Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
KYK: Kinders se planne om virus te vang!

’n Video van vier boesemvriende van Klerksdorp wat ’n vurige gesprek oor die koronavirus voer, het sosialemediagebruikers in vervoering.

In die video gesels Miné Ernst (9), haar boetie, Pieter (7), en hul maats Ntumisang Mokgotu (12) en Katlego Dladla (11) vlot in Tswana by ’n tafel voor hul pophuis oor die virus wat die lewe vir Suid-Afrikaners in ’n ommesientjie verander het.

Op hul teeparty – met Pieter in ’n blou rok en ’n geel bril vir die geleentheid geklee – beraam die maats allerlei planne om hul geliefde Suid-Afrika van dié nare virus te red.

Eers sê Miné in Tswana: “Sien jy hierdie koronavirus? Ons gaan hom doodmaak,” waarna Pieter haar in die rede val en sê: “Ons moet hom in die aand doodmaak.” Hulle wil ’n baksteen en ’n hamer inspan.

Miné klap haar hande saam en sê: “Ons gaan die virus só vang en dan gaan ons na die virus kyk.”

Miné en Pieter verduidelik dan saam aan hul maats dat die virus blou en rooi van kleur is en dat hy ’n “hutse”, ’n hoed, dra.

Miné wys dan hoe hulle die virus met ’n flits gaan vang. “As ons so gaan loop en loop, gaan ons hom vang en dan vat ons hom en ons kyk hom só en sê: ‘Vir jóú, vir jou gaan ons doodmaak.’ ”

Miné en Pieter sê dan vat hulle bakstene en hamers en slaan die virus dood.

“Dat hy uitgaan uit Suid-Afrika uit.”

Die bekkige kleingoed van Klerksdorp vermaak die land met hul stories in Tswana en Afrikaans. In hul jongste video gesels hulle land en sand oor hoe hulle die koronavirus gaan doodmaak. Van links is Onkarabetse Dladla (6), Ilné Ernst (5), Teko Mokgotu (7), Pieter Ernst (7), Ntumisang Mokgotu (12) en Miné Ernst (9). Hier is hulle vandeesweek op ’n partytjie terwyl hulle in afsondering op die plaas is.Foto: Facebook

Katlego, wat nie so oortuig is van die plan nie, vra: “En wat as hy dan daar uitmekaar oopbars? Wat dan?”

Miné, wie se planne nooit opraak nie, antwoord dadelik: “Dan suig ons hom op met ’n suigmasjien.” Die “suigmasjien” pop sommer in Afrikaans uit in die Tswana-gesprek.

Katlego vra dan of ’n wasmasjien nie beter sal werk nie, waarop Miné protesteer: “Nee, ’n suigmasjien!”

Miné verseker Katlego dat die virus nie sal breek nie en dat dit beter is om die virus met ’n suigmasjien op te suig.

Katlego vra dan vir Miné hoe die reëls werk oor mense wat hul hande moet was.

Miné verduidelik dan dat jy jou hande “staaadig vir 20 sekondes moet was terwyl jy ‘Happy Birthday’ drie keer sing.”

Rika Ernst, Miné en Pieter se ma, sê die koronavirus het selfs die kinders bekommerd en hulle was besig met dié ernstige planberaming toe sy hulle daaroor hoor praat en dit op video vasgelê het. Sy sê die kinders wil in hul onskuld hul geliefde land en sy mense net van die virus red en sy hoop dat die video hoop en ’n glimlag na alle Suid-Afrikaners in die huidige donker tye sal bring.

Die video is al meer as 5 300 gekyk en meer as 300 keer gedeel.

Meer oor:  Klerksdorp  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.