Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: ‘Jerusalema’: Hofmense al lankal reg toe Cyril vra

Toe pres. Cyril Ramaphosa die land Woensdagaand herinner aan die komende Erfenisdag en aanmoedig om op die maat van die liedjie “Jerusalema” te dans, was die planne van die personeel van die Pretoriase landdroshof reeds agtermekaar.

Landdroste, aanklaers, veiligheidsbeamptes, klerke en tolke het toe alreeds vyf dae lank hul etenstye opgeoffer om hul danspassies vir Erfenisdag op dié liedjie met sy aansteeklike deuntjie te vervolmaak.

Brenda Seoposengwe, ’n senior-administratiewe klerk, neem die voortou in hofpersoneel van Pretoria se weergawe van die “Jerusalema”-dans. Foto: Hanti Otto

Hulle lag oor die toeval van Ramaphosa se oproep, terwyl hulle juis al hard aan die oefen was daarvoor. “Ek het mos die president se direkte WhatsApp-nommer gebruik om hom hiervan te vertel,” het Brenda Seoposengwe, ’n senior administratiewe klerk, met ’n knipoog gesê.

Volgens haar is sy ’n hoërisiko-geval wat die koronavirus betref en sy was meestal in isolasie. Daarbenewens moes die hofgebou die afgelope maande verskeie kere gesluit word vir ontsmetting nadat positiewe Covid-19-gevalle daar voorgekom het. Hoewel soms hortend weens die pandemie, het die personeel steeds die wa deur die drif bly trek.

Personeel van die landdroshof in Pretoria dans ter viering van Erfenisdag en as oorwinning oor die uitdagings wat die Covid-19-pandemie aan hofpersoneel gestel het. Foto: Hanti Otto

“En ons is almal nog hier. Daar was geen sterftes onder die hofmense nie. Ons is almal terug in een stuk. Ek het gevoel dit is iets wat saam met ons erfenis gevier moet word,” het sy gesê.

“ ‘Jerusalema’ is eintlik ’n geestelike liedjie. Dit is in ons kultuur om dinge te vier. Toe besluit ek ons moet die geleentheid aangryp.”

Streeklanddros Lynn Pillay het dit beaam en gesê sy en Seoposengwe het ’n Facebook-gesprek hieroor gehad.

“Die dans-uitdaging het na soveel pret gelyk en ons het besef ons het almal swaar tye en teleurstellings beleef. Hierdie dans sou spangees bou en die wêreld in aanloop tot Erfenisdag wys dat daar eenheid in (ons) verskeidenheid is,” het Pillay bygevoeg.

Aanklaers, klerke, tolke en landdroste het ná net ’n paar etenstye se geoefen die passies moeiteloos deurgedraf. Foto: Hanti Otto

Seoposengwe het toe verskeie video’s van die dans bestudeer en ’n dans uitgewerk wat net uit ’n paar passies bestaan, want, soos Pillay byvoeg, “party van ons het twee linkervoete”.

Daarna het meer as 30 personeellede sedert verlede week in hul etenstye bymekaargekom om die dans te leer.

Donderdag het almal werk toe gekom met ’n sak waarin ’n denim en platskoene was, sowel as iets tradisioneel.

Etenstyd het hulle by die vlagpaal bymekaargekom. Seoposengwe en Pillay het gesorg dat die dansers ver genoeg uit mekaar is sodat hulle hul maskers kon afhaal, “anders kan ’n mens nie energiek gedans kry nie”.

Personeel van die landdroshof in Pretoria se voete het sommer tjoef-tjaf die ritme van die “Jerusalema”-liedjie begin volg. Foto: Hanti Otto

Seoposengwe het hulle eers met groot gebare laat strek en “opwarm”. Toe volg ’n kort oefenlopie net om “die ritme te vang”.

Die voete het lewe gekry, die konsentrasie-fronse het verander na jillende en laggende monde en die windgat-agterop-skop het al hoe makliker gelyk.

Mense het by die dansers deur die hofgebou se vensters aangemoedig. Verbygangers het gestop, gelag en foto’s geneem.

“Wat ’n seëning is dit nie, om so saam iets te kan vier tussen ’n besige hofrol deur en al die opofferings wat die personeel moes maak,” het Pillay gesê.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Pretoria  |  Jerusalema  |  Landdroshof  |  Dans  |  Liedjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.