Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kwadrupleeg kan nie loop, maar hy kan ‘vlieg’
Dewald Brown, ’n kwadrupleeg, verruil Saterdag tydelik sy rolstoel vir ’n rit in ’n vliegtuig om sy eerste valskermsprong te doen. Foto: Lulama Zenzile

Toe ’n dokter vir ’n man van Port Elizabeth sê hy gaan nie weer kan loop nie, het hy die positiewe raakgesien en gesê: “Die dokter het niks gesê van nie vlieg nie”.

Só het Dewald Brown (32), ’n kwadrupleeg van Port Elizabeth, gesê nadat hy die afgelope naweek sy eerste tandemvalskermsprong gedoen het.

“Dit was nog altyd een van my grootste wense om te kan valskermspring. Ek was seker 13 jaar oud toe ek die eerste keer hoor wat dit behels en sedertdien was dit op my lysie.”

Maar ’n swemuitstappie by die Port Elizabeth-hawe in 2005 het Brown se lewe onherroeplik verander toe hy teen ’n sandbank vasgeduik en sy nek gebreek het.

“Ons het ons misgis met hoe diep die water was. Sedertdien is ek van ’n rolstoel afhanklik,” het Brown gesê, wat deesdae in Quad House, ’n tehuis vir kwadrupleë, in die stad woon.

Dewald Brown sweef hoog saam met ’n instrukteur oor Jeffreysbaai. Foto: Lulama Zenzile

Maar sy droom om eendag uit ’n vliegtuig te spring het nie verdwyn nie.

Brown se droom het die ore van Dee Marx, bestuurder van die tehuis, bereik en op haar beurt het sy dié wens op sosiale media versprei.

Volgens Marx is al die inwoners van die tehuis van maatskaplike toelaes afhanklik, wat uitstappies soos hierdie bykans onmoontlik maak.

Gerrit de Jager, ’n bekende plaaslike omroeper van LuisterFM, het dié wens op sosiale media raakgelees en besluit om meer te probeer uitvind.

“Die wens het by my gespook, daarom het ek besluit om die man te gaan ontmoet.

“Ons het so ’n rukkie gepraat en hy het die dag gesê die dokter het vir hom gesê hy kan nie meer loop nie, maar het niks gesê van nie vlieg nie.

Lede van die JBay Skydiving-klub staan nader om Dewald Brown te vang ná die tandem-valskermsprong. Foto: Lulama Zenzile

“Daardie man het my net weer geïnspireer om dankbaar te wees vir wat ons het. Hy wat ’n kwadrupleeg is, is dankbaar vir wat hy het, en dit het my net laat besef ons kla te maklik oor ons omstandighede.”

De Jager, LuisterFM en JBay Skydiving op Jeffreysbaai het planne beraam en Brown se droom die afgelope Saterdag bewaarheid.

“Ek was so effens bangerig, maar ek het geweet ons help ’n man wat nie kan loop nie om vandag te vlieg, en sy glimlag het alles die moeite werd gemaak,” het De Jager gesê, wat saam met Brown sy eerste valskermspring-ervaring meegemaak het.

Brown erken hy het ook ’n paar skoenlappers in sy maag gehad die oomblik toe die vliegtuig se enjin begin draai het, maar beskryf die ervaring as onvergeetlik.

“Die uitsig van daar bo af is onbeskryflik, dit was ’n belewenis. Een waarvoor ek baie dankbaar is teenoor al die organiseerders.”

Hoewel hy van sy bors af ondertoe verlam is en slegs beperkte beweging in sy arms het, mik Brown nou om eendag sy eerste skubaduik te doen.

“Net omdat ek in ’n rolstoel is, beteken nie ek moet net stilsit nie, daar is so baie om te kan doen.”

Veilig op die grond. Dewald Brown glimlag breed ná sy eerste tandem-valskermsprong. Foto: Lulama Zenzile

Meer oor:  Kwadrupleeg  |  Dewald Brown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.