Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kolle hou kop reg, koskas vol

Hanna Breedt van Pretoria in haar kolkunskantoor met ’n dagboek wat sy besig is om op te tooi. Foto’s: Deon Raath
Ná die een teleurstelling  op die ander én nog die inperking ook het haar vermoë om kunswerke  van verfkolletjies te skep Hanna Breedt gered, skryf Antoinette Slabbert.

Dit was kolkuns wat Hanna Breedt sielkundig en finansieel deur 2020 en veral die aanvanklike Covid-19-inperking gedra het. Dit het haar boonop in staat gestel om ’n stewige bydrae te lewer om goeie gesondheidsorg te verseker vir haar kleinkind se geboorte in Julie verlede jaar.

Kolkuns is ’n kunsvorm waarin ’n mandala met die druk van verfkolle in verskillende groottes en kleure gemaak word (sien kassie). Hanna het dit in 2019 ontdek.

“Ek ly aan depressie en is bipolêr,” sê die 53-jarige.

Ná ’n egskeiding, die dood van mense na aan haar en ’n leë nes wat haar die eerste keer heeltemal alleen gelaat het, was sy ’n paar jaar gelede teen die grond. Selfdood was voorop in haar gedagtes. Genadiglik kon haar medikasie aangepas word en dit het begin beter gaan. ’n Deel van haar terapie was om haarself besig te hou en sy het begin meubels verf.

“Als wat staan, het ek geverf!”

Tog was die meubelverf nie regtig haar ding nie. Sy het gesmag na ’n aktiwiteit wat beter by haar persoonlikheid pas.

In Augustus 2019 het sy kolkuns op sosiale media gesien. Sy het dit probeer en iets het “gekliek”.

In Augustus 2019 het sy kolkuns op sosiale media gesien. Sy het dit probeer en iets het “gekliek”.

Sy het trots haar eerste kunswerk op Facebook geplaas, maar gou besef dit was ’n fout. Dit het sleg afgesteek teen ander kolkunstenaars se kleurryke werk.

“Toe ’n vriendin my vra wat ek gebruik het om die kolle te maak, het ek besef kwasstele en potlode se agterkant is nie goed genoeg nie.”

Sy het die regte toerusting gekry en daardie November al haar eerste werksessie aangebied.

Gou het sy haar eerste bestelling gekry. Dit was om 44 A6-notaboekies te versier – voor 4 Desember.

Hanna het deur die nag gewerk. Elke boekie het meer as 3 000 kolle gekry wat noukeurig aangebring is. Ry op ry, in gelid.

“Die Here het die tyd laat stilstaan,” sê sy. Die oggend van 3 Desember is die pakkie weg Lephalale toe. Sy het haar spertyd gehaal.

Die orde en simmetrie van kolkuns spreek tot Hanna Breedt van Pretoria. Hier plaas sy versigtig die volgende blou kol wat iemand se dagboek vir 2021 gaan opkikker.
Inperking en geboorte

Sy het haar werk aktief op Facebook begin bemark en voor die inperking in Maart het haar klasse goed op dreef gekom.

Pres. Cyril Ramaphosa se “familievergadering” het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en boonop het haar swanger dogter en dié se man hul werk verloor. Sonder mediesefondsdekking vir die swangerskap sou haar kleinkind in ’n staatshospitaal in die wêreld kom.

“Ek het gesweer oor my dooie liggaam,” sê Hanna. “Ons het vir haar plek in ’n private hospitaal bespreek en moes R32 000 deposito lewer.”

Danksy deurlopende bemarking van haar werk op Facebook het die bestellings regdeur die inperking fluks ingekom en sy kon ’n stewige bydrae tot dié bedrag lewer.

“Ek het gebid vir uitkoms en is so geseënd,” sê Hanna. Op 21 Julie is haar kleindogter gebore – ma en dogter albei blakend gesond en goed versorg.

Kolkuns het haar kop “reg gehou” en kos op haar tafel geplaas tydens die inperking, sê Hanna. Met die uitsondering van Sondae het sy elke dag gewerk.

Die een bord wat sy op bestelling gemaak het, van 600 mm in deursnee, was ná 72 uur eers klaar en ’n allemintige 31 158 kolletjies!

“Ek tel deurlopend,” sê sy.

Haar borde, boekies, kruise en ander werk is nou al die land vol, van Malmesbury, die Langkloof en Stellenbosch tot eMalahleni, Scottburgh, Klerksdorp en Nelspruit, om maar ’n paar te noem.

Elke ontwerp uniek

Kolkuns hou haar gedagtes besig en laat haar ontspan, sê Hanna. Die orde en simmetrie van die mandalas spreek tot haar.

Dis ook lekker om te kan sien wat sy doen en die helder kleure beur haar op.

En die terugvoering wat sy van mense kry, voed haar siel.

“Ek neem foto’s van elke ronde en kombineer dit agterna in ’n video om die vordering van die kunswerk te toon,” sê sy. Om ’n kruis te maak is vir haar ’n diepgaande, godsdienstige belewenis.

Net in die afgelope jaar het sy 56 kruise, 49 notaboekies, 61 borde, 9 stelle plekmatjies, 60 pare oorbelle en 44 hangertjies gemaak. En dít vir iemand wat nooit eens kon teken nie!

Die afgelope paar maande kon sy haar werksessies hervat en sy geniet opnuut die wisselwerking met ander mense.

Dit kos R280 per persoon en sluit ’n beginnerspakkie met onder meer verf en die nodigste gereedskap in. Die volgende kursus vind op 2 Februarie in Doornpoort, Pretoria, plaas. Kontak Hanna by 079 809 3517.

Wat is kolkuns?

’n Mandala, waaruit kolkuns sy oorsprong het, is ’n geometriese rangskikking van simbole. Dit word in verskeie spirituele tradisies gebruik om onder meer geestelike leiding te verskaf en vir meditasie.

In Indië het die gebruik daarvan as godsdienstige hulpmiddel na raming in die vierde eeu begin en dit is vandag nog vir mense oor die wêreld heen belangrik as instrument vir heling. Mandalas is onder meer gebruik as die grondslag vir die ontwerp van Hindoe-tempels.

Hoewel Hanna Breedt uitsluitlik mandalas verf, het haar kunswerke nie ’n godsdienstige betekenis nie.

Kolkuns is ook deur Australië se oerinwoners gebruik om die heilige ontwerpe van hul tradisionele kuns te verberg sodat Westerlinge dit nie kan verstaan nie.

Meer oor:  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.