
Bootjies lê op die Knysna-strandmeer.
Verskeie planne is gereed om toerisme in Knysna ’n hupstoot te gee tydens die Covid-19-pandemie.
Teen Woensdag was Knysna – ná George (1 413) en Mosselbaai (670) – die dorp met die meeste koronavirusgevalle (452) in die Tuinroete, volgens ’n verklaring van Alan Winde, die Wes-Kaapse premier.
Colleen Durant, bestuurder van Visit Knysna, die dorp se bemarkingsorganisasie, sê by navraag toerisme is wêreldwyd deur die pandemie geraak.
“Maar ons bly optimisties omdat die toeriste sal terugkeer en die mense van die groter Knysna-gebied is bekend om hul veerkragtigheid,” sê sy.
Beeldmateriaal van toere sal in komende maande op Visit Knysna se sosialemediaplatforms vertoon word.
“Visit Knysna het sy bemarkingstrategie in ooreenstemming gebring met die South Africa is Travel Ready-veldtog en die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap, Wesgro, se One Day-veldtogte,” sê sy.
“Dit sluit in ’n verskeidenheid virtuele toere vir die broodnodige ondersteuning van ons plaaslike toergidse in die stil tyd, terwyl mense ’n voorsmakie kry van wat ons aanbied.”
Visit Knysna het onlangs vir Mark Dixon van Sedgefield se Moonlight Meander-toere en Ypie Kingman, ’n reisdeskundige, benoem om deel te neem in die One Day Virtual Tours-veldtog van die Wes-Kaapse regering en Wesgro.
Kingman se beeldmateriaal van haar toer is ook by vanjaar se eerste virtuele Knysna-oesterfees vertoon. Bykans 450 000 mense wêreldwyd het die fees in die gemak van hul eie huise bygewoon.
Kingman se toer het beeldmateriaal bevat van onder meer die Sewe Passe-pad tot by Rheenendal, die Holy Trinity-kerk in Belvidere, die uitkykpunt by die Knysna-koppe en die Knysna-olifantpark. Die toer help mense ook om vir hul reis te beplan.
Tien plaaslike toeristegidse sal ook groter bystand kry. Beeldmateriaal van hul toere sal in komende maande op Visit Knysna se sosialemediaplatforms vertoon word. Dixon doen ’n podsending van sy toere.
Tim Harris, uitvoerende hoof van Wesgro, sê virtuele toere het baie gewild geword, veral as ’n voorsmakie vir reisigers wat steeds geld spaar vir ’n reis en as ’n insiggewende platform vir mense om hul reis te beplan.