Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kuns in die lug - nuwe boek

’n Doolhof van waterweë uit die lug gesien ná ongekende reënval in die Etosha-pan in Namibië. Foto’s: Jay Roode
Vanuit die lug het Jan en Jay Roode ’n arendsblik op asemrowende tonele, maar hulle sien ook besoedeling. Antoinette Slabbert het die bekendstelling van hul boek bygewoon.

Toe die eiendomsontwikkelaar Jan Roode meer as tien jaar gelede moeg van spanning en op soek na uitkoms die foon optel en sy eerste vlieglesse reël, was dit die begin van groot dinge.

Ons het gevoel ons het ons eie tronk gebou en moes altyd spertye najaag.

Met sy vlieglisensie in die sak het hy en sy vrou, Jay, ’n jaar later besluit om die korporatiewe lewe agter te laat en hul droom aan te gryp. “Ons het gevoel ons het ons eie tronk gebou en moes altyd spertye najaag,” sê Jan.

Hulle het hul belang in die JSE-genoteerde behuisingsgroep Calgro M3 verkoop, Jay het haar Canon 5D-kamera gevat en hulle is met Jan se Jabiru J430-vliegtuig vort op hul nuwe lewenstog. Reis en fotografie was nog altyd vir hulle sielskos.

Op 4 November vanjaar het hulle met die verskyning van hul boek Aerial Art vir ander ’n kykie gegee in die wonderwêreld van natuurtonele wat hulle sedertdien in Suider-Afrika uit hul nuwe perspektief beskou het.

’n Asemrowende sonsondergang oor die Gariepdam soos gesien vanuit Jan en Jay Roode se ligte vliegtuig.

Aerial Art is ’n versameling van meer as 60 dubbelblad-lugfoto’s ryk aan kleur en tekstuur wat Jay van die agtersitplek geneem het tydens hul vlugte oor Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Mosambiek en Suid-Angola se skouspelagtigste natuurgebiede.

Dit sluit in die windverweerde wrak van die Eduard Bohlen aan die Namibiese kus met die son wat só val dat die skip se skadubeeld feitlik weer heel lyk, ’n seekoei-familievergadering in die kristalhelder water van die Okavango-delta in Botswana, ’n klein eiland van die Quirimbas-eilandgroep wat soos ’n juweel skitter in die see langs Mosambiek en die blou en wit lae van ’n soutpan omring deur die rooi sand van die Kalahari.

Die dekade lange avontuur het egter nie net uit kiekies bestaan nie, vertel die twee.

Tydens die eerste vlug waarop ek Jay geneem het, het ons enjin bo die Johannesburgse middestad gevrek. Die tweede het geëindig in ’n harde landing op die lughawe buite Parys en ek het die skroef afgeskryf.

Met die wegspring het Jan nog maar net 60 vliegure agter sy naam gehad. “Tydens die eerste vlug waarop ek Jay geneem het, het ons enjin bo die Johannesburgse middestad gevrek. Die tweede het geëindig in ’n harde landing op die lughawe buite Parys en ek het die skroef afgeskryf,” vertel Jan. Die derde het met ’n gebarste band in ’n mielieland geëindig.

Sy het darem in hom bly glo en hulle is noordwaarts, waar hulle die natuur eerstehands ervaar het.

’n Familie seekoeie dryf in die kristalhelder water van die Okavango-delta in Botswana. Dit is een van die foto’s wat Jan en Jay Roode in hul boek Aerial Art insluit.

In die Okavango-delta moes hulle blitsvinnig opstyg toe ’n seekoei hulle gejaag het. By ’n ander geleentheid was hulle vir vier uur in die vliegtuig vasgekeer, omring deur ’n trop wildehonde. Hiënas het die vliegtuig se bande gevreet en ’n zebra die skroef.

Hulle moes op verlate vliegvelde, soutpanne en grondpaaie land, waar hulle sou wag dat iemand verbykom en hulle ’n geleentheid bied na die naaste gehuggie om hul voorrade aan te vul – in skedonke, op donkiekarre en op fietshandvatsels.

Die vliegtuig se vlerk het ’n bos geraak en hulle het van die aanloopbaan af die enigste boom daar naby getref.

Die ergste was toe hulle weens ’n brandstoflekkasie ’n noodlanding moes maak op Matemo, ’n klein eiland in die Quirimbas-argipel in die see langs Noord-Mosambiek. Die vliegtuig se vlerk het ’n bos geraak en hulle het van die aanloopbaan af die enigste boom daar naby getref.

Die regtervlerk was morsaf en alles was vol brandstof – Jan en Jay inkluis.

’n Vriend en medevlieënier het tot hul redding gekom en plaaslike vissermanne het gehelp om wat oor was van die vlerke te verwyder. Hulle het die wrak strand toe gedra, waar dit op ’n houtboot (dhow) gelaai is na Pemba en van daar af 4 000 km per vragmotor na George in die Suid-Kaap, waar hulle dit ’n jaar later as’t ware splinternuut teruggekry het.

’n Skool skerpneus-pylsterte in formasie in die turkoois water van die Bazaruto-eilandgroep naby Mosambiek.

Vir Jan en Jay gaan dit egter nie net om die asemrowende tonele wat hulle self aanskou nie. Hulle wil dit wat hulle sien, deel.

“Gewone mense werk hard en kry nie kans om die mooi om hulle te geniet nie. Ons neem graag die mense wat ons teekom saam op ’n vlug,” sê Jan. Dit gee hulle ’n ander perspektief en as hulle ’n hele ekosisteem met een oogopslag kan sien, begryp hulle dikwels beter waarom bewaring noodsaaklik is.

Een seuntjie het ná so ’n vlug oor die waters van Mosambiek uitgeroep: “Dit lyk soos ’n groot spinasietert!”

Een seuntjie het ná so ’n vlug oor die waters van Mosambiek uitgeroep: “Dit lyk soos ’n groot spinasietert!” Wanneer hulle so oor ’n natuurstreek vlieg, sien hulle egter ook ontbossing, besoedeling en skade aan ekosisteme. Dít het ’n aktivisme in hulle losgemaak wat nou onderliggend is aan alles wat hulle doen.

Om die pot aan die kook te hou, bied hulle lugfotografie-slypskole en -safari’s aan en verkoop afdrukke van hul foto’s. “Jan is goed met die bestuur van ons aandeleportefeulje,” sê Jay. “Ons is nie nou meer welvarend nie, maar tog baie ryker.”

Aerial Art word uitgegee deur HPH Publishing en kos R995. Koop jou eksemplaar by www.hphpublishing.co.za.

Meer oor:  Kuns In Lig  |  Boek  |  Aerial Art
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.