Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kraaifonteiners gee matrikulant sy droomafskeid
Tariq de Silva (20) in sy matriekafskeidpak. Foto: Zaahid Appoles

Hy is die naasoudste van sewe kinders en die eerste wat matriek sal behaal.

“Ek wou ’n matriekafskeid gehad het om my ma trots te maak,” sê Tariq de Silva (20) van Kraaifontein, wat vanjaar ’n matrikulant aan die Hoërskool Scottsville is.

Toe sy ma egter verlede jaar haar werk verloor, was hy benoud oor hoe hy sy matriekafskeid sou kon bekostig. Boonop was sy skoolfonds ook agterstallig.

Sy tannie, Samantha Fredericks (40), by wie hy weens die situasie tuis ingetrek het, het die Kraailove-Facebookgroep om hulp genader.

Die hulp het ingestroom en op 29 April vanjaar het De Silva ’n volle matriekafskeid gehad – en sy agterstallige skoolgeld is boonop ook betaal.

“Ek het nooit gedink daar bestaan nog sulke mense wat ander net sal help nie,” sê De Silva. “Dit het my regtig gewys hoe die Here deur ander mense na jou omsien.”

Sy matriekafskeid was ’n droom wat waar geword het.

“Toe ek daardie dag voor my familie staan, het ek in trane uitgebars. Dit was trane van dankbaarheid,” sê hy.

Fredericks vertel De Silva het aanvanklik houtlaaiborde gebruik om meubels te maak sodat hy minstens sy aandpak kon bekostig.

“Ek het ook gesê ek sal uithelp waar ek kan, maar dinge het maar swaar gegaan. Ek het toe ’n plasing van Kraailove gesien waarin gevra is of daar enige matrikulante is wat hulp nodig het,” sê sy.

“Dit was soos ’n teken van die Here wat ons gebede beantwoord het. Ons het so baie hulp gekry dat ons selfs drie motors aangebied is! Tariq het met ’n BMW gery!”

Fredericks sê die skenkings het vanuit verskeie oorde ingestroom.

“Die een het ’n koek gegee, die ander een het skoene verskaf. . . Ek het nog nooit beleef hoe ’n gemeenskap so bymekaar kan staan nie,” sê sy.

“ ’n Sakeman van Pretoria het selfs die agterstallige skoolgeld betaal. Ons het baie gebid om hulp, maar die ondersteuning wat ons gekry het, het ons verbaas,” sê Fredericks.

Dit was soos ’n teken van die Here wat ons gebede beantwoord het. Ons het so baie hulp gekry dat ons selfs drie motors aangebied is! Tariq het met ’n BMW gery!

Rosemary de Silva, De Silva se ma, sê sy was baie teleurgesteld in haarself toe sy nie haar seun se matriekafskeid kon betaal nie.

“Ek het gevoel ek het veral vir hom teleurgestel,” sê sy. “Toe ek hom egter op die dag van die matriekafskeid sien, het my trane gerol. Ek weet my kind het groot drome en ek hoop saam met hom dat hy dit alles sal verwesentlik.”

De Silva sê hy wil graag ’n argitek word. Hy geniet ook fietsry en het al vier keer aan die Kaapstad-fietstoer (Cape Argus) deelgeneem.

“Net omdat jy soms voel jy wil moed verloor weens jou omstandighede, beteken dit nie jy moet tou opgooi nie. Jou lewe hang van jou en jou ingesteldheid af,” sê De Silva.

Meer oor:  Matriekafskeid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.