Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Ouerskap:
Kom ons praat oor seks
Kinders leer reeds in die laerskool van seks en seksualiteit en baie ouers wonder wanneer hulle self met hul kinders oor die bytjies en die blommetjies moet begin gesels. Terésa Coetzee vra ’n kenner. 

Lank voordat jy dink dis nodig, moet jy al met jou kinders gesels oor seksualiteit.

Jou bloedjong kind weet waarskynlik baie meer van seks as wat jy dink, want kinders word onwillekeurig van baie jongs af aan seks blootgestel – oral op bekende roetes is advertensieborde van sekswinkels en -dienste, sekstonele is op televisie te sien en daar word op radio oor seks gesels. Gewilde popliedjies gaan oor seks en met die internet en selfone is dit byna onmoontlik dat jou jongeling nog nie van seks te hore gekom het nie.

Seksvoorligting is ook nou verpligtend op laerskoolvlak. Kinders is bowenal van ’n al hoe jonger ouderdom af seksueel aktief, omdat hulle vroeër puberteit bereik.

“As jy as ouer die eerste een wil wees wat jou kind van seks vertel, behoort jy al van so jonk as driejarige ouderdom daaroor te praat,” sê Ilze Alberts (Van der Merwe), ’n sielkundige en stigter van die Bella Vida-sentrum in Johannesburg en Malachite-sentrum in Kaapstad. Sy doen gereeld praatjies vir ouers en kinders oor seksuele onderrig en is ook die medeskrywer van die boek Maklike antwoorde op ongemaklike vrae (Metz Press).

“Kinders is seksuele wesens en teen ’n sekere ouderdom raak hulle nuuskierig oor hulself, hul lyfies en hoe dinge werk. Kinders praat met mekaar, deel hul ervarings en kennis en as ons nie met hulle oor seksualiteit praat nie, gaan hulle dit in elk geval by hul maats hoor, waarskynlik op ’n minder aanvaarbare en verantwoordelike manier,” sê Ilze.

Sy beantwoord ’n paar van ons vrae:

Watter ouderdom is gepas om seksuele onderrig vir jou kind te begin gee? Hoeveel inligting moet jy gee?

Kinders verskil van mekaar wat hul seksuele bewuswording betref, maar sodra hulle vrae begin vra oor seks, moet jy hulle eerlik antwoord.

Hoewel jy jou kind van so jonk as drie jaar oud bewus kan maak oor seksualiteit en geslagsverskille, is ses ’n gepaste ouderdom om kinders van seks te leer, omdat hulle dan die volgende ontwikkelingsfase betree en met meer versigtigheid moeilike vrae sal vra.

Ek sê altyd klein hoeveelheid detail vir klein kindertjies, maar meer inligting vir groter kinders.

Wat as my kind regtig skaam is en nié vrae oor seks vra nie?

Kinders vra mondelinge én nie-mondelinge vrae. Een seuntjie wil byvoorbeeld weet hoe babas gebore word, terwyl ’n dogtertjie miskien onder ’n swanger vrou se rok sal wil inloer om te sien wat haar maag so groot maak.

’n Wyse ouer sal alle vrae direk en konkreet antwoord, want kinders het die reg om te weet hoe dinge werk.

Niemand word toegelaat om daaraan te vat nie.

As jy hierdie kwessies van ’n vroeë ouderdom af natuurlik en ontspanne benader, sal dit nooit vir hulle iets vreemds of onnatuurliks wees nie. Onthou, deel min inligting met jonger kinders en meer met ouer kinders.

Dis handig om foto’s te wys van wanneer hulle gebore is en dit as aanknopingspunt te gebruik.

Die boekie Waar kom ek vandaan? is gepas vir kinders tussen vier en agt en die boek Maklike antwoorde op ongemaklike vrae is gepas vir kinders tussen agt en 12.

Sommige ouers vind dit makliker om oor moeilike goed te praat terwyl hulle in die motor ry. Op dié manier vermy hulle oogkontak met mekaar.

Hoe hanteer ek dit as my kinders seksuele speletjies speel en wat is gepas vir watter ouderdom?

Dit is normaal en meestal onskuldig. Onthou, kinders is nuuskierig en seksualiteit is net so ’n deel van hul natuurlike bestaan soos hul intellek, emosies en geestelike ontwikkeling.

Ons as ouers gee soveel aandag aan ons kinders se emosionele, geestelike en fisieke behoeftes, maar ons skeep dikwels hul seksuele kant af. Kinders speel speletjies om sin te maak van goed wat hulle nie heeltemal verstaan nie.

