Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Krieketspeler se foto 57 j. later ná soektog oorhandig
Wessel Oosthuizen, sportfotograaf. Foto: Verskaf

’n Bekroonde sportfotograaf se soektog na ’n bekende oud-krieketspeler en sy dogter het vandeesweek ná drie dekades vrugte afgewerp.

Wessel Oosthuizen (78) het die afgelope 30 jaar na Peter Carlstein (82), wat vir Suid-Afrika krieket gespeel het, en sy dogter Marlene Gatlish (59) gesoek. Hy sê hy het oor die jare by mense probeer uitvind waar die pa en dogter hulle bevind.

Nadat hy in ’n stadium vasgestel het dat Carlstein in Perth, Australië, is, het hy uitgereik na ’n plaaslike krieketklub, maar hulle kon hom nie help nie.

Oosthuizen wou ’n foto met hulle deel wat hy 57 jaar gelede in 1964 op die Jan Smuts-lughawe (nou die O.R. Tambo-lughawe) in Kempton Park geneem het.

Die foto is sedertdien in ’n album van Oosthuizen bewaar in die hoop dat hy dit eendag met die twee sou kan deel.

Oosthuizen kon vandeesweek met behulp van John Kennedy, ’n oud-kollega wat ook deesdae in Perth woon, die telefoonnommer van Carlstein se vrou, Jann, opspoor.

Dit het hom in staat gestel om by die krieketheld uit te kom. Woensdag kon hy uiteindelik die foto met hulle deel. Carlstein is die afgelope vier jaar in ’n ouetehuis in Perth en het demensie. Gatlish woon in Durban.

Peter Carlstein en sy tweejarige tweelingdogters in 1964. Links is Marlene en regs is Caroline. Foto: Wessel Oosthuizen

Oosthuizen was ’n jong fotograaf van Die Vaderland toe hy die foto met sy Leica-kamera geneem het.

Op die swart-wit foto sit Carlstein se tweelingdogters, Gatlish en Caroline, op sy skoot. Die foto is geneem voordat Carlstein in 1964 saam met die nasionale krieketspan na Nieu-Seeland vertrek het.

Carlstein is in 1938 in Klerksdorp gebore en het tussen 1958 en 1964 in agt toetse vir Suid-Afrika gespeel.

Hy was ’n middelordekolwer en het 190 toetslopies aangeteken, met ’n hoogste telling van 42.

Hy het ’n lang eersterangse loopbaan gehad, wat van 1954 tot 1980 gestrek het. Hy het in 148 wedstryde vir onder meer die Vrystaat, Transvaal en Natal gespeel. Hy het nege eersterangse honderdtalle en 46 eersterangse vyftigtalle aangeteken.

Geskiedenis agter die foto

Terwyl Carlstein in 1964 saam met die Suid-Afrikaanse krieketspan in Nieu-Seeland was, het ’n treurspel sy gesin getref. Sy vrou, Jackie, en drie van hul vier kinders, John, Caroline en David, het in Balfour, Mpumalanga, verongeluk.

“Elke keer as ek verby die kruising gery het waar die ongeluk was, het ek aan hulle gedink,” sê Oosthuizen.

Gatlish was twee jaar oud toe die foto geneem is.

Sy sê die foto is spesiaal en sy waardeer dit dat Oosthuizen hulle opgespoor het. Sy beskou dit as ’n mooi gebaar.

Die oud-krieketspeler Peter Carlstein (82) woon nou in Perth. Foto: Verskaf

Sy praat nie baie oor haar geskiedenis en die ongeluk nie. “Ek weet nie hoe om myself daaroor uit te druk nie.”

Gatlish sê sy het gehoor sy het op die huiswerker se skoot geslaap en die werker het haar voor die ongeluk by die voertuig se venster uitgegooi.

Nadat sy en haar pa albei uit Zimbabwe getrek het, het hulle min van mekaar gesien, “maar sy bly altyd lief vir hom”.

Oosthuizen sê toe hy jonk was, het hy nie altyd die geskiedkundige waarde van fotografie begryp nie.

“Toe ek nog jonk was, het ek nie altyd besef ek is besig om geskiedenis in beeld vas te lê nie. Later het ek al hoe meer besef hierdie is nou geskiedenis.”

Oosthuizen het oor die jare heen verskillende geskiedkundige sportgeleenthede afgeneem.

Hy het onder meer in 1973 die eerste sokkerwedstryd tussen wit en swart in die Randse Stadion, en die eerste boksgeveg in Suid-Afrika tussen wit en swart tussen Jan Kies en Elijah (Tap Tap) Makhatini afgeneem.

Peter Carlstein en sy dogter Marlene Gatlish op haar troudag in 1992. Foto: Verskaf

Hy het ook in 1971 die eerste veelrassige atletiekbyeenkoms in die Groenpunt-stadion in Kaapstad afgeneem, die epiese 3 000 m-wedloop tussen Andries Krogman en Johannes Letsing, Wayde van Niekerk wat in 2016 op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro goud gewen en die wêreldrekord verbeter het, en Chad le Clos, wat Michael Phelps in 2012 in die Spele in Londen geklop het.

Gedurende sy loopbaan van 59 jaar het hy vyf Olimpiese Spele, vyf Rugbywêreldbeker-eindstryde, die Statebondspele, asook Wêreldbeker-sokker, Wêreldbeker-krieket, die Wêreldkampioenskap vir gimnastiek, die Wêreldkampioenskap vir driekamp, die  Wêreldspele in Colombia en Taiwan, en Sewesrugby oor die wêreld heen gedek. Hy het voorheen ook vir Beeld en The Citizen gewerk.

Peter Carlstein se dogter Marlene Gatlish was twee jaar oud toe Wessel Oosthuizen die foto van hulle in 1964 op die lughawe geneem het. Sy is vandag 59 en woon in Durban. Foto: Verskaf

Carlstein en Jann kon nie Donderdag vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Foto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.