

As die berg nie na Mohammed kom nie, gaan verken Mohammed, oftewel die Zietsmans, maar die dorpie met sy myntema en -argitektuur te voet.

By die Bohemian Groove Cafe sit die tuin stampvol; op die dak van Angels Mist-gastehuis pryk ’n ysterengel; op die markie word wolmusse verkoop; by De-liteful-glaswerke vang die son se strale die kleure van die glasbewertjies.

By Salvador Bistro kan jy net jou hond saambring as hy deur ’n spesiale gaatjie pas.

Dis nie net die dorp wat vaste reëls het nie; die department van honde wat hier die bewind voer, maak hul eie reëls vir hul eie gebied.

’n Padteken maak ’n ou grappie: “Gaterige pad – maak asseblief jou sitplekgordel vas en haal jou valstande uit”. Ek stap vinnig aan voordat ek dalk so iets moet aanskou.

In die Pronoia-kapel sing hulle gesange op ’n Sondagoggend. Die plaaslike kroeg heet jou vanaf die stoep “shalom”, maar die deure is bottoe.

Die sinkplaatmynhuise spog met netjiese stoepies; die busstop – met houtbankie en al – blyk nie meer in gebruik te wees nie. Om die hoek is Koek ’n Pan Kothuis en langsaan Koek ’n Pan Pannekoekhoek.

Groetnis

Net voor ons vertrek maak ons oplaas nader kennis met Kaapsche Hoop se perde.

Watwou die “lei tot slegte gewoontes” soos ek met die inry gelees het.

Skaars is ons terug in ons voertuig in die middel van die dorp toe ’n paar voorbarige perde nader trippel. Ek dog ’n neusvryf of maanhaarstreel is waarvoor hulle naderkom.

Allesbehalwe! ’n Bruinvosperd sien die oop venster as ’n onge­uiterde uitnodiging.

Voor ons nog besef wat aan’t gebeur is, is sy kop woerts-warts tot teen die stuurwiel en ewe vinnig daar uit met ’n wegneemkoffiebekertjie in sy bek.

Ons wil nog keer en gryp, maar hy’t ons gefnuik. Net om ’n paar koue te gee voor die onaptytlike happie summier uitgespoeg word.

Hul slegte gewoontes is al deeglik aangeleer. Dit sal meer as ’n kennisgewingbord vat om hierdie klompie in die bek te ruk.

Meer oor die dorpie en sy dinge

Kaapsche Hoop is minder as 30 km van Nelspruit. Ry versigtig – daar was al berigte van perde wat raakgery is. As jy meer tyd het, of meer avontuurlustig is as wat ons was, kan jy saam met horsebacktrails.co.za gaan perdry.

Soek ’n spook in Kaapsche Hoop terwyl jy daar is – die dorpie is bekend om sy spoke, soos ’n ou bebaarde man wat jou glo met sy sweep dreig sodra jy dit waag om te gaan slaap en ’n jong dogtertjie wat op besoekers se skote klim. Of so sê hulle.

Bespreek blyplek by kaapsehoopaccommodation.co.za. Een interessante opsie is The Royal Coach, waar jy in die treinwa kan bly waarin koningin Elizabeth en haar twee dogters in 1947 geslaap het tydens ’n besoek aan Suid-Afrika.

Lees meer by kaapschehoop.co.za/kaapsche.htm.

Meer oor:  Leefstyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.