Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Een van dié 10 word nuwe Mej. SA

Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld, het Dinsdag die toptienfinaliste aangewys wat ’n kans het om die volgende Mej. Suid-Afrika-kroon te dra.

Strauss het in ’n regstreekse uitsending kort onderhoude met elkeen van die nuutverkose toptien gevoer nadat hulle in swart uitrustings op ’n verhoog hul verskyning gemaak het.

Die toptien kom uit vier provinsies – vier van Gauteng, drie uit die Wes-Kaap, twee van die Oos-Kaap en een van KwaZulu-Natal.

Onder hulle is ’n dokter, ’n kommersiële vlieënier, sake-eienaars, studente en modelle. Die wenner sal op 16 Oktober by die GrandWest Grand-arena in Kaapstad aangewys word.

Hoewel groot opgewondenheid geheers het oor die keuses vir die toptien, was daar sommige semifinaliste wat gunstelinge was onder aanhangers wat nie die toptien gehaal het nie.

Moratwe Masima (Johannesburg), Cheneil Hartzenberg (Johannesburg), Kgothatso Dithebe (Centurion, Gauteng), Jeanni Mulder (Kaapstad), Kaylan Matthews (Gqeberha), Bianca Bezuidenhout (Kaapstad), Lalela Mswane (KwaSokhulu, KZN), Catherine Groenewald (Kaapstad), Tiffany Francis (Johannesburg) en Zimi Mabunzi (Qonce, Oos-Kaap). Foto: Indirect Media

Aanhangers was veral ontsteld oor Eloïse van der Westhuizen, wat in die 2019-kompetisie die topvyf gehaal het. Zozibini Tunzi het daardie jaar die kompetisie gewen en later Mej. Heelal geword.

Daar was ook teleurstelling oor die weglating van Itumeleng Baloyi van Limpopo.

Van die vroeë gunstelinge onder aanhangers sluit in Bianca Bezuidenhout, Zimi Mabunzi en Kgothatso Dithebe.

Bianca Bezuidenhout (22) van die Strand, Kaapstad, Wes-Kaap

Bianca Bezuidenhout (22) van die Wes-Kaap. Foto: Indirect Media

Dié sake-eienaar, honneursstudent en dansinstrukteur is bekommerd oor die stygende werkloosheidsyfer onder die jeug.

“As ’n vrou wat passievol is oor jong mense is my visie dat hulle ’n blink en veilige toekoms kan hê,” sê sy.

Sy is dankbaar om Kaapstad en die Wes-Kaap te verteenwoordig en sê die Kaap is die beste plek om te woon danksy die eenheid en liefde onder mense.

Sedert sy as ’n deelnemer aangewys is, was daar ’n aangrypende oomblik toe ’n jong meisie haar met ’n brief gelukgewens het.

“In haar brief het sy ’n tekening van my en haar gemaak wat illustreer dat sy ook eendag Mej. SA wil word.”

Catherine Groenewald (23) van Constantia, Kaapstad, Wes-Kaap

Catherine Groenewald (23) van die Wes-Kaap. Foto: Indirect Media

Dié rooikopstudent in grafiese ontwerp, model, fiksheidsinstrukteur en eienaar van ’n aanlyn bakkery het ná drie probeerslae die toptien gehaal.

“Die eerste twee keer dat ek nie gekies is nie, was belangrike oomblikke in my lewe. Ek sou óf daar kon stop en tou opgooi óf ek kon ’n tree terugneem en na myself kyk en alles soek waarop ek kan verbeter,” sê sy.

“Ek het gekies om harder te werk.”

Sy het die beoordelingsproses geniet.

“Die moeilikste vraag wat ek moes beantwoord, was: ‘Wat is Suid-Afrika se beste bate?’ Ons jeug is ons sterkste bate. Die jeug maak 65% van ons bevolking uit en dit is ons toekomstige leiers, mammas, pappas en Mej. Suid-Afrika’s. Die jeug van Suid-Afrika is so passievol en gedrewe.”

Cheneil Hartzenberg (24) van Meredale, Johannesburg, Gauteng

Cheneil Hartzenberg (24) van Gauteng. Foto: Indirect Media

“Ek is passievol daaroor om te verseker dat daar aan die basiese behoeftes van die kinders in Suid-Afrika voldoen word,” sê Hartzenberg, die eerste kommersiële vlieënier wat die toptien haal.

Sy sê sy is bly dat sy haar bedryf kan verteenwoordig en veral vroue in die lugvaartbedryf.

“Ek ondersteun programme wat verseker dat kinders voor, tydens en ná skool gevoed word. Ek ondersteun ook programme wat voorsiening maak vir die voorheen benadeelde jeug,” sê sy.

“Ek wil die oomblik geniet en sien uit daarna om die geselskap te geniet van die nege ander vroue wat dieselfde visie deel.”

Jeanni Mulder (24) van Seepunt, Kaapstad, Wes-Kaap

Jeanni Mulder (24) van die Wes-Kaap. Foto: Indirect Media

Mulder, ’n voltydse model en die vriendin van Olimpiese swemmer Chad le Clos, woon al ses jaar lank in Kaapstad en sê dit voel elke keer vir haar asof sy opnuut tuis kom. Sy is mal oor die see en die berge in die Kaap, asook die heerlike kos.

“Dit is ’n groot eer om die provinsie te verteenwoordig en ek hoop om sy mense trots te maak,” sê sy.

Sy het uitgevind sy is ’n finalis net voordat Le Clos na Tokio vertrek het.

