Babas, mammas en selfs oumas was Vrydag in vervoering oor Babah, teater vir babas, wat in Bloemfontein aangebied is.
Dit was kwylende mondjies en krultone waar jy kyk toe Schoemé Grobler en Hilletje Moller Bashew babas in ’n intieme tent met liggies, bewertjies, musiek en sagte speelgoed vermaak.
Dié konsep, wat Grobler reeds in 2018 na die Vrystaat Kunstefees geneem en groot sukses daarmee behaal het, soos met Babah go round, die opvolg in 2019, is die tweede babateaterprojek in Suid-Afrika.

Schoemé Grobler en Hilletje Moller Bashew (regs in wit geklee) vermaak Vrydag die babas en mammas wat na Babah kom kyk het. Foto: Mlungisi Louw
Die eerste is in die Kaap deur die Magnet-teater aangepak.
Grobler het verlede jaar Babah na teaters in Singapoer geneem en sê sy is opgewonde oor die werksverhouding wat sy met hulle het.
Die babas het grootogig na die twee tannies wat sing, diereklanke maak en soms op ’n ukulele tokkel, gestaar. Dié twee het ook die pienkvoete, wat knus op hul ma’s se skote gesit het, met bottels vol blinkers en flitse betower.
Grobler van PuppeTrix, ’n teaterkollektief, het die stuk geskep en kry dit nou gereed vir vanjaar se Toyota US Woordfees.
Vir haar is dit elke keer ’n emosionele ervaring om te sien hoe baie sulke klein babas al kan ervaar.
Sy het aan die idee gekom by Assitej, die internasionale vereniging van teater vir kinders en jong mense, se wêreldkongres in Kaapstad in 2017, waar sy die eerste keer teater vir baie jong gehore gesien het.
“Ek het besef ek wil dit ook aanpak in Suid-Afrika. Dit is so ’n fassinerende genre!”
Baie ouers sê altyd vir haar ná die tyd hulle het nie geweet hul baba kan só reageer nie.
“Dis vir my wonderlik, want dit verbreed ons kennis oor babas se ongelooflike vermoëns.”

Babah, teater vir babas, is ’n nuwe konsep. Schoemé Grobler van PuppeTrix, ’n teaterkollektief, het dié toneelstuk vir babas tussen vier en 12 maande geskep. Foto: Mlungisi Louw

Elrine Mitchell en Elmé (7 maande) geniet die babateater ten volle. Foto: Mlungisi Louw
Moller, ’n gesoute aktrise, sê die energie in die tent is anders elke keer wat hulle optree.
“Dit is so kreatief. Schoemé het dit van niks af geskryf en geskep. Ons baseer die musiek op navorsing. Hoewel daar ’n goue draad in die stuk is, is dit meer abstrak as wat dit ’n duidelike narratief het.”
Grobler sê sy hoop om later die jaar dié soort teater by ouetehuise aan te bied.
“Dit sal veral Alzheimer-lyers baat by ouetehuise.”
Madaleen Marais en Mia, haar agt maande oue baba, het elke oomblik geniet.
“Ek het nie gedink Mia sal haar so inleef nie! Sy het dit baie geniet.”