Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Knip gedaan, wêreldwye pandemie of nie!

Kort gekapte hare ná ’n besoek aan Babu.
Dat dit nou ’n wêreldwye pandemie geneem het vir ons as samelewing om werklik haarkappers te waardeer, is sowaar ’n skreiende skande, meen Leon-Ben Lamprecht.

Daar is teenstrydige idiome oor dinge mis. Aan die een kant: uit die oog, uit die hart. Die Rooinekke, weer, praat van “absence makes the heart grow fonder”.

Elkeen het seker sy plek, maar ek vind myself meer in laasgenoemde se kamp tydens grendeltyd. Daar is dinge wat jy eers werklik mis wanneer dit nie meer daar is nie, hoe tydelik ook al.

Daar is dinge wat jy eers werklik mis wanneer dit nie meer daar is nie, hoe tydelik ook al.

Byvoorbeeld: skool vir my kinders. Dis heerlik dat hulle heeltyd tuis is, maar so nou en dan verlang ek daarna om hulle bloot vir ’n uur of wat in iemand anders se sorg te laat. Daai nou en dan’s sluit in: om nie te moet arbiter speel oor wie van my twee telge se beurt dit met die wit Lego-perdjie is nie, terwyl ek eintlik besig is met ’n Zoom-vergadering met ’n kliënt. Of as ek klein prokureurtjies se gladdebek-antwoorde en vrae moet systap om hulle sover te kry om hul skoolwerk te doen.

Dis uiteraard nie sonder sy ander kant nie: Ek mis byvoorbeeld nie die gejaag in die oggende om almal betyds klaar te kry nie, maar so het als ’n voor- en nadeel.

Skool is een van die meer voor die hand liggende voorbeelde van mis, soos ook (soms) die Spur, kerk en braai saam met familie en vriende. Daar is ander dinge, wat minder lugtyd kry, wat ’n gat in jou hart laat, as u liewe leser my sal toelaat om melodramaties te wees.

Leon-Ben met sy weliger inperkingshaarstyl. Foto: Marcelle Koekemoer

“Ek lyk soos ’n Beatle,” sê ek vir my vrou terwyl ek my kuif uit my oë vee.

“En nie ’n cool een nie.” Sy lag net. My hare flap en flop rond as ek draf.

Nou goed, ek moet bieg, in my 20’s was my hare vrek lank. Maar op 37, en met my hare yler as wat dit destyds was, is dit tyd vir ’n sny. Maar die koronavirus ontsien niks en niemand nie: Haarkappers is toe, saam met restaurante en skole.

En toe, een wonderlike aand, kondig Ons Heersers aan ons mag weer hare laat sny.

En toe, een wonderlike aand, kondig Ons Heersers aan ons mag weer hare laat sny.

Ja, ek kon seker op die swartmark my hare laat sny het, of my vrou gevra het, maar ek mis die ritueel van my haarkapper. Dus, toe my plaaslike haarkapper, Babu’s Barber, sy deure weer oopmaak, is ek en my laaitie met ons oorgroeide haardosse spoedig daar, maskers op, ge-hand sanitise, reg om ons plaaslike sake-eienaars te ondersteun.

Oom Messie

Babu en sy broer Tasleem is nie die eerste haarkappers teenoor wie ek lojaal is nie.

In my laerskooldae was daar oom Messie. Oom Messie was ’n ou-skoolse manshaarkapper, wat jou met ’n wit jas ingewag het. Sy van was Van der Mescht, en vandaar die naam. Sy hare was altyd pynlik netjies in ’n kantpaadjie gekam, met wat ek vermoed Brylcreem was. Hy het ook altyd ’n netjiese swart langbroek gedra.

Dan het hy jou gevra om op sy barbierstoel te sit – ek het altyd gedink dit herinner aan ’n tandartsstoel, net ouer en met ’n leerslypband vir sy skêr, voordat hy te werk gegaan het.

Sy salon was in Marshstraat in Mosselbaai in dieselfde kantoorgebou as die destydse Spur en die plaaslike fliek met sy verbeeldingryke naam, Cine 1 & 2.

Oom Messie het basies een styl gehad: short back and sides.

Oom Messie het basies een styl gehad: short back and sides. Hy het gewoonlik eers my hare, en dan my pa se hare gesny. As hy klaar met my was, het ek gewoonlik met my Ninja Turtles gespeel, terwyl hy en my pa gesels oor die ekonomie, oor die Bokke, oor die plaaslike politiek.

Oom Messie was ook, by gebrek aan ’n beter term, ’n horlosie-mechanic. En vroeër jare ook ’n horlosiemaker. Dit was sy eintlike nering, die haarkappery was aanvullend.