“Ek dit gevier deur die oomblik met hom te deel, om ’n bietjie vreugde te gee aan sy reeds opwindende week wat voorgelê het.”

Van die kwessies wat sy wil aanpak indien sy Mej. SA word, is jeugwerkloosheid, onderwys en psigiese gesondheid.

Kaylan Matthews (25) van Gqeberha (Port Elizabeth), Oos-Kaap

Kaylan Matthews (25) van die Oos-Kaap. Foto: Indirect Media

Matthews, ’n student in menslike bewegingskunde by die Nelson Mandela-Universiteit, sê sy het verwag om die toptien te haal.

“Ek het vanjaar doelgerig vir Mej. SA ingeskryf. Ek was tevrede met my laaste onderhoud, sowel as die ondersteuning wat ek gekry het sedert ek my inskrywingsvideo gelaai het,” sê sy.

“Ek dink dit is belangrik om jou drome met vrymoedigheid aan te pak, maar ook met geloof.”

Sy wil graag aan alkohol- en dwelmmisbruik aandag gee.

“Dit bly algemeen in my gemeenskap en vererger soveel probleme wat ons land tans ondervind.”

Kgothatso Dithebe (26) van Centurion, Gauteng

Kgothatso Dithebe (26) van Gauteng. Foto: Indirect Media

Dithebe, ’n sake-eienaar en regstudent, sê sy het haar ouma se graf besoek toe sy hoor sy het die toptien gehaal.

“Ek is hier om vroue te bemagtig, om vroue te laat besef wat hul krag en vermoëns is. Ek is iemand met wie baie vroue kan identifiseer,” sê sy.

“Ek wil hê my stem moet gehoor word en ek wil hê dat vroue hulself in my moet sien. Mej. Suid-Afrika gaan nie net oor skoonheid nie, maar ook oor vrouebemagtiging. Vroue wat inskryf, is nie net mooi nie, maar slim en sterk.”

Sy gebruik graag die hutswoord #modelwithamark.

Lalela Mswane (24) van KwaSokhulu, Richardsbaai, KwaZulu-Natal

Lalela Mswane (24) van KwaZulu-Natal. Foto: Indirect Media

Dié model en danseres met ’n BA-graad in die regte het in Junie 2020 die Lalela Mswane-stigting begin. Die stigting het ten doel om jong Suid-Afrikaners uit minderbevoorregte agtergronde te ondersteun wat sukkel om hul volle potensiaal te bereik.

“Die stigting beoog om dit te vermag deur skenkings aan weeshuise te maak en mentorprogramme te skep wat daarop gemik is om begunstigdes toe te rus met die nodige gereedskap om te verseker dat hulle in hul gekose loopbaan slaag.”

Sy sê die onlangse onluste in haar provinsie was vir baie mense traumaties.

“Ek het nog altyd betogings ondersteun, maar net vreedsame betogings.”

Moratwe Masima (25) van Sandton, Johannesburg

Moratwe Masima (25) van Gauteng. Foto: Indirect Media

Masima is ’n gekwalifiseerde dokter wat met haar internskap besig is. Sy sê sy het ’n 24-uur-skof by die hospitaal voltooi toe sy die oproep kry dat sy die toptien gehaal het.

“Die inisiatiewe wat ek sal ondersteun, is die nieregeringsorganisasies met die naam Toys for Africa en DreamGirls. Ek het al met albei baie nou saamgewerk en wil graag voortgaan met die wonderlike werk wat hulle vir die gemeenskappe van Suid-Afrika doen.

“ ’n Ander een waarby ek graag wil betrokke wees, is Operation Smile. Ek sou baie graag my vaardighede as dokter wou benut om jong kinders met ’n gesplete verhemelte die geleentheid te bied om weer te kan glimlag.”

Tiffany Francis (22) van Mulbarton, Johannesburg

Tiffany Francis (22) van Gauteng. Foto: Indirect Media

Francis is ’n sake-eienaar, model en modeontwerpstudent.

“Ek wil bemagtiging deur vaardigheidsontwikkeling bevorder,” sê sy.

“Ons land beskik oor ’n onbeperkte hoeveelheid potensiaal en onontginde talent. Trouens, die hulpbronne wat nodig is vir die verbetering van die toekoms van Suid-Afrika word in die gedagtes en hart van ons mense ingebed.”

Sy sê sy wil mense se verwagting en uitkyk verander.

“Eerder as om afhanklik te wees van ander om deure vir ons oop te maak, moet ons ons eie deure bou.”

Zimi Mabunzi (26) van Qonce (King William’s Town), Oos-Kaap

Zimi Mabunzi (26) van Qonce in die Oos-Kaap en die publiek se gunsteling. Foto: Indirect Media

Mabunzi is ’n finalejaarstudent in die regte en is as die publiek se gunsteling aangewys. Sy het die meeste stemme verwerf uit die tienduisende stemme wat ontvang is.

Sy sê egter sy voel geen druk as gevolg daarvan nie.

“Wat dit vir my wys, is dat ek op die regte pad is,” sê sy.

Haar ma was ekstaties toe sy hoor sy het die toptien gehaal en het geskree: “Dankie, Jesus!”

“Ek probeer altyd my steun aan inisiatiewe bewys wat vroue bemagtig, veral inisiatiewe wat op die bekamping van geslags- en gesinsgeweld fokus,” sê sy.

“Een van my gunstelingorganisasies om te ondersteun, is Women for Change SA. Ek doen my bes om my stem aan hul werk te verleen en om hulle deur middel van hul geldinsamelings te ondersteun.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.