Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kunsprojek geloods om hoop te bied

’n Groep Potchefstoomse kunstenaars vra dat ander kunstenaars in Suid-Afrika tydens die 21 dae van inperking kunswerke ten bate van die Teaterbystandsfonds skep.

Cronjé Lemmer, die bekende mode-ontwerper en kunstenaar, het Sondag gesê die plan met dié projek, getiteld Create 21, is om hoop te skep vir veral kunstenaars wat in dié tyd nie ’n inkomste kan genereer nie.

“Die ideaal is dat elke kunstenaar elk van die 21 dae ’n kunswerk skep, maar dis nie verpligtend om elke dag iets te maak nie. Minder of selfs net een werk is genoeg.”

Lemmer vertel hy en Roy Forté, sy mede-kunstenaar en ook ’n Potchefstromer, het ’n tyd gelede begin beplan aan hulle volgende uitstalling en op hoop as tema besluit.

Roy Forté Foto: Verskaf

In dieselfde tyd het Deidré Victor, ook ’n Potchefstroomse kunstenaar en akademikus, hulle toevallig gekontak en gesê sy wil ’n projek aanpak vir die 21 dae van inperking. Só het die Create 21-projek gestalte gekry.

Victor sê kunstenaars kan enige medium of tema gebruik vir ’n tweedimensionele A5-grootte kunswerk.

“Die tema moet hoop bring. Dit kan enigiets wees – van iets vir jou mooi is, jou hoop gee of wat jou lekker kan laat voel. Die doel met ons projek is ook om kunstenaars besig te hou en iets te gee om na uit te sien wat hulle in hierdie tyd van inperking kan doen.

kunstenaar
Die Potchefstroomse kunstenaar Deidré Victor by een van haar kunswerke. Foto: Verskaf

“My tema vir die eerste sewe dae is slotte omdat ons ingeperk is. My volgende tema is sleutels, om uit te beeld slotte kan oopgesluit word. Die laaste been van my tema is ’n skets van ’n hart omdat die hart net van binne oopgesluit kan word.”

Forté sê kuns is “ongelooflik terapeuties”.

“Wat ons nou deurgaan, sal mense dieper in hulself laat delf, anders na die wêreld laat kyk en nuwe perspektiewe gee.”

Forté se projek is getinte glaspanele. “Ek kleur elke dag een faset in. Dit simboliseer hoe die virus versprei.”

Die drie kunstenaars word sedert ’n radio-onderhoud Saterdag oorweldig met belangstelling van kunstenaars van oor die land heen. Die kunstenaars skenk hul werke gratis. Die besonderhede oor wanneer en waar die werke uitgestal en verkoop gaan word, sal eers later bepaal kan word wanneer vryer beweging moontlik is.

“Die pryse sal billik wees, want die werke word nie geraam nie. Al die geld sal aan die Teaterbystandsfonds gaan,” sê Lemmer.

Besoek die projek se Facebookbladsy Create Hope. Navrae kan ook per e-pos gestuur word aan create.21days@gmail.com.

Meer oor:  Potchefstroom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.