Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Herontmoeting tussen ougetroudes roer hartsnare

Die tasbare liefde tussen ’n egpaar wat al 52 jaar getroud is, roer die hartsnare van Suid-Afrikaners sedert ’n video van hul herontmoeting op sosiale media versprei is.

Andrew Hoskin (70) van Westridge, Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, is al twee weke lank in die distrikshospitaal in Mitchells Plain. Sy familie het nie gesê waarvoor hy in die hospitaal behandel word nie.

Weens die koronavirus kon hy egter nie besoekers ontvang nie.

Sy kinders en kleinkinders het Sondag na die hospitaal gegaan met ’n banier waarop staan “Hi Pa we love you”.

Gwendoline en Andrew Hoskin deel ’n intieme oomblik tydens ’n vroeëre fotosessie vir hulle, hul kinders en kleinkinders in die Westridge Tuine in Mitchells Plain.

Aldeano Hoskin (25), sy kleinseun, het Donderdag aan Netwerk24 vertel die idee was dat hulle die banier voor sy hospitaalvenster sou ophou sodat hy dit kon sien.

Gwendoline Hoskin (73), Andrew se vrou, het in een van die voertuie bly sit.

Maar by die hospitaal kon sy oupa nie lees wat op die banier staan nie omdat hy nie sy bril by hom gehad het nie.

“Die verpleegsuster het my oupa toestemming gegee om na buite te gaan. Sy het gesê hy het lanklaas vars lug gekry.”

Aldeano het ’n video gemaak van waar sy oupa na buite kom. Toe Andrew egter sien hoeveel besoekers hy het, wou hy omdraai en teruggaan na die saal.

Totdat hy om die hoek van die gebou loop en sy geliefde Gwendoline in die voertuig sien sit.

Op die video kan gesien word hoe Andrew in sy spore tot stilstand kom toe hy sy vrou sien. Die verbasing en blydskap op sy gesig is duidelik.

Hy slaan eers sy hande oor sy gesig en staan vir ’n paar sekondes gebukkend om sy emosies te beheer voordat hy na Gwendoline loop.

Sy sit in die voorste passasiersitplek. Hy omhels haar en gaan sit dan langs haar in die deur van die voertuig en soen haar innig.

Andrew Hoskin en sy vrou, Gwendoline, Sondag by die hospitaal waar hy behandel word.
’n Jonger Gwendoline en Andrew Hoskin.
Andrew Hoskin help sy vrou, Gwendoline. Die foto is Sondag met haar verrassingsbesoek aan hom geneem.
Die banier wat Andrew Hoskin se kinders en kleinkinders vir hom gemaak het.

Die liefde tussen hulle is tasbaar.

Aldeono sê die twee weke dat sy oupa nou in die hospitaal is, is die langste wat hulle die afgelope byna 30 jaar weg van mekaar was. Die vorige keer was 27 jaar gelede toe sy ouma in die hospitaal was ná ’n beroerte.

“Toe my ouma en oupa mekaar omhels en sy sy trane afvee, het sy vir hom gesê sy is baie lief vir hom. Dat hy nie bekommerd moet wees nie en dat die Here in beheer is.”

Aldeano het gesê sy grootouers is al die jare vir hul kinders en kleinkinders en ook ander familie “ ’n bron van inspirasie”.

“Wanneer ons na hulle kyk, sien ons ware liefde.”

Sy grootouers het 55 jaar gelede ontmoet. Dit was vir albei liefde met die eerste oogopslag. “My ouma het daardie dag vir haar vriendin gesê sy het haar trouman ontmoet.”

Hy het nie verwag dat die video wat hy van sy grootouers geneem het, soveel aandag sou kry nie.

“Toe ek weer sien, word die video gedeel en lewer mense kommentaar daarop. Mense het baie mooi boodskappe gestuur en gesê my grootouers se liefde vir mekaar is wat hulle ook hoop om eendag te hê. Een vrou het geskryf as ’n man haar nie so liefhet nie, wil sy nie trou nie.”

Volgens Aldeano is sy ouma net so verbaas oor die aandag wat die video kry. “My ouma het my gevra om almal te bedank vir hul mooi wense en het gesê dis net deur die genade van God wat hulle deurgedra word.”

Die video was teen Donderdag reeds meer as 306 000 keer gekyk en meer as 5 400 keer gedeel.

Meer oor:  Andrew Hoskin  |  Mitchells Plain  |  Kaapse Vlakte  |  Video  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.