Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kollegas klim saam met Thuli Kilimandjaro uit vir vroue

Twee senior amptenare van die tegnologiereus LexisNexis Suid-Afrika was deel van ’n uitverkore span wat op Vrouedag saam met prof. Thuli Mandonsela, voormalige openbare beskermer, Kilimandjaro se piek bereik het.

Mari van Wyk van Kaapstad en Lee-Ann King van Oos-Londen het dit ná ’n strawwe vyf dae saam met Madonsela en die res van die groep tot bo op Afrika se hoogste bergpiek gemaak.

King en Van Wyk moes albei motiveer hoekom hulle deel van die groep moet wees wat aan Madonsela se Women’s Day Executive Climb for Dignity and Social Justice kan deelneem.

Mari van Wyk van Kaapstad en Lee-Ann King van Oos-Londen by die Kibo-hut. Foto: Verskaf

Die groep van 23 mense is deur Sibusiso Vilane, ’n ervare bergklimmer en avonturier, op hul ekspedisie gelei. 22 het dit uiteindelik tot op die bergpiek gemaak.

Madonsela se groep was die tweede groep vanjaar wat die Trek4Mandela-ekspedisie aangepak het om geld in te samel vir Caring4Girls, ’n organisasie wat sanitêre doekies aan jong meisies verskaf wat dit nie kan bekostig nie. Die organisasie lig meisies ook in oor menstruele higiëne.

King het Maandag gesê die ekspedisie was beslis nie maklik nie, maar sy het dit gedoen omdat dit vir ’n goeie doel was en omdat sy avontuursport geniet.

Volgens King moes hulle as deel van hul voorbereiding verpligte oefensessies in die Drakensberge bywoon.

Sy beskryf Mandonsela as ’n positiewe persoon en iemand wat plat op die aarde is.

King sê laggend aan die einde van elke dag het almal dieselfde skete en pyne gehad.

“Ons het baie lekker geselsies aangeknoop. Sy (Madonsela) is ’n lieflike en plesierige mens.”

Lee-Ann King en prof. Thuli Madonsela het gereeld geselsies aangeknoop tydens die ekspedisie. Foto: Verskaf

Van Wyk, LexisNexis se uitvoerende bestuurder vir strategiese alliansies en vennootskappe, sê dit was -15 °C toe hulle op 9 Augustus om 07:30 hul doelwit bereik het.

“Hierna was dit nog ses ure se stap terug na die kamp toe.”

Madonsela het deur middel van Trek4Mandela se organiseerders, die Imbumba Stigting, gesê die grootste les was om die berg binne jouself te oorwin.

Die Trek4Mandela-ekspedisie het sedert sy bestaansjaar in 2012 die lewe van 750 000 meisies verbeter. Die doelwit is om 2 miljoen meisies teen 2020 te help.

Navorsing toon dat meisies tot 50 skooldae per jaar kan mis weens ’n gebrek aan die nodige vroueprodukte.

LexisNexis het besluit om vanjaar ook sanitêre doekies aan meisies by Lumko High School in Oos-Londen te oorhandig.

Mari van Wyk (regs) en prof. Thuli Madonsela word by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg verwelkom ná ’n suksesvolle ekspedisie. Foto: Verskaf
Meer oor:  Kilimandjaro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.