Chris en Annalize

As ek saam met my ma gegaan het om my hare te sny, was dit by haar haarkapper, Chris, in Hartenbos. Hy was ’n lang, maer man, met ’n bos rooierige hare, amper soos ’n afro.

My ma het altyd tot by sy plek gestap op Saterdae, haar hare gedoen, en dan by hom koffie gaan drink ná die tyd. Chris was gay en uiters eksperimenteel met haarstyle. Hy het ’n paar jaar gelede sy eie lewe geneem.

Op hoërskool was Salon Hairline my haarkapper. Ná Chris se selfdood het my ma haar hare hier gedoen. Annalize was die kitaarslaner. Sy het selfs ’n keer of wat highlights in my hare gesit, toe ek deur my punk-rock-fase gegaan het.

Hier het jy altyd koffie gekry, daar was Cosmopolitan-, Huisgenoot- en Sarie-tydskrifte, en dit was ’n tipe sosiale middelpunt. Mense het ingeloer om te kom “hallo” sê (Annalize het lékker gesels).

My (nou) skoonma het ook hier gewerk. Later jare het sy sommer my hare in hul kombuis gesny. Ek moes egter eers vir haar en my vrou (toe nog my meisie) koffie maak, as betaling.

Tasleem van Babu’s Barber.
Babu

Nog later, toe ek en my vrou in die Kaap kom werk het, het my skoonma net sporadies my hare gesny wanneer ons Hartenbos toe is. En toe hulle eers Kalahari, en later Karoo toe trek, moes ek self sien kom klaar.

My vrou het eers self gesny, en toe besluit daarteen, oor die risiko te groot was. Dit kan dalk wees nadat ek haar vertel het van die keer wat my suster Linkie my hare gesny het, of eerder probeer sny het. Ek is vir maande lank “Happie” by die skool genoem.

En toe eendag, nadat ons Wellington toe getrek het, ontdek ek vir Babu.

Wel, eintlik was dit my buurman Dico wat Babu se barbiersalon ontdek het.

In die roekelose dae voor Covid-19 ons akute maskerdraers en chroniese handewassers gemaak het, braai ons eendag by hom. Sy hare en baard is vars “gedoen”, en hy is nie ’n bietjie in sy skik met sy nuwe “hareman” nie. Hy beveel aan dat ek ’n draai gaan maak, wat ek die volgende dag inderdaad toe doen.

Babu’s Barber op Wellington waar Babu jou hare sal sny, jou baard sal skeer en boonop jou arms sal masseer.

Toe ons ná inperking daar instap, is dit Tasleem wat ons ontvang.

Sover ek in ons gesprekke in albei se tweede taal, Engels, kan agterkom, is Tasleem ’n Urdu, en hou van krieket. Die salon is in ’n stil systraatjie langs ’n koffiewinkel. Dit het rooi mure en is spartaans. Daar is drie haarsnystoele, banke vir as jy moet wag, en teen die muur ’n handvol haarprodukte. Niks fênsie en malduur soos Redken of L'Oreal nie, sommer Enliven en Black Like Me.

Hy is ’n meester. Mense wat iets laat maklik lyk, so maklik asof enigeen dit kan doen, is mos altyd bedrewe in hul vakgebied.

15 minute, en jy is klaar.

Hy sny teatraal. Kap die skêr of knipper teen die kam elke keer wat iets afgesny word. En voordat hy jou hare sny, word dit eers gegel. Dan vryf hy jou kop (hy het reuse-hande),

voordat hy jou met saamgeslaande Sanlam-hande so liggies agter die kop kap.

Babu's Barber.

Hy praat min, so bietjie soos Jacques Kallis destyds as hy gekolf het, en doen net eenvoudig sy werk.

Tasleem doen ook kop- en arm-masserings. Ek weet dit, want met die taalgaping, het ek een keer “ja” gesê vir wat ek gedink het ’n baardskeer is, en die volgende oomblik begin hy my arms ruk en pluk. Nie iets wat ek noodwendig gou weer sal doen nie, maar nie onaangenaam nie.

En die beste van als is dat Babu’s Barber redelik goedkoop is. Jy betaal met ’n blou noot, en kry nog kleingeld.

Ek en my seun se hare (en in my geval baard) is vinnig gesny, en ons is daar uit. Ek weet nie wie blyer was nie: ons met ons kort hare, of Tasleem dat hy weer ’n inkomste het. Hy, en sy medehaarkappers, het soos die res van ons rekeninge om te betaal.

Hierdie virus het so baie dinge kom omverwerp, duisende se dood veroorsaak, ’n wêreldresessie kom inlui en werklik ’n “nuwe normaal” gebring.

In die lig van so iets herinner ’n klein gebaar, soos om jou hare te laat sny, ons aan wat was, en wat weer kan wees.

Meer oor:  Haarkappers  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.