Wanneer jy op kinders afkom waar hulle seksuele speletjies soos dokter-dokter of huis-huis speel, is dit belangrik dat jy met hulle gesels oor die privaatheid van hul lyfies. ’n Mens se geslagsdele is nie speelgoed nie en niemand word toegelaat om daaraan te vat, te voel of mee te speel nie, nie grootmense of ander kinders nie.

Moenie oorreageer en hulle skuldig laat voel nie.

Wanneer kinders die speletjie verder voer en die seksdaad naboots of selfs orale seks uitoefen, kan jy weet dat jou kind op die een of ander manier aan die daad blootgestel is op televisie, die internet of deur ander kinders se stories.

Dit is baie belangrik dat ouers diskreet is wanneer hulle seks het, sodat hul kinders dit nie sien nie. Dit is nooit ’n goeie idee om kinders aan seksuele intimiteit bloot te stel nie – hulle is nog nie emosioneel gereed daarvoor nie en dit kan baie skade berokken. Seks is vir volwassenes.

Kinders raak teen ’n sekere ouderdom nuuskierig.

Wanneer moet ek ophou om kaal voor my kinders te wees en wanneer moet my kinders ophou om saam te bad?

Daar is geen reëls oor watter ouderdomme gepas is nie, solank almal gemaklik daarmee is.

Die eerste teken is gewoonlik wanneer ’n kind skaam of ongemaklik oor sy of jou naaktheid begin raak en ouers moet hierdie grense respekteer.

Leer jou kinders van kleinsaf om te klop aan ’n toe deur as ’n teken van respek vir mense en respekteer jou kind se skaamheid of privaatheid.

Waarom moet ek my kind voorberei op puberteit en adolessensie?

Puberteit en adolessensie neem jou op ’n emosionele wipplank en gedurende en net ná adolessensie beleef tieners natuurlike seksuele drange.

Teen die ouderdom van 16 jaar begin seuns en meisies baie meer in mekaar belang stel. Hulle soen, hou hande vas en vat aan mekaar se geslagsdele.

Dit is so dat kinders deesdae al op so jonk as 14 met seksuele verhoudings begin. Orale seks is nog meer algemeen onder tieners, omdat dit kwansuis soveel “veiliger” is.

Ons behoort met ons kinders hieroor te praat. Sê jy weet seksuele drange is soms baie sterk en oorheersend en dis normaal. Moet hulle nie verbied om seks te hê nie. Praat eerder openlik oor die gevare en gee raad om verantwoordelike besluite te neem.

Navorsing wys meisies wat seksuele voorligting van ’n baie jong ouderdom af kry en ’n oop verhouding met hul ouers oor die onderwerp het, sal op ’n baie later stadium eers seksueel aktief raak, omdat hulle presies weet wat seks behels en wat om te verwag.

Moenie net op die negatiewe aspekte van seks konsentreer nie. Praat ook oor die implikasies van ’n seksuele verhouding, vind uit wat is jou kind se emosionele verwagtinge, en of sy seker is hierdie seun gaan haar sy vaste meisie maak – daardie sekerheid het ’n mens nooit nie.

Vir jou seun kan jy vra of hy nie dalk ’n wanindruk van ’n meisie het nie. Hoekom wil hy so graag met haar seks hê, is dit nie dalk net vir sy eie seksuele bevrediging nie?

Wat doen ek as my kind masturbeer?

Masturbasie word in die meeste gevalle beskou as natuurlik en normaal by kinders van alle ouderdomme. Sommige kinders masturbeer van so jonk as 18 maande af, maar dis veral algemeen tussen die ouderdomme van drie en vyf jaar, waarna dit weer afneem tot puberteit.

Hulle masturbeer omdat dit vir hulle lekker is, en nie omdat hulle seks in gedagte het nie.

Ouers van seuntjies sal opmerk dat hulle soms met hul geslagsdele speel, veral as hulle angstig of onseker voel. Hulle gebruik dit as ’n manier om hulself te troos.

Kinders masturbeer ook as ’n manier om hul lyfies te ontdek.

Moenie oorreageer as jy op jou kind afkom wat masturbeer nie. Moenie raas of hom/haar skuldig laat voel nie, maar verduidelik op ’n mooi manier dat mens se geslagsdele privaat is en daarom moet mens nie daaraan vat voor ander mense nie, maar eerder net as jy alleen is.

Jy kan selfs vir jou kind sê dis normaal dat dit lekker voel om daaraan te vat, sodat daar geen negatiewe betekenis aan gekoppel word nie.

As jou kind geneig is om in die openbaar aan sy/haar geslagsdele te vat, kan jy ongesiens sy/haar aandag probeer aflei deur sy/haar handjies besig te hou met iets anders.

Meer oor:  Seks  |  Ouers  |  Kinders  |  Laerskool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.