Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Kwashale in rande

The Red Pineapples van Alexis Preller is in November verkoop vir R1 251 800.
Kuns is ’n finansiële én emosionele belegging, want dit kan in waarde groei en verskaf jou plesier – dis nou as jy iets aanskaf wat jou verbeelding aangryp.

Kuns is een van die mensdom se oudste bateklasse.

“Kosbaarhede is een van die eerste goed wat mense begin versamel het om waarde te behou. Dink maar aan mense wat al dekades lank goud en juweliersware versamel,” sê Frank Kilbourn, voorsitter van Strauss&Co. “Kuns het intrinsieke waarde omdat dit skaars is, estetiese waarde het en die geldwaarde daarvan toeneem. Dis al die geval sedert die Renaissance.”

Volgens hom hoef ’n belegger nie ’n kenner te wees om daarin te belê nie. “Veilingshuise berei gedetailleerde katalogusse voor oor die werke wat onder die hamer gaan kom.” Dit sluit uitgebreide agtergrond in oor die kunstenaar en die werk, sowel as geraamde waardes daarvoor. Dié waardes word bepaal op grond van die verhandeling van soortgelyke werke en dien as ’n riglyn vir die onervare koper.

Volgens Kilbourn het Strauss&­Co sy sakemodel die afgelope jaar drasties verander.

In die verlede was daar geleenthede waar mense voor ’n veiling na werke kon gaan kyk en die meeste bieërs was fisiek by die veiling.

Irma Stern se Seated Woman, Zanzibar is einde verlede jaar vir R2 048 400 op ’n veiling verkoop.

“Ons moes skielik alles digitaal doen. Ons het byvoorbeeld spesiale Zoom-sessies met individue gereël om werke te bekyk en selfs tegnologie ingespan om vir mense ’n driedimensionele blik op werke te gee.”

Die internasionale kunsmark het die afgelope jaar ietwat afgeneem, maar kontemporêre kuns het goed gevaar met sterk aanvraag daarvoor uit Asië.

Kilbourn sê die internasionale kunsmark het die afgelope jaar ietwat afgeneem, maar kontemporêre kuns het goed gevaar met sterk aanvraag daarvoor uit Asië.

Wat betref die plaaslike kunsmark was Strauss&Co se omset vergelykbaar met die vorige (pre-Covid-19) jaar. “Alternatiewe bateklasse hou nie direk verband met wat in die aandele en kapitaalmarkte aangaan nie.”

Volgens hom was die alternatiewe bateklasse wat die beste presteer het die afgelope vyf jaar klassieke motors, horlosies en kunswerke.

“Iets is net waardevol as iemand dit wil koop en soms is daar niemand wat in ’n betrokke werk belangstel nie. Ander dae word die prys selfs hoër as die raming opgejaag omdat twee mense baie graag dieselfde werk wil hê om estetiese redes of omdat dit uit ’n bepaalde tydperk van ’n kunstenaar kom.”

Pierneef is naas Irma Stern die topverkoper-kunstenaar op die plaaslike veilingsmark. ’n Versamelaar het verlede jaar R2 503 600 vir Die Wolk opgedok.

Die mark vir mense wat ’n oorspronklike Irma Stern of Maggie Laubser aan die sitkamermuur kan hang is relatief klein, maar van die groot name het ook heelwat grafiese drukke gemaak sodat hul werke vir ’n groter mark toeganklik is. Dit geld veral Pierneef en Gregoire Boonzaier, maar deesdae ook William Kentridge (wat Kilbourn beskryf as Suid-Afrika se “eerste internasionale kunssuperster”).

Kentridge se oorspronklike, unieke werke verkoop vir tot R6 miljoen. Hy maak egter ook genommerde grafiese drukke wat hy onderteken. Dit verkoop vir van R20 000 stuk.

William Kentridge maak ook getekende grafiese drukke om sy werke vir meer versamelaars toeganklik te maak. Dié oplaag is 240/250 van ’n plakkaat wat hy vir die 25ste herdenking van die Grahamstad-kunstefees ontwerp het. Dit is in November vir R19 933 verkoop.

Boonop is daar geleentheid om in opkomende kunstenaars te belê. Kilbourn sê daar is veral ook in die buiteland ’n groeiende mark vir nuwe kunstenaars van Afrika. Waar veilingshuise help om die waarde van bekende kunstenaars se werke te bepaal, verg dit meer huiswerk om in opkomende kunstenaars se werke te belê.

“Eerstens moet jy seker maak jy hou baie van die werk, want jy weet nie hoeveel dit in waarde sal toeneem nie,” sê Kilbourn.

Die primêre mark vir kuns is by galerye. Ná sowat vyf jaar begin dié werke op die sekondêre mark, oftewel veilings, verskyn.

“Koop by betroubare galerye en vergelyk die prys van die betrokke kunstenaar met dit waarvoor ander kunstenaars se werk in soortgelyke mediums verkoop.”

Man, Tree and Bird van Walter Battiss het die afgelope week R46 900 op ’n veiling gehaal.

Volgens Kilbourn moet voornemende beleggers die mark deurlopend dophou en ook kyk hoeveel momentum daar agter die opkomende kunstenaar is.

“Hoeveel ondersteuning kry die kunstenaar van ’n galery? Is daar bemarking en word die werke uitgestal?”

Kunswerke kan uitstekende opbrengste lewer, maar dit is ook nie aldag maklik om iets te verkoop waaraan jy oor jare heen geheg geraak het nie.

“Kuns word ’n sielsgenoot op jou pad. Elke kunswerk is ’n soort selfportret van die kunstenaar en ’n versameling word ’n selfportret van die versamelaar.”¦ Strauss&Co se volgende aanlyn veiling duur van 11-13 April.

SA se topsewe

1. Irma Stern, die pionier van moderne ekspressionisme in Suid-Afrika, is Strauss&Co se topverkoper. Sy het in die 1950’s en 1960’s internasionale erkenning gekry en is in 1961 vereer met die Guggenheim-prys.

Beleggers het oor die afgelope elf jaar R516 204 804 opgedok vir 262 van haar werke. Twee van haar stillewes het op ’n veiling in November bykans R4 miljoen stuk gehaal.

2. Pierneef is Suid-Afrika se mees ikoniese landskapskilder. Hy het geweldig baie werke gelewer in mediums wat wissel van olie tot waterverf, linosneë en etse.

Hy is die veilingshuis se naasbeste topverkoper met 517 werke wat R245 251 329 behaal het.

3. Alexis Preller het in Londen gestudeer en wyd gereis om inspirasie vir sy werke te kry. Hy het sy eie styl ontwikkel en toenemend abstrak gewerk. Sy 177 werke het die afgelope jare R179 958 347 geïn.

4. William Kentridge is die enigste lewende kunstenaar onder Strauss&Co se top-12-verkopers. Hy is bekend vir onder meer sy  fenomenale sketsvermoë en video-animasies. Altesame 431 van sy werke het vir R118 833 408 verkoop.

5. Maggie Laubser se grootwordjare op ’n plaas by Malmesbury het lewenslank haar werke geïnspireer met skilderye van die plaaslewe, diere en blomme. Sy het in Londen en Nederland studeer. Altesame 199 werke is verkoop vir R73 880 394.

6. Walter Battiss het groot inspirasie geput uit Suid-Afrikaanse rotskuns en het selfs vir Picasso daaraan voorgestel. Hy het ’n magdom werke gelewer in ’n verskeidenheid van mediums. Sy 649 werke is vir R69 009 474 verkoop.

7. Robert Hodgins het in 1938 van Brittanje na Suid-Afrika geëmigreer en hom eers in die 1980’s heeltyds op sy kuns toegespits. Hy het ’n magdom drukwerke, sketse en skilderye gemaak en was ook bekend vir sy keramiekwerk.

Versamelaars het al R65 202 468 by veilings opgedok vir 342 van sy werke.

Meer oor:  Belegging  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.