Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kunstenaar gebruik nou houtskool oor besering
Strand Street, Port Elizabethdeur Alan Grobler. Dit is ’n houtskoolwerk op Fabriano (grootte 1 600 mm x 800 mm).

Alan Basil Grobler (66) beoefen deesdae voltyds sy kunsloopbaan nadat hy as koördineerder vir biblioteekpromosie by die Nelson Mandelabaai-metro uitgetree het.

Grobler het grafiese kuns (fotografie, drukwerk en boekillustrasie) in 1976 aan die College for Advanced Technical Educatuon (CATE), later bekend as die Port Elizabeth Technikon, studeer.

Hy is veral bekend vir sy linodrukwerk van die stad se snelweë en ou woonhuise in Sentraal en Richmond Hill.

Al het Grobler vir baie jare linodruk en houtsnee beoefen, skep hy deesdae besondere atmosferiese houtskooltekeninge.

“Houtskool en drukkuns verskil geweldig, maar dit voel of die eindproduk wel ’n mate van ooreenstemming het,” sê hy.

“Linodruk of houtsneewerk benodig noukeurige tegniese beplanning om te konseptualiseer hoe die omgekeerde beeld op die blok in die finale gedrukte weergawe sal vertoon. Nog ’n uitdaging daarvan is die korrekte uitkerwing op die lino of hout, want as ’n gedeelte eers weggesny is, kan dit nie vervang word nie. Dit is werklik ’n medium wat baie eksperimentering en oefening verg om te vervolmaak.

Alan Grobler in sy ateljee in Port Elizabeth.

“Ek het ’n mate van gewrigsontsteking (artritis) in my hand ontwikkel en ’n skouerligament geskeur. Omdat houtsnee en linosny geweldig arbeidsintensief is, doen ek dus deesdae nie meer so baie drukwerk nie. Dit het my artistieke praktyk gedeeltelik beperk, maar my ook aangespoor om ’n alternatiewe uitdrukkingsmedium te soek en my in staat gestel om my sterk- en swakpunte te herevalueer en selfanalise as visuele kunstenaar in die moderne kontemporêre wêreld te doen.

“Om dit met die titel van ’n skildery deur die kunstenaar Paul Gauguin te illustreer: ‘Where do we come from? What are we? Where are we going?’ ”

“Hoewel ek nou meesal houtskool as medium gebruik, het ek reeds in 2015 vir die eerste keer daarmee op Fabriano (spesiale papier) begin eksperimenteer.”

“Ek geniet dit om op groot skaal met houtskool op papier te werk en hoewel my werkruimte in die ateljee beperk is, geniet ek ook die uitdagings wat dit bied.”

Grobler gebruik sy vinger wat hy in houtskool doop om mee te skets en die palm van sy hand om groot oppervlakke “in te kleur”.

“Ek vind die medium baie terapeuties en die visuele resultate is verrassend.”

Linodrukwerk deur Alan Grobler van ’n woonhuis in Richmond Hill. Foto: Verskaf

Grobler het al aan verskeie nasionale en internasionale kunsuitstallings deelgeneem, soos Jaarlikse Internasionale Uitstalling van Miniatuurkuns by die Del Bello-galery in Toronto, Kanada; die South African Exhibition, waaraan geselekteerde kunstenaars uit die Oos-Kaap deelgeneem het in die Frölunda Kulturhus in Göteborg, Swede; verskeie groepuitstallings landswyd en die Nasionale Kunstefees wat gewoonlik in Ma­khanda en verlede week vir die eerste keer aanlyn aangebied is.

Hy het ook al ’n hele paar pryse vir sy kuns ontvang, waaronder die Nelson Mandela-Universiteit se Sponsor Choice Award, die Radison Blu-borgtoekenning vir ’n houtsnee-inskrywing in die rondreisende uitstalling Wish You Were Here en ’n prys van die departement van kuns en kultuur in die Oos-Kaap vir werk wat voorgelê is vir die saamgestelde uitstallings Truth Be Told en The Meaning by die ArtEC-galery in Port Elizabeth.

Sy werk is in permanente versamelings soos dié van die Nelson Mandela Metropolitaanse Kunsmuseum, die Nelson Mandela-Universiteit en die Wil­liam Humphreys-kunsgalery in Kimberley opgeneem. ’n Plakkaatontwerp wat hy in 2013 vir die 95 Mandela Poster Collective ingeskryf het, word nou permanent in die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg uitgestal.

“Om my kuns op te som: I do what l love and l love what l do, otherwise life has little purpose,” sê hy.

  • Stuur ’n e-pos aan alanbasil­grobler@gmail.com of besoek alangroblerart.blogspot.com vir meer inligting.
Meer oor:  Kunstenